Elektriese busse eerste vir SA universiteit

Die twee nuwe elektriese busse (Foto: UJ)

Groot opwinding heers by die Universiteit van Johannesburg (UJ) nadat die universiteit amptelik sy nuwe elektriese busse bekend gestel het. Dit is ʼn eerste vir ’n Suid-Afrikaanse universiteit.

Een van twee oranje en wit geverfde elektriese busse het Dinsdagoggend van die Auckland Park Kingsway (APK)-kampus in Johannesburg na een van die universiteit se buitekampus-lokale in die stad gereis. Lede van die universiteit se uitvoerende leierskapgroep was op dié busse.

Anders as die dieselaangedrewe eweknieë stel dié busse geen giftige dampe vry nie en produseer baie laer koolstofvrystellings. Die busse is die jongste innovering in UJ se voortdurende pogings om die koolstofvoetspoor te help verklein.

Dr. Nolitha Vukuza, senior uitvoerende direkteur van UJ se universiteitsbetrekkinge, studentesake en sport, was een van die passasiers en het gesê dat die bekendstelling van die busse ʼn dag van feesviering was.

“My ervaring van die busrit was nogal vreemd. Ek was nog nooit voorheen op ʼn elektriese bus nie,” vertel hy.

Visekanselier en rektor prof. Letlhokwa Mpedi (Foto: UJ)

Masego Panyane, woordvoerder van die universiteit, sê die busse kan met die eerste oogopslag – en op ʼn afstand – die indruk skep dat dit ʼn gewone bus is. “Maar dit is eers as jy opspring dat jy besef jy het inderdaad die vierde industriële rewolusie betree,” sê Panyane.

“Die bus maak omtrent geen geraas nie. Die hardste klank is die geraas van die lugversorgingstelsel. Elke bus het ʼn kapasiteit van 76 passasiers, met 57 sittende en 19 staande.

“Vir ekstra veiligheid is die busse toegerus met geslotekringtelevisiekameras (CCTV) en stopknoppies. Die stopknoppies maak kommunikasie met operateurs makliker, aangesien passasiers die bestuurder se aandag kan trek sonder om opdringerig te wees wanneer hulle hul bestemming nader. Wat bydra tot die hoëtegnologie-ontwerp van die busse is dat dit toegerus is met USB-laaipoorte sodat passasiers gerieflikheidshalwe hul toestelle aan die gang kan hou terwyl hulle op die busse is.”

Panyane sê dit verg minstens vyf en ʼn half uur om ʼn bus se batterye ten volle te laai. Dit sal die bus dan in staat stel om soveel as 350 km af te lê. Daar is tans twee laaipunte vir die busse, een op kampus en een by die busdepot.

“Benewens die besparing aan brandstofkoste sal die busse in hul lewensduur van 15 jaar ook minder onderhoud as hul diesel-eweknieë nodig hê.

“As gevolg van die hoëtegnologie-aard van die elektriese busse, en spesifiek as gevolg van die nuwe tegnologie waarmee hulle kom, word daar in die vooruitsig gestel dat bestuurders heropgelei sal word in hoe om hierdie vloot te hanteer.”

‘Verminder die koolstofvoetspoor’

UJ het die afgelope paar jaar strategiese stappe gedoen om sy volhoubaarheidsvoetspoor te verbeter.

Prof. Andre Nel, spesiale projekraadgewer by die UJ, vertel die universiteit het meer as 18 maande gelede begin om daarna te streef om sy koolstofvoetspoor te verklein.

“Ná die aanbring van ʼn groot aantal sonpanele was een van die volgende vrae hoe die universiteit sy koolstofvrystellings verder kan verminder. Die antwoord was om ons vervoermetodes aan te pas,” verduidelik Nel.

“Vervoer maak ongeveer 4,5% van UJ se voetspoor uit en ons grootste behoefte was om hierdie persentasie te verklein.”

Op die vraag oor hoe die busse tydens beurtkrag gelaai sal word, het dr. Mpoti Ralephata, UJ se bedryfshoof, gesê 15% van UJ se energie kom van sonkrag, wat genoeg is om die busse aan te dryf.

“Ons sal meer as vyf uur per nag beurtkrag moet hê om ʼn impak te hê wanneer die busse oornag gelaai word,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Nici ·

Koolstofvoetspore is SA se grootste probleem. Kom ons hoop maar dat daar genoeg steenkool is om gebrand te word om die ‘groen’ bus se battery te laai sodat almal baie goed kan voel oor omgewingsbewustheid.

Truman Burbank ·

Koolstofvoetspore is nie die grootste probleem. Earth friendly fanatical tree huggers is. Vandat alles earth friendly geword het, is daar meer siektes as ooit

Joggie ·

Ongelooflikke onkunde! Hoe word die krag opgewek om die battery te laai? Deur steenkool iewers anders te verbrand!

Snowball ·

Vra di! Kragpunte word seker gelaai met generators wat op diesel loop. Bwhahaha..

Vonkprop ·

Ek sien moeilikheid kom as hierdie busse brand gesteek word tydens stakings. Batterye is uiters vlambaar en ontploffings is groot. Eerste wêreld tegnologie werk nie in SA nie.

George ·

Gebruik diesel generators om die charging point te laat werk:)

Bulkalf ·

Sal meer bly as gly, en as hulle dan nie gly nie.
Wonder ek of die busse stadiger sal brand as hulle diesel ewekniee?

skurweberg ·

Protocol in die Skryf van berigte is van vandag AF ook vir lesers belangrik.

Nommer 7 ·

Die koolstofspoor vir die vervaardiging van ‘n lithium battery vir ‘n elektriese motor is diedelfde as ‘n binnebrand motor wat 60,000 km afle. Batterye vir busse nog baie meer. Batterye is nie so groen as wat daar voorgegee word nie. Dan moet dit nog een of ander tyd herein word ook.

Atta ·

Daar was. Seker van lank voor die 70’s al was daar elektriese dubbel-dekker busse in Johannesburg. Hulle het krag gekry van oorhoofse kabels, amper soos die elektriese treine.

Elma ·

Prop julle die busse erens by n boom in of laai julle met elektrisiteit. Die busse gaan mos net staan en vergaan in hierdie land. Ook maar lekker stupid.

Elméne ·

So ek wonder nou maar net???? Indien die bus van Johannesburg na die Kaap moet gaan, HOE lank gaan die rit neem as die bus elke 350km vir 5 en ‘n halfuur moet staan om die battery te laai??? Oee nee, (en o ja, kom ons veronderstel dat daar GEEN loadshedding op die pad gaan wees nie) Nei, ek dink en “skip” maar hierdie geleentheid!!

Pietertjie ·

Die busse se koolstof-vrystelling was gedoen toe die busse en hulle batterye vervaardig is. Verder dra hulle by tot koolstof-vrystelling deur die batterye met eskom-krag te laai. Slytasie van die bande besoedel ook. Ook wanneer die batterye oor ‘n paar jaar vervang moet word. Skoon, maar gladnie só skoon as wat dit op die oog af lyk nie.

Kattebol ·

Die elektriese kabels en batterye Sal spoedig verdwyn…

Atta ·

Ten minste kan die studente en proffies baie goed voel oor hulleself wanneer hulle nie meer die stink rook in asem nie. Gelukkig is dit nou die “plêbs” wat naby die kragstasies bly se “voorreg”.

(Ek wonder wat is goeie Afrikaans vir “virtue signaling”?)

Gawie ·

Net jammer dat Eskom nie krag kan voorsien om die batterye te laai nie . . . . .
Dan moet hulle kragopwekkers laat loop wat maar net weer dieselfde koolstofvoetspoor (of groter) gaan hê.
Maar ten minste doen hulle darem iets in die regte rigting.

Patch ·

Ek lag my ‘n papie…elektriese busse maar SA het skaars krag.

Nie Verbaas ·

Elektriese busse met ons kragnetwerk? Hoe lekker lag ek nou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.