Elke individu se bydrae tel – Dirk Hermann


dirk-hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. Foto: Reint Dykema

Met vandag se krisisberaad wil die Solidariteit Beweging enersyds sê dat daar iets fout is in Suid-Afrika, maar andersyds dat daar beslis ook oplossings vir die land se probleme is.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit, het elke spreker in die aanbiedings by die beraad, wat op 5 Mei by die Voortrekkermonument aangebied is, hierop gefokus. “Elke persoon wat vandag se beraad bygewoon het, het bevestig dat hulle in Suid-Afrika is om te bly.”

“Die elektrisiteitskrisis, aanvalle op standbeelde en xenofobiese aanvalle het die land tot op ʼn mespunt gedryf en dit het ons as organisasie genoop om hierdie beraad aan te bied waar ons oplossings kan bespreek,” het Hermann gesê.

Hermann het 20 riglyne gegee oor ʼn toekoms waarin Afrikaners kan voel hulle kan in die land bly. Hy het onder meer voorgestel dat staatsafhanklikheid plek maak vir gemeenskapselfstandigheid en dat groot politieke idees plek maak vir klein dade.

“Die dae van groot politieke leiers is verby, maar die tyd van sterk gemeenskapsleiers het beslis aangebreek. Die Afrikaner se toekoms lê in sterk burgerlike instellings waardeur lewensruimte geskep kan word. Lewensruimte sluit in ’n plek waar ʼn gemeenskap in sy volheid kan funksioneer,” het Hermann gesê.

Hermann het beklemtoon dit beteken nie dat Afrikaners meer verdraagsaam teenoor nonsens moet wees nie. “Afrikaners gaan niks kry deur te bedel nie, ons moet beding. Ons kan met selfvertroue nee sê vir aanvalle op ons monumente en identiteit, op Afrikaans as onderrigtaal en vir nuwe rassisme, asook rassekwotas en ʼn vrot regering.”

Tog sê Hermann dit beteken ook Afrikaners het ʼn verantwoordelikheid om ja te sê om hier te bly en ʼn verskil te maak soos om aan ʼn nuwe universiteit te help bou, om veiligheidstrukture te help skep en om Afrikaanse skole te beskerm en sterker te maak.

“Op ʼn baie praktiese vlak beteken dit elke individu kan patrollies in gemeenskappe ry, Afrikaanse boeke en CD’s koop, vra om in Afrikaans diens te ontvang, ʼn Afrikaanse rolprent gaan kyk en betrokke raak by jou kerk en skool.”

“As ons dus praat van ʼn groot Afrikanerplan, is dit so klein soos dit wat ek en jy as individue kan doen. Elkeen moet doen wat hy of sy moet doen – nie as groot leiers nie maar gemeenskapsleiers, burgemeesters sonder kettings,” het Hermann gesê.

“My eie voorgeslag is al hier vir 11 geslagte – ons as Afrikaners is hier van Afrika. Hendrik Biebouw het al in 1707 gesê: ‘Ik ben een africaander.’ Daar het Afrikaners al die rug op Europa gedraai met die gesig na Afrika – ons naam en taal is afgelei uit die woord Afrika. Ons het geen alternatief nie, ons moet eenvoudig hier bly.”

Klik hier om die volledige toespraak te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Malinda ·

Ek wil net sê baie dankie vir dit wat julle vir ons julle mede blankes doen. Hou aan met dit wat jul mee besig is. Ons moenie van ons Vader vergeet nie, want sonder Hom is ons verlore. Sterkte

Sune van Heerden ·

Dagsê Malinda

Dankie vir jou boodskap!
Jou kommentaar is definitief geplaas, soms neem dit net ‘n rukkie vir die webwerf om te “cache” voordat die kommentaar verskyn. As jy haastig is om jou kommentaar te sien, is jy welkom om die F5-knoppie te druk en te kyk of dit dan laai.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Pieter ·

Ek wil nie duiwelsadvokaat speel nie, maar is dit nie presies dieselfde raad wat sommige Jode aan mede-Jode in die Auchswitz konsentrasiekamp gegee is terwyl nog n groep Jode na die gaskamers toe gelei was nie?

Daagliks is daar AL meer Afrikaners wat nooit die raad sal kan volg, of enige regte kan uitoefen nie, omdat hulle vermoor is, in ‘n volksmoord, of ‘n voorsetting van die pre-1994 terreuroorlog deur die ANC, en hul kamerade in terreur, vanuit die buurlande.

Ons is steeds in ‘n oorlog gewikkel, en meer Afrikaners sterf as voor 1994, en steeds wil ons die euforie van die 1994, en die sogenaamde ‘Rainbow Nation; We Are One; Simunye” propaganda gebruik om vir ons mense te vertel dat alles sal regkom?

Dit is tyd dat ons blatant en prontuit die waarheid praat; en die kulturele dissonansie rondom die waarheid, vir eens en altyd agterlaat, waarmee die elite, bly ontken dat ons in n heeltemal nuwe tipe van massaslagting, die slagoffers is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.