Elf ‘renosterstropers’ vas; 6 horings gevind

Die renosterhorings wat gevind is. Foto: SAPD

Die renosterhorings wat gevind is. Foto: SAPD

Elf vermeende stropers is Vrydag in Mpumalanga, in hegtenis geneem in verband met verskillende voorvalle van renosterstropery.

Die Kruger-wildtuin het in ʼn verklaring gesê ses verdagtes is Vrydag in die Malelane-gebied buite die wildtuin in hegtenis geneem. Volgens die verklaring is beslag gelê op ʼn hoë-kaliber vuurwapen en ammunisie.

Intussen is nog drie vermeende renosterstropers Vrydag in die Satara-gebied in die Kruger-wildtuin in hegtenis geneem. Beslag is gelê op ʼn vuurwapen, ammunisie en stropingstoerusting.

Die renosterhorings wat gevind is. Foto: SAPD

Die renosterhorings wat gevind is. Foto: SAPD

Dieselfde dag is nog twee vermeende stropers in die Stolsnek-gebied in die Kruger-wildtuin in hegtenis geneem, kort nadat veldwagters op ʼn pas gestroopte renosterkarkas afgekom het. Hulle het beslag gelê op ʼn jaggeweer, ammunisie en stropingsgereedskap.

Intussen het die polisie Saterdag op ses vars renosterhorings in ʼn onbewoonde huis naby Hazyview afgekom. Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het inligting ontvang oor ʼn verdagte voertuig wat vermoedelik onwettige items rondom Hazyview vervoer.

Lede van die Witrivier-honde-eenheid, misdaadintelligensie-eenheid en taktiese reaksie-eenheid het die voertuig opgespoor, voorgekeer en deursoek, maar kon niks verdag in die voertuig vind nie.

“Die span het toe die gebied waar die motor voorgekeer is, ongeveer 57km buite die Kruger-wildtuin, deursoek en op ses vars renosterhorings in ʼn koelboks in ʼn onbewoonde huis afgekom. Niemand kon sover verantwoordelik gehou word vir hierdie genadelose en sinnelose doodmaak van die renosters nie,” het Hlathi gesê.

Hy het mense met inligting versoek om ao. Freek Pienaar op 072 878 5172 te kontak.

Nicholus Funda, hoofveldwagter in die Kruger-wildtuin, het al die eenhede wat by die inhegtenisnemings betrokke was, gelukgewens en gesê so baie inhegtenisnemings op een dag is ʼn goeie begin vir die jaar. “Die inhegtenisnemings dien as ʼn waarskuwing vir misdaadsindikate dat ons ernstig is om hierdie wrede aanval op ons erfenis stop te sit,” het Funda gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Ons lees redelik dikwels van renosterslagters wat gevange geneem word maar kan nie onthou van enige beriggewing oor verhore en vonnisse wat renosterslagters opgelê is nie.

kap trug ·

Sny hierdie stropers se neuse af en verkoop dit aan die chinese. Laat ons sien of hulle daarvan hou.

SP ·

Die antwoord waarom daar so min skuldigbevindings is is op die foto. Daardie horings is veronderstel om met beslaglegging reeds is verseelde bewysstuksakke verpak te wees.So is daar nou n breek in die bewysketting.

Luister ·

Mens hoor ook nooit wie die middelmanne is wat die horings van die stropers koop nie??

Maria Van Dieweeck ·

Terwyl ons grense oop le, kan dit nie verander nie! Stem saam kap trug!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.