Ellelange toue, chaos by Lebombo-grenspos

Motoriste staan toue voor die Lebombo-grenspos by Komatipoort. (Foto: Verskaf)

Chaos duur voort by die land se grensposte te midde van die Covid-19-pandemie.

Duisende motoriste staan nou reeds dae lank tientalle kilometer van die Lebombo-grenspos by Komatipoort in toue met die hoop om binnekort die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek oor te steek.

Sommige is sonder kos of water gestrand terwyl ander, soms met babas, in die versengende hitte in hul motors in die toue na die grenspos wag.

“Wat hier gebeur is onmenslik,” vertel Magan Price, ’n student van Pretoria, wat die afgelope drie dae saam met geliefdes in die tou wag om ná ʼn vakansie in Mosambiek na Suid-Afrika terug te keer.

Price (21) is deel van ’n groep vriende en familie wat Sondag omstreeks 11:00 in onderskeidelik vier motors sowat 15 km van die grenspos in die tou geval het om die grens oor te steek. Twee van die motors kon met ʼn gesukkel na die grenspos reis, terwyl die ander twee motors ná 72 uur sowat 10 km nader aan die grenspos gevorder het.

Die motor waarin Price reis het Maandag maar 350 meter gevorder. Die kwik het dié dag tot 45 °C gestyg terwyl die tou na Suid-Afrika glo tot sowat 30 km van die grenspos af opgehoop het.

“Ons is in die middel van nêrens. Hier is geen toilette nie. Sanitasie is ’n groot probleem. Jy kan net dink hoe die veld langs die pad al lyk,” vertel Price.

Motoriste staan toue voor die Lebombo-grenspos by Komatipoort. (Foto: Verskaf)

Diegene in Price se motor eet in die stadium lekkergoed en aartappelskyfies wat na die vakansie oorgebly het, hoewel sommige motoriste in die tou géén kos of water het nie.

“Hier is ook nie orde nie. [Motoriste] probeer aan die kante verbysteek en voor indruk.”

Na wat Price verneem, word die oponthoud toegeskryf aan ’n gebrek aan hulpbronne by die grenspos. Sy sê dat haar familielede en vriende wat wel die grens kon oorsteek, ure lank moes wag vir Covid-19-toetse om gedoen te word.

“Hulle was die oggend 06:00 by die grenspos en die personeel van die laboratorium het eers 11:00 opgedaag.”

Motoriste van Botswana, Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe word met hul aankoms by die land se grensposte vir Covid-19 getoets indien hulle nie oor geldige sertifikate beskik wat aandui dat hulle negatief vir die virus getoets het nie. Dié sertifikaat mag nie ouer as 72 uur wees nie.

Motoriste staan toue voor die Lebombo-grenspos by Komatipoort. (Foto: Verskaf)

Price vertel dat irritasie en frustrasie in die toue na die Lebombo-grenspos aan die orde van die dag is.

“Almal om ons wil huis toe gaan. Sommige moes al Maandag by die werk gewees het. My boetie trou Vrydag.

“Dit breek my hart. Daar is mense met babas in hul motors. Die een vrou het vertel dat sy nie meer skoon doeke of water het nie.”

Maroela Media het Woensdagoggend ’n navraag aan die departement van binnelandse sake gestuur en wag op terugvoer.

Groot opeenhopings is vroeër ook by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe aangemeld. Daar was selfs berigte dat tot vyf mense gesterf het terwyl hulle in die tou gewag het om die grens oor te steek.

Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, het egter gesê dit is nie waar nie en sover sy departement kon vasstel, is daar net een vragmotorbestuurder dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.