Elizma Theron, gesin ‘erg geskok’ ná skote klap tydens huisroof

Elizma Theron en haar man, Nico, en hul kinders, NJ en Eli-zé (Foto: Facebook)

Die sangeres Elizma Theron sê sy en haar gesin is erg geruk nadat twee mans Woensdag in die vroeë oggendure by hul huis in ʼn veiligheidskompleks in Pretoria-Oos ingebreek het.

Theron het Woensdag aan Maroela Media vertel hoewel sy en haar man, Nico, hul kinders Eli-zé (3) en NJ (1) en die res van die familie wat by hulle tuisgegaan het ongedeerd is, probeer hulle steeds sin maak van dié voorval wat hul “vrede en vreugde in ʼn enkele oomblik gesteel het”.

Die sangeres se suster en haar man, hul drie kinders en haar ma het by hulle tuisgegaan ten tyde van die voorval.

Theron sê sy het Woensdag net voor 03:00 wakker geskrik van hul hondjie, ʼn Yorkie, wat begin blaf het. Hoewel sy nie onraad gemerk het nie, het sy haar kamerdeur gesluit. Die sangeres sê hul kinders was ook in die kamer aangesien die res van die familie in die ander kamers geslaap het.

“Ons hondjie blaf nooit in die aand nie – dit was dus vir my baie vreemd dat sy geblaf het, maar ek het nie onraad gemerk nie omdat ek nog nooit onveilig gevoel het in dié veiligheidskompleks nie. Ek het nadat ek die eerste keer wakker geword het, opgestaan om ʼn bottel melk gereed te kry en toe die deur agter my gesluit, maar nie omdat ek onveilig gevoel het nie,” sê sy.

Theron sê haar ma het omstreeks 03:30 kliphard vanuit haar kamer gegil. Twee mans was langs haar bed en het haar verbied om te skree voordat hulle haar selfoon en ʼn groot bedrag kontant gesteel het.

“Ek het opgespring en vir Nico wakker gemaak. Hy het reguit na die deur gehardloop, maar ek het vir hom gesê dat hy nie mag uitgaan sonder ʼn pistool nie. Hy is toe uit met die pistool waarna ek weer die deur agter ons gesluit het. Ek het my twee kinders gegryp en in een van die kaste gesit. Gedurende dit alles het jy hierdie onbeskryflike vrees in jou – ek weet nie hóékom gil my ma nie. ʼn Mens weet nie of hulle besig is om haar te verkrag of haar met messe te steek nie. Jy voel magteloos en bang. Dis nie ʼn gevoel wat jy vir enigiemand kan beskryf nie.”

Kort nadat Nico die kamer verlaat het, is twee skote binne die huis afgevuur. Sy sê haar lewe het in dié oomblik tot stilstand gekom.

“Ek het geweet dat Nico by die kamer uit is met ʼn pistool, maar ʼn mens het steeds nie geweet wié die skoot afgevuur het nie. Ek het nie geweet of my man beseer is of wat gaan aan nie. Ek het nog gille gehoor. Ek het myself hardop hoor bid en smeek dat ons almal bewaar sal word. Ek het toe by die deur gaan staan en sy naam geskree om te hoor of hy oukei is, waarna hy na die deur gekom het. Hy en die res van die familie het almal in die een vertrek bymekaargekom. Hul gesigte was wit van skok,” sê sy.

Volgens die sangeres het Nico twee waarskuwingskote binne die huis teen een van die mure afgevuur. Twee verdagtes het op die vlug geslaan. R5 000 kontant, ʼn selfoon en ʼn skootrekenaar is tydens die voorval gesteel.

Sy sê die gesin kon later sien dat die verdagtes toegang tot die huis gekry het by een van die oop badkamervensters waarna hulle die skuifdeur van die huis oopgemaak het. Die gesin se huis is teen ʼn grensmuur wat dit vir die verdagtes makliker gemaak het om toegang daartoe te verkry.

“Ons het eers later gehoor dat ons huishulp ook van flitsligte wakker geword het voordat hulle nog in die huis was, maar ons het nie haar oproep gesien nie omdat die klank van albei ons selfone afgeskakel was. Die verdagtes was ook in my sussie se kamer. Hulle was in my huis – vreemdeling met flitsligte en lang vingers wat goed gevat het waarvoor hulle nie gewerk het nie.”

Theron sê hoewel haar gesin erg geskok is deur die voorval, is sy bly dat almal ongedeerd daarvan afgekom het. Die veiligheidsmaatskappy van die kompleks het ook ingestem om ʼn patrolliemotor by die grensmuur te laat staan totdat diefwering aan die hele huis aangebring is.

“Ek kan vir jou in alle eerlikheid vandag sê dat ek nie omgee oor die goed wat hulle by my gesteel het nie. Ek het nie ʼn geliefde verloor nie en my hart is nie vandag stukkend dat iemand na aan my seergemaak is nie. Hulle het wel my vreugde en my vrede kom steel. Ek sal my ma se gil nooit vergeet nie. Dis iets wat ek hoop ek nooit weer in my lewe hoef te hoor nie. Nou is ons bang terwyl ons voorheen nooit vrese gehad het in hierdie huis nie. Hulle steel meer as net aardse goed; hulle steel jou vrede. Maar ek kan steeds vir almal sê ek is lief vir hulle en vir my familie ʼn drukkie gee – en ek prys die Here daarvoor.”

Volgens Theron was die polisie teen Woensdag 09:15 steeds nie op die toneel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Leahim ·

Daar moet glad nie meer op die polisie vertrou word nie vir hulp of bystand nie die klomp het geen trots meer nie hulle is soos die mugabes goed vir niks ons sal onsself moet beskerm en veilig moet hou.Julle sal moet na die naaste polisie stasie gaan en self die saak aanmeld net omrede die versekerings maatskappye dit nog vereis sterkte daarmee julle sal moontlik die verklaring self moet skryf vir die voorhandligende redes natuurlik.

Regtig!? ·

Geagte Leahim
Dit verstom my dat jy en soveel ander die polisie moet sleg uitmaak.
Kan jy vir een oom like dink wat sou van JOU geword het was dit nie vir SAPS nie?
Trek jy die uniform aan en ons kyk of jy dit sal kan doen…nee wat blaffende honde byt nie.
Nes n motorwerktuigkunde gereedskap benodig om herstelwerk te doen, so ook het die SAP n te kort aan mannekrag en voertuie.
Asb probeer volgende keer tweekeer dink voordat jy kommentaar lewer oor iets wat jy nie benul het oor nie.

Alta van Zyl ·

Dankie Vader! Ek is dankbaar saam met julle dat almal fisies ongedeerd is, maar dit laat ‘n dieper letsel! Dit kon wel soveel erger gewees het, maar so ‘n nare ondervinding, is erg traumaties! Gewapende huisrooftogte is verseker aan die toeneem en ‘n mens kan nie versigtig genoeg wees nie. Ek betwyfel die statistieke wat van tyd tot tyd vrygestel word!!

Pierre ·

So tragies. Weet iemand dalk waar in Pretoria Oos die voorval plaasgevind het?

Willie ·

Hierdie kan ook n inside job wees… Hoe kom hulle in n veilighieds kompleks? Dank die Vader hulle is ongeduerd!

Chris Ws ·

Willie,”veiligheids komplekse” is glad nie veilig nie.Inwoners word gesus met die woord “veilig” maar dis ‘n verkoop foefie.

Wilma ·

Dankbaar die gesin is ongedeerd! Verbeel ek my of loop “VEILIGHEIDS komplekse” ook maar sleg deur met roof en moord?

chris ·

Suid Afrika is seker die enigste land waar ons, ons self in jou eie tronk toesluit , maar wat jy ook al doen die rower kom nog in

Rina Kotze ·

So dankbaar julle is gespaar!

Bly julle het redelik kalm daardeur gebly! Dit het julle beslis meer paraat gemaak!

Hanna ·

Ek vertrou die sekuriteitswagte by hierdie komplekse glad nie. Ons het dieselfde problem gehad in Pta Noord totdat die hekwag die trekpas gekry het. Inside job all the way!

LODEWYK ·

Die probleem in ons sogenaamde veiligheidskompleks, is dat daar al meer inside jobs binne in die kompleks woon. En dit is nie noodwendig die meer opgevoede soort nie. Sommige woon daar terwyl meer gegoede familie namens hulle die huur betaal. Ons kerkie is uit wat veiligheid aanbetref.

Tina du Toit ·

Dank die Vader julle is gespaar . Ek dank God elke dag dat hy ons bewaar het en hoor nou nog my jongste vir haar pa skreeu” hulle is in die huis, kry vir Keith, hulle het vir Keith”, dan hoor jy my kleinkind van 4 jaar histeries huil. En ja, hulle verwoes mens se lewe. Daai vrees om net buite te loop, te sit, te braai bly by jou, maar ek is God ewig dankbaar dat hy my kalmte gegee het om my gesin te red. Ons was in totaal 7 in die huis en my dogter in daai tyd van Julie 2015 agt maande swanger gewees. Dinge kon lelik uitgedraai het en ons is dankbaar. Stertke vir julle, want dis nie nice nie, veral as iemand se lewe in die slag gebly het. Die vrees bly altyd daar.

Frans C ·

Mense die duurste veiligheidmaartreëls koop net een ding en dit is tyd.Kyk gerus by hardeware winkels na die ‘bolt cutters’ wat vandag vrylik te koop is. Die meeste van hulle sal soos ‘n warm mes deur deur meeste diefwerings sny.

Al wat help is dat ‘n mense hulself moet organiseer.Daarom is ek dankbaar dat daar nog jong mans is, wat vrywillig hul tyd opoffer om ook snags ons buurt ( sg boomed area) veilig
te hou.

Ek raak skoon nostalgies as ek dink dat in die wrede ou Suid Afrika kinders veilig op hul fietse kon ry, skool toe gaan en ons as gesin dikwels ‘window shopping’ gedoen het om na die nuutste motors ens in die dorp te gaan kyk.

Vandag is die plek vuil en wemel van prostitute en dwelmhandellaars.

Elize ·

Baie bly dat almal veilig is. Ja ek weet hoe dit voel as jou huis leeggedra is deur die swerkatters. Ek het by huis gekom en gesien die erf se hek is oop, die motorhuis se deur is oop die voordeur en die veiligheidshek was ook oop. CD’s het die wereld vol gele. Ek het nie eens gedink nie, ek het net die huis binne gestorm uit woede om te sien dat alles weggedra is. Ek was in Randburg woonagtig toe.

Die sekeriteitskomplekse skep maar ‘n gevoel van valse veiligheid. Vandag moet mens jouself so agter slot en grendel sit maar hulle sal nietemin nog steeds inkom.

Ek woon nou op ‘n plaas en ek moet se, ek het nog nooit veiliger as nou gevoel nie. Uiters vreemd maar tog waar.

Ansie ·

Baie dankbaar vir julle veiligheid….bid asb saam vir n gesin wie se man en pappa op dieselfde nag in n huisroof in Suiderberg doodgeskiet is.

Melkies ·

Moet liefs nie net op die veiligheids kompleks se sekuriteit staat maak nie. Jy benodig steeds “beams” buite en ‘n alarm stelsel binne want as hul eers in jou huis inkom is dit eintlik té laat.

Alida ·

Al is jy ongedeerd die letsels en sielkundige nagevolge gaan NOOIT weg nie.

Uli ·

Ja Alida jy praat so waar al is jy ongedeerd die LETSELS gaan nooit weg veiligheids kompleks is nie meer so veilig as wat almal dink nie, ek was ook ‘n “slagoffer” in ‘n “kompleks” ……
inside job was dit verseker.!!!!!!!

PJC ·

Al is ń mens binne ń sekuriteitskompleks moet jy nogtans goeie diefwering, veiligheidshekke en alarms hě wat jou waarsku as iemand buite jou huis beweeg. Natuurlik is ń vuurwapen ook nodig want as hulle agterkom jy is ongewapen gaan die ander maatreëls hulle nie sommer keer nie.

Barries ·

“Veiligheidswagte” by sekuriteitskomplekse is niks anders as operateurs van die toegangsbeheerstelsel nie. Hopeloos in die geval van ‘n werklike insident, agv gebrekkige opleiding. Ook geensins paraat en ingestel om verdagte optrede te identifiseer nie. Skep eindlik net ‘n vals sin van veiligheid.

E.K. die eerste ·

Paar jaar gelede is daar tydens ondersoeke bevind amper alle “veiligeheidswagte” by sekruriteits/veiligheidskomplekse het polisierekords. Hoe word sulke aanstellings dan gedoen?! Hierdie klink beslis na ‘n “inside job” want hoe kom hul andersins in ‘n sg veiligheidskompleks? Ek sou BAIE vrae vra aan die maatskappy in beheer van die “veiligheid”.

Haan ·

Mense onderskat keer op keer die waarde van gewapende beveiliging. Gebeur keer op keer: “skote klap, moordenaars vlug”

Kry julself gereed en BAIE GELUK aan Elizma wat haar man gesê het om nie sonder n wapen na buite te gaan.
Sterkte

Genieve ·

Die Polisie..die Polisie was teen Woensdag nog ni op die toneel nie??????
Net baie dankbaar en bly julle almal is veilig dit kon so anders gewees het.

R.prinsloo ·

Dankbaar teenoor Jesus dat julle veilig is, en dan sê die laaste sin alles nê….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.