Elfde verdagte in hof ná Rosettenville-skietery

(Foto: @Abramjee/Twitter)

Nog ’n verdagte het Vrydag in die hof verskyn in verband met Maandagaand se skietery tussen polisiebeamptes en vermeende transitorowers in Rosettenville, Johannesburg.

Agt vermeende rowers is tydens die skietery doodgeskiet. Tien ander is kort daarna in hegtenis geneem.

Die Zimbabwiër Sandile Milton Gaza, ook bekend as Trust Shabalala, is die elfde een om in hegtenis geneem te word.

Die verdagtes is glo almal deel van ’n sindikaat van 25 transitorowers.

Vier aanvalsgewere, vyf pistole, magasyne, meer as 1 000 patrone, kanaalblokkeerders sowel as koeëlvaste baadjies en uniforms van die sekerheidsmaatskappy G4S en die polisie is Woensdag in Gaza se huis in Phomolong, Tembisa, gevind.

Gaza (42) is dieselfde dag in hegtenis geneem en het Vrydagmiddag in die Tembisa-landdroshof verskyn.

Brig. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê die saak is tot 7 Maart uitgestel vir verdere ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig daar is vroeër inligting ontvang dat die beweerde sindikaat van plan was om ’n geldwa te beroof, waarna polisiebeamptes hulle begin dophou het en toe Maandagmiddag toegeslaan het.

ʼn Polisieman is tydens die skietery in Rosettenville dood en drie is gewond.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

So baie buitelanders is betrokke by misdaad. Nigeriers – dwelms/ Zimbawe – moord/Lesotho – diefstal/Mosambiek – moord/ Russe – oorlog.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.