Elektrisiën kry tweede kans met hartpomp

Johan van Wyk is tien jaar gelede met hartversaking gediagnoseer (Foto: Verskaf)

“Jy besef nie altyd hoe geseënd jy is totdat jou gesondheid van jou af weggeneem word nie.”

Só vertel die 38-jarige elektrisiën, Johan van Wyk, wat tien jaar gelede met hartversaking gediagnoseer is en aan die begin van die jaar weer erg met sy gesondheid begin sukkel het.

Dié eggenoot en pa het ʼn tweede kans op die lewe gekry nadat dokters twee maande gelede ʼn nuwerwetse meganiese hartpomp in sy bors ingeplant het. Hy is die eerste persoon in Suid-Afrika om só ʼn toestel te ontvang.

Van Wyk en sy familie was platgeslaan toe sy gesondheid aan die begin van die jaar aansienlik agteruitgegaan het. Hulle het toe reeds maande lank vir ʼn skenkerhart gewag.

“Johan kon egter nie meer wag nie. Sy hartversaking het breekpunt bereik en ons kon nie ʼn geskikte skenkerhart vir hom kry nie,” vertel dr. Willie Koen, wêreldbekende hart-en-oorplantingchirurg en pionier van inplanting van ventrikulêre harttoestelle (VAD) in Suid-Afrika. Koen voer al die afgelope 20 jaar VAD-inplantingsoperasies uit.

Koen het op 18 Junie die hartchirurg, dr. Loven Moodley, bygestaan tydens ʼn prosedure waar ʼn klein toestel, bekend as die Abbot HeartMate 3 LVAF- linkerventrikulêre harttoestel langs Van Wyk se hart ingeplant is. Dié prosedure is in die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad uitgevoer.

“Die toestel vervang die funksie van die verswakte hartspier en pomp die bloed deur die liggaam om voldoende bloedsirkulasie te verseker. Voorheen is hierdie soort toestelle hoofsaaklik as ʼn tydelike uitweg ingeplant om ʼn pasiënt aan die lewe te hou totdat ʼn hartoorplanting uitgevoer kon word. Tegnologiese vooruitgang het egter die lewensduur van hierdie toestelle verleng en dit kan nou as ʼn moontlike langtermynoplossing vir hartversaking gebruik word.”

Koen sê om skenkerharte tydens die Covid-19-pandemie te vind, was byna ʼn onbegonne taak. Met hartoorplantings is daar boonop die ekstra kommer dat pasiënte op immuunonderdrukkers moet wees en daarom meer kwesbaar is vir die ontwikkeling van ernstige Covid-19-komplikasies. “Immuunonderdrukking is egter nie nodig vir die inplanting van ʼn meganiese hartpomp soos dié nie.”

Die toestel wat in Van Wyk se bors ingeplant is, word deur ʼn aandrywingslyn wat deur die maag steek aan ʼn kontroleerder en ʼn battery buite die liggaam gekoppel. Die toestel het verskeie laai- en battery-opsies. Die toestel neem ook kliniese data op, wat die behandelende spesialis benodig om die toestand van die pasiënt van ʼn afstand af te monitor.

Die toestel is elektronies en mag ook nie nat word nie. Van Wyk kan dus nie bad of swem met die toestel nie.

Van Wyk en sy gesin is deur ʼn emosionele tyd.

“Dit was ʼn skok om op só ʼn jong ouderdom vas te stel dat ek aan ʼn hartkwaal ly. Maar ek glo die Here sal jou nie in ʼn situasie plaas wat jy nie kan hanteer nie. Ons neem dinge dag vir dag,” sê Van Wyk.

Van Wyk sê terwyl hy siek was, het hy dit gemis om tyd in die natuur deur te bring.

“Ek is baie lief vir stap en het graag 10 km tot 15 km gestap voordat my hart begin verswak het. In die maande voordat ek vir die operasie gegaan het, het ek ná enkele treë uitgeput geraak.

“Dit is net twee maande sedert ek die meganiese hartpomp laat inplant het, en ek kan reeds een of twee kilometer loop. Ek voel meer energiek en kan agterkom ek doen weer dinge wat my liggaam voorheen nie in staat was om te doen nie.”

Volgens Koen is hartversaking ʼn progressiewe toestand, en in Van Wyk se geval het dit ʼn stadium bereik dat dit ʼn groot risiko vir sy lewe ingehou het. Sulke pasiënte moet dikwels herhaaldelik teruggaan na die intensiewesorgeenheid omdat hul gesondheid vinnig verswak.

“Ek is baie bly hierdie nuwe harttoestel was beskikbaar toe Van Wyk dit nodig gehad het. Daar is hoop dat die jong man weer ʼn goeie lewensgehalte en nog baie jare saam met sy gesin sal hê, selfs al kry hy nie ʼn skenkerhart nie.”

Volgens Koen werk dokters reeds aan verbeterings aan hierdie soort harttoestelle. Hy hoop dat dit binnekort moontlik sal wees om die toestelle heeltemal in die borskas van pasiënte in te plant, tesame met al die nodige komponente en batterye.

Dr. Louis van der Hoven, hoofbestuurder van die hospitaal, het Koen en sy mediese span geprys vir hul baanbrekerwerk.

“Prosedures soos dié demonstreer die lewende nalatenskap van die bekende hartchirurg, prof. Christiaan Barnard, in ʼn tyd van vinnige tegnologiese vooruitgang. Namens ons almal in die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal wens ons Van Wyk alle sterkte toe vir sy volgehoue herstel,” het Van der Hoven gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Louwrens

Sterkte vir jou, mag jy springlewendig en goed gesond word.

Jasper

Dit lyk vir my die van Wyk mense is baie ongelukkig die laaste week of twee het ek gereeld gehoor van ‘n van Wyk persoon wat een of ander probleem gehad het maar sterkte Johan hoop jy gaan van krag tot krag.

Johannes

Seen en voorspoed vir jou gebid

Jax

Baie sterkte Johan. Ek het egter n aantal dinge om kwyt te raak oor orgaan-oorplantings. Na orgaan-oorplanting is jy vir die res van jou lewe op n berg pille en moets en moenies. Dit het n reuse impak in jou lewe. Ek het eerste handse ondervinding van n orgaan-oorplanting. Die vraag wat mense my vrae is: as jy geweet het wat jy nou weet, sal jy gegaan het vir die or gaan-oorplanting? Nee! Sal ek weer deur n orgaan-oorplanting gaan? Nee. Sal jy dit aanraai vir selfs jou ergste vyand? Nee.Met my oorplanting is ek in n blik gedruk gewees… Lees meer »