Elf jaar ná Anika Smit se moord: ‘Iemand moet iets weet’

Elf jaar later is Anika Smit se moord steeds onopgelos.

Elf jaar ná die opspraakwekkende moord op Anika Smit, ʼn 17-jarige skoolmeisie van Theresapark in die noorde van Pretoria, is die raaisel oor haar moord oënskynlik nie veel nader daaraan om opgelos te word nie.

Anika se pa, Johan, het op 10 Maart 2010 op haar geskende liggaam in hul huis in die noorde van Pretoria afgekom. Die jong meisie se hande is albei afgekap en dit is steeds nie gevind nie. Sy is seksueel aangerand en daar was verskeie steekwonde aan haar liggaam. Oor wie verantwoordelik was vir die grumoord, is daar egter tot vandag geen uitsluitsel nie.

Daar was oor die jare omtrent net soveel vrae oor die raaiselagtige moord as wat daar teorieë is oor wat gebeur en wie verantwoordelik is.

Anika was destyds ʼn gr.11-leerder aan die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria-Noord toe sy vermoor is. Sy het by haar pa gewoon en was op die noodlottige dag tuis omdat sy siek gevoel het. Johan Smit het ná werk tuisgekom en vergeefs na sy dogter geroep. Hy het haar in haar slaapkamer dood aangetref.

Nico Venter, Anika se ekskêrel, is sowat twee maande ná haar moord in hegtenis geneem, maar die aanklagte teen hom is teruggetrek.

In 2014 is ʼn geregtelike doodsondersoek (GO) van stapel gestuur in ʼn poging om vas te stel of enigiemand wél vir haar dood verantwoordelik gehou kan word nadat die polisie se ondersoek ʼn dooiepunt bereik het. In ʼn GO is daar geen beskuldigdes nie, maar ʼn proses word gevolg om te bepaal of enigiemand vir die dood aanspreeklik gehou kan word.

Verskeie belanghebbendes is by die saak betrokke en elkeen van hulle het hul eie regsverteenwoordiger.

Belanghebbendes in dié saak sluit in Anika se pa, haar ma Charlotte Eksteen, Damian Treeby (hy was destyds saam met Anika op skool), André (Smiley) van Wyk (ook ʼn skoolmaat, en wat aanvanklik bely het hy het Anika vermoor, maar dit later ontken het) en Venter.

Emosionele marteling

Johan Smit het die afgelope week in ʼn boodskap op ʼn Facebook-groep, ter herinnering aan Anika, geskryf ʼn “bose persoon” het elf jaar gelede haar lewe geneem.

“Die moordenaar loop steeds vry rond.”

Hy sê Anika sou in Julie vanjaar haar 29ste verjaardag gevier het. “Ek loop soms van haar vriendinne raak wat al getroud is, wat al kinders het – en dan voel ek die gemis verskriklik erg. Anika was my enigste kind. Wie ook al haar lewe geneem het, het baie meer as dit weggevat.”

Op haar verjaardag steek hy kerse aan en sit ʼn bos blomme in die huis neer. “Op die moorddag doen ek dit nie. Dit is vir my ʼn bose dag en ek vier dit nie.”

Smit sê ook die uitgerekte saak beteken dat hy nog nie berusting kon kry nie.

“Dit is amper soos emosionele marteling. Ek sal nooit afsluiting kry voor ons nie weet wie die moordenaar is nie; maar ek moet ook rus en vrede vir my siel probeer kry. Weens die ondersoek wat so uitgerek is, vind ek geen berusting nie.”

Hy sê dat mense soveel jare ná die voorval ook nie meer soveel besonderhede kan onthou nie en moontlik onakkurate antwoorde kan gee. Oor die destydse ondersoek sê Smit die mens of mense wat Anika vermoor het, was vermoedelik ʼn geruime tyd ná haar dood steeds in die huis – en het moontlik heelwat tyd gehad om die toneel skoon te maak en bewysstukke te verwyder. Dit kon die polisie se ondersoek moontlik bemoeilik.

“Dit is nou elf jaar later en ek glo nie iemand het ʼn idee wie Anika vermoor het nie. Ek dink almal tas maar net in die duister rond.

“Ek dink die Here gee my krag, anders sou ek nie hierdeur kon kom nie.”

‘Iemand moet weet’

Adv. Corrie Nieuwenhuys tree op namens Van Wyk en Treeby.

Hy het vandeesweek, op die elfde herdenking van Anika se dood, in ʼn boodskap op Facebook oudergewoonte gepleit dat enigiemand met inligting oor die gebeure na vore moet kom.

Nieuwenhuys sê die wiele van geregtigheid draai stadig, maar hy glo die antwoorde is êrens.

“Iemand moet iewers weet wat gebeur het. Iewers dink iemand dalk, ‘ek kan nie meer hiermee saamleef nie’. Kom na vore, en sê wat gebeur het,” pleit hy. “ʼn Mens moet realisties wees, maar jy moet ook hoop.”

Die GO na Anika se dood is al sowat vyf jaar lank aan die gang en die lys belanghebbendes by die saak het deurlopend toegeneem. Nieuwenhuys sê dit beteken die proses is uitgerek, maar dit beteken nie daar word nié vordering gemaak nie.

Die saak is in Augustus 2019 onbepaald uitgestel en geen datum om die ondersoek te hervat, is nog vasgestel nie.

Maroela Media het ʼn navraag aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gestuur oor wanneer die saak hervat gaan word en waarom dit nog nie gedoen is nie en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

As ek reg kan onthou was sy befriend met ‘n polisievrou by forensics.Haar pa is kaptein by die valke.Hy was inbesit van fotos van die moordtoneel.Dokumente is uit die dossier verwyder.Al manier hoe hierdie raaisel opgelos gaan word is as iemand wat iets weet praat.Hoekom was sy spesifiek daai noodlottige dag siek.Sy her ‘n afspraak gehad met iemand en daai persoon wou meer gehad het as wat sy wou toelaat.Hy her haar verkrag,sy het terug baklei en hom moontlik gekrap en toe vermoor hy haar verwyder haar hande om DNA te verbloem.Maar wie was daai persoon en hoekom was die honde toegemmak.

Deon ·

Alle alle sterkte aan haar mense wat vir haar omgee… Ek verstaan nie die “GO” ding nie, lees ek verkeerd of kyk hulle nou of sy wel vermoor is al dan nie? Ek is doodseker daarvan dat geen persoon haar/homself kan dood steek en dan daarna haar/sy eie eie hande afsny en dan daarvan ontslae kan raak nie….

johanf ·

Dit is hoe ek dit ook lees……. Ek weet wragtig nie wat om te dink nie.
Weereens simpatie aan haar naasbestaandes, iemand was en is te slim vir die GO….!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.