Elite-taakspan ondersoek nou moord op oudburgemeester van KZN

Foto ter illustrasie. (Foto: pixabay)

ʼn Taakspan wat politieke moorde in KwaZulu-Natal ondersoek, sal nou ook die moord op ʼn voormalige burgemeester in die provinsie ondersoek. Hy is Donderdagaand doodgeskiet.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het bevestig dié elite-eenheid het nou die saak oorgeneem.

Maxwell Hadebe, ʼn voormalige burgemeester van Ndedwe (Tongaat) is gisteraand by sy sakeperseel vermoor, het kol. Thembeka Mbele, provinsiale polisiewoordvoerder vir KwaZulu-Natal, vroeër gesê.

“Die Ndwedwe-polisie ondersoek ʼn moordsaak. Na bewering was ʼn 50-jarige man gisteraand omstreeks 19:00 by sy sakeperseel saam met kliënte, toe ʼn onbekende aanvaller skote deur die deur gevuur het.

“Hy is in die kop geskiet en op die toneel dood verklaar. Die omstandighede en motief vir die aanval word nog ondersoek,” het Mbele gesê.

Bheki Cele, die minister van polisie, het verlede jaar ʼn taakspan wat politieke moorde in KwaZulu-Natal ondersoek, vergroot weens ʼn swak inhegtenisnemingsrekord en vervolgingskoers.

ʼn Span van 126 mense werk nou om die politieke moorde in die provinsie te ondersoek. Die span sluit in ervare aanklaers wat gelei word deur adv. Cyril Selepe.

Speurders van Gauteng, Mpumalanga, die Oos-Kaap en Wes-Kaap vorm voortaan ook deel van die ondersoekspan.

Sedert dit op die been gebring is, het die ondersoekspan al verskeie suksesse behaal. Daaronder is die inhegtenisneming van twee voormalige polisielede. Hulle was glo verantwoordelik vir die moord op die voormalige sekretaris-generaal van die ANC-jeugliga, Sindiso Magaqa.

Magaqa is in 2017 in ʼn sluipmoordaanval in die uMzimkhulu-gebied dood, waar hy as ʼn wyksraadslid gewerk het.

Die span het in Mei vanjaar ook opslae gemaak toe hulle die burgemeester van die Harry Gwala-distriksmunisipaliteit, Mluleki Ndobe, in verband met Magaqa se moord aangekeer het.

Die klagte teen hom is voorlopig teruggetrek.

Enkele dae ná Ndobe se inhegtenisneming is die burgemeester van Newcastle, dr. Ntuthuko Mahlaba, in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by die moord op Wandile Ngubeni.

Ngubeni was die ANC-jeugliga se adjunkvoorsitter vir eMalahleni (Witbank) en is in 2016 doodgeskiet.

Mahlaba is vroeër vrygelaat op borgtog van R20 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

???? leser ·

“erare” aanklaers word gebruik om politieke moordenaars te soek , wat ‘n grap , nog belasting geld wat vermors word

Netso ·

Neewat! Lyk my ons Boere se hoop op hulp kan hulle vir eens en altyd op hulle pens skryf! Nie wat nie, “ñ Elite-Taakspan” gan aangestel word! Wie gan nou weer hiervoor “invoice” en wie gan betaal?

Jan ·

Hulle voel vere vir plaasmoorde inteendel die anc reel meeste van die plaasmoorde

Hanna Hoekom ·

Politieke moorde? Dit sal in der ewigheid nooit ophou nie. Wereldwye verskynsel. Plaasmoorde. Dit is egter uniek aan die nuwe (ruwe) Suid-Afrika. Stel gerus n ervare taakspan aan om hierdie sinnelose moorde te ondersoek! Maar o wee, hulle maak mos nie deel van “our people” uit nie.

Markus ·

Waar kan ons n versoek skrif teken vir dieselfde erns veral as dit kom by plaasmoorde?

George in Bloem ·

Dis sekerlik ten minste 125 meer as wat daar aangewend word om enige van die wrede plaasmoorde,wat nou byna daagliks gebeur,te ondersoek. Skandalige spul.Hulle behoort hulself te skaam vir hierdie blatante dubbel standaarde wat hulle deesdae so skaamteloos op alles toepas.

Se maar Net ·

As daar maar 126 afgevaardig kan word vir elke plaasmoord!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.