Ellisras-brand: Jayden oorgeplaas

Sibreena Da Costa met Jayden. Foto: Facebook

Sibreena Da Costa met Jayden. Foto: Facebook

Die eenjarige seuntjie van Ellisras wat erge brandwonde opgedoen het toe sy ouerhuis in Ellisras deur vlamme verwoes is, kan sy voete beweeg en reageer wanneer iemand aan hom raak.

Jayden Da Costa sal Woensdag van die Makweng-hospitaal in Polokwane na die Muelmed-hospitaal in Pretoria oorgeplaas word. “Hier waar hy nou is, kyk hulle baie mooi na hom, maar hy sal net ʼn baie beter kans op oorlewing hê in Muelmed. Hulle is meer gerat om brandpasiënte te behandel,” het sy ma, Sibreena, gesê.

“As ons hom onder sy voetjie kielie, beweeg hy sy voete en sy gesiggie is nie meer so geswel nie. Hy is steeds onder verdowing, maar dit gaan onder omstandighede goed met hom.”

Jayden en sy sussie, Katelint (8), het erge brandwonde opgedoen nadat hul ouerhuis ongeveer tien dae gelede deur vlamme verswelg is. Albei is in die waakeenheid van die Makwng-hospitaal behandel, maar Katelint het ʼn paar dae later aan haar beserings beswyk.

Die familie het ʼn trustfonds gestig om met die kinders se mediese onkoste te help en dit sal gebruik word om die kostes te dek om Jayden per helikopter na Muelmed te neem.

Sibreena het voorheen aan Maroela Media gesê sy glo dat Jayden sy brandwonde sal oorleef en dat Katelint langs hom staan en hom sterk hou. “Ek weet sy staan nou langs haar boetie en sy sê nou reguit vir Jayden dat hy moet deurdruk, want ons almal hier het hom nodig,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johnnie ·

Ons harte gaan uit na die kleinding ons kan maar net vir die Here vra om hom aan te raak en volkome te genees, sterkte vir die ouers dis nie lekker om jou kind in pyn te sien nie.

Kathleen ·

Sterkte vir die gesin en familie. Dit is baie hartseer om ‘n kind te verloor en nog die stryd te baklei om die ander een te ondersteun in die hospitaal. Mag die Hemelse Vader met jul wees en jul harte en die klein seuntjie te genees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.