Elektrisiteit: Betaal jy te veel vir jou koopkrag?

Argieffoto

Argieffoto

Deur Stefan Pieterse – Nasionale Woordvoerder AfriSake

Huurders van deeltitel-eenhede in sekuriteitskomplekse en sakelui wat ruimte in kantoorblokke huur, se kragrekenings word dikwels deur herverkopers van elektrisiteit oorverhaal, sonder dat hulle daarvan bewus is, of weet wat om daaraan te doen.

Dit is die mening van Stefan Pieterse, AfriSake se woordvoerder. Volgens hom bepaal bykans alle huurkontrakte dat huurders verantwoordelik is vir die betaling van elektrisiteit, maar dit bepaal nie presies of enigsins hoe die tarief bereken word nie. Volgens Pieterse moet huurders ook, waar koopkragmeters (“Prepaid”) geïnstalleer is, eenvoudig betaal, of eenvoudig in die donker sit.

Goeie nuus

Die goeie nuus is dat herverkopers van elektrisiteit (wat tot dusver grotendeels ongereguleerd was) nou ingevolge die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se riglyne moet optree – ʼn eerste stap van Nersa om die bedryf voortaan te reguleer. Die riglyne stel dit duidelik dat verbruikers onregmatige oorverhalings deur siviele regsaksie kan verhaal, en bepaal ook dat verbruikers nie slegter af mag wees as diegene wat krag direk van die plaaslike lisensiehouers, naamlik die munisipaliteit of Eskom, koop nie.

Herverkopers moet ook voortaan by hul gelisensieerde plaaslike kragverspreiders, dit is die munisipaliteit of Eskom, registreer en ʼn diensvlak-ooreenkoms met die verspreider aangaan. Hulle moet ook die vermoë hê om op versoek van die eindverbruiker die elektrisiteitsmeter te toets wanneer nodig.

Herverkopers: Waneer, waar en hoekom?

Daar is geen twyfel dat herverkopers ʼn belangrike rol speel in die voorsieningsketting nie, veral omdat munisipaliteite toenemend by eiendomsontwikkelings krag net tot by die grensdraad gebring het. Hulle verskaf dus die krag by een punt op ʼn erf en die ontwikkelaar installeer die interne vespreidingsnetwerk na die individuele eenhede, hetsy dit kantore, winkels of residensiële eenhede is.

Ná die ontwikkelingsfase word die eiendom gewoonlik oorgedra na een nuwe eienaar, of verskeie eienaars van eenhede en ʼn beheerliggaam bestaande uit al die eienaars saam, wat verantwoordelik is vir die bestuur van die gemeenskaplike gebied.

Die eienaar van die kompleks of beheerliggaam kontrakteer dikwels die bestuur van die kragstelsel en die rekeninge, of net die rekeninge, uit aan ʼn derde party wat op die gebied spesialiseer, naamlik die herverkoper.

Hy kry die grootmaatlesing van die munisipaliteit en moet sorg dat dit korrek verdeel word volgens die korrekte meterlesings van elke eenheid plus elke eenheid se proporsionele deel van die kragrekening vir die gemeenskaplike gebied.

Verskeie groot eiendomsgroepe, eiendomsbestuursmaatskappye en herverkopers het geweldig baie kundigheid opgebou om die taak professioneel te kan verrig. Daar is egter ook talle kleiner rolspelers wat opportunisties is en onregmatig baie wins maak uit die herverkoop van elektrisiteit.

Eric Bott, tegniese direkteur van Energy Measurement Consulting (EMC) wat namens kliënte, onder wie groot kleinhandelgroepe, ondersoek instel na hul kragkoste, het in een klein kantoorblok ʼn oorverhaling van 30% by een eenheid en ʼn onderverhaling by ander eenhede gevind. Hy sê oorverhaling by winkelsentrums is ook aan die orde van die dag.

Grootmaattariewe

Die meeste metrorade het deesdae ʼn spesiale tarief waarteen herverkopers grootmaatkrag by hulle kan aankoop. Dit is ʼn afslagtarief wat vir hulle ruimte laat om wins te maak wanneer hulle teen die bestaande munisipale kleinhandeltariewe aan eindverbruikers krag verkoop. Nersa bepaal pertinent dat sulke herverkoperstariewe herverkopers in staat moet stel om te kan wins maak.

In ander munisipaliteite kan herverkopers krag aankoop teen grootmaattariewe wat beskikbaar is vir kommersiële en industriële kliënte en dit herverkoop teen dieselfde tarief wat van toepassing is op die munisipaliteit se eindverbruikers.

Wenk: Herverkopers mag niks by die plaaslike Nersa-goedkeurder-kragtariewe byvoeg nie. Dié tariewe, asook die volledige riglyne, is op die Nersa-webblad beskikbaar.

Dit beteken: Herverkopers mag sekere koste, soos instandhouding van die eiendom en die administrasie van hul kontrakte, met eindverbruikers verhaal, maar dit moet deur die heffings (byvoorbeeld deeltitelheffings) gedoen word, en nie deur jou kragtarief nie.

Jou rekening: Die reguleerder gee nou duidelike voorskrifte van die inligting wat op eindverbruikers se rekeninge of in die geval van voorafbetaalde krag op hul kwitansies moet verskyn, ten einde hulle in staat te stel om hul rekeninge te verstaan en indien nodig te bevraagteken. Jou rekening moet die volgende inligting bevat:

  • Hoeveelheid kWh verbruik,
  • Tarief per kWh,
  • Rekeningperiode,
  • Totale bedrag verskuldig in rand,
  • Telefoonnommer en e-posadres van herverkoper.

Voorafbetaalde krag (“Prepaid”)

Uiteensetting van die koste wat teen die Nersa-goedgekeurde tarief gehef moet word.

Volgens Pieterse moet verbruikers eerstens klagtes by die herverkoper aanmeld, dan by die betrokke munisipaliteit, en laastens aan Nersa, het Pieterse gesê. “Dit is ook belangrik om ʼn goeie papierspoor te hê as die geskil later voor ʼn tribunaal of die hof beland.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Liza ·

Goeie nuus! Daar is mense wat R2-50 per eenheid betaal van die eerste eenheid gebruik af, waar ander wat direk van die munisipaliteit koop maar 68c vir die eerste 50 eenhede betaal en daarna eskaleer die tariewe. Goeie nuus vir hierdie verbruikers!

Wiebo ·

Ek koop krag deur Unipin. Het nou al n paar keer probleme ondervind, en dan se Unipin ek moet Prepaid Meters kontak. Prepaid Meters kon my nog nog nooit help nie, net eish, e ee ee, en dan het ek al meer as 20 minute aangehou. Het enige iemand al so n probleem ondervind, en wat kan n mens doen? Unipin wat die vouchers verkoop, haal net hul skouers op en vat geen verantwoordelikheid nie….

Rynhardt ·

In 2012 het ek destyds vir Sake24 gese dat ons word deurboor met koopkrag, want jy betaal meer terwyl jou eenhede net al hie minder raak.Kom ek gee n eenvoudige voirbeeld.Jy koop R160 se koopkrag en kry 91eenhede! Jy sal sien dat wanneer jy al jou strokies hou, sal jou eenhede net minder wees as die fortuin wat jy maandeluks spandeer op koopkrag.Groot bedrog heers by Eskom! Ons mense wil nie baklei nie, en aanvaar net alles terwyl vet parasiete net nog vetter raak!!!

vermeende ·

Eskom en die verspreiders van krag melk die verbruiker.
Ek gebruik R350 se krag/maand maar my rekening begin op R1750.
As ek geen krag gebruik nie dan moet ek nog steeds R1750 betaal.

janine ·

Ons het in Beyerspark in ‘n komplex gewoon.Ons het ook van Prepaid gebruik gemaak.Die komplex se krag was afgesit weens wanbetaling deur die eienaar.Die sogenaamde vriend van die eienaar wat die meters ingesit her was nooit beskikbaar nie.Toe kom ons agter die eienaar ontvang ‘n gewone kragrekening en ons gelde van one meters was vir hul gerief gebruik.Toe onsLandis +gyr bel was dit een van hulle vele meters wat foutief was en afgeskryf was. Wie is hierdie 3de party want dit is die grootste korrupsie wat ek in my lewe teegekom her.Baie Geluk DAT die problem hopelik uitgesorteer word en diie korrupte betrokkenes vasgevang en strafregtlik beboet word.Dit was ook nie die eerste keer wat dit gebeur her nie families her dieselfde trap afgetrap.

R ·

Ek het met groot verligting die artikel gelees. Dieselfde probleem het ook met ons gebeur.
Ons het plek gehuur deur ‘n verhuringsagent en is aangese dat ons slegs die krag by die verhuringsagent mag koop. Natuurlik het hy ook sy geld bygesit en ons het baie meer vir krag betaal. Toe verhuringsagent daaroor gepols word, word daar eenvoudig net gese dat dit is hoe dinge by hulle werk. Ons het ook te veel betaal vir krag en partykeer minder as die helfte krag wat ons betaal het, vanaf die verhuringsagent ontvang. Skriftelike bewyse kan gelewer word. Kwansuis kry hy net 20 sent op elke “unit” wat gekoop word, maar hulle lewe in weelde. Weereens die spreekwoord, hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê!!!!!! Arme huurders trek altyd aan kortste end veral as jy slegs jou krag net deur die verhuringsagente mag aankoop. Jy kry nie eers ‘n pin om self te gaan koop nie!!

Ploumie ·

Waarom moet sekuriteitskomplekse ‘n vaste maandelikse tarief betaal wat tans R 515 + is. Wat dit meer belaglik maak is die feit dat of die kompleks 5 of 500 wonings het bedrag bly dieselfde en dan moet die voorafbetaalde krag per eenheid gelaai word om die bedrag op te maak. Aanvanklik is gesê dit is ‘n drie fase heffing, maar daar is geen 3 fase krag binne die komplekskomplekse . Die fases word verdeel groepe huise per fase

Sparkie ·

Elke muniseplaiteit het sy eie tarief struktuur Meeste herverkopers volg al n geruime tyd die riglyne en het juis gevra vir die regulasie.

Snoefie ·

Ons kan nie by eskom gaan krag koop nie, daarom behoort ons nie te betaal vir die herverkoper se uitgawes nie. Ek kan buitendien ook nie insien hoekom mens by die munisipaliteit krag moet koop as die geld nie aan Eskom oorbetaal word nie. Hoekom kan ons nie by die otm krag direk van Eskom koop nie? Suid Afrika trek swaar en elke sent wat ons kan spaar is welkom

vlooi ·

hoekom verskil die prys van krag van dorpe tot dorpe en van lokasie tot wit buurt? n eenheid krag gaan net so very in enige buurt. ek dink ongeag die buurt of fase moet n eenbeid krsg die selfde prys wees of dit in waterkloof eetsterus of bosbokrand is EEN EENHEID EEN PRYS.

Jessica ·

I pay around R1500-00 a month on UNIPIN it’s very costly, no heaters on, no tv on, dont’t cook everyday , and know one can assist to say why the meter run’s out so quick. WTF

Dabo (D H Botha) ·

As verhuurder van tuinwoonstelle was ek genoodsaak om na voorafbetaalde krag oor te skakel weens gereelde wanbetalings vir die krag wat gebruik word. Die aankoop en installasie van die sub meter is vir my as verhuurder se koste, Wat die koste per eenheid vir die huurder opstoot, is die administrasiefooi wat deur die agentskap gehef word en dat die agentskap ook weer BTW hef terwyl ek as eienaar ook aan die munisipaliteit BTW moet betaal. Daar word dus dubbel BTW betaal wat die koste met tenminste 20 -25% per kw.eenheid verhoog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.