Elmien kry weer ʼn terugslag

Elmien Fourie (Foto: Facebook)

Die 20-jarige Elmien Fourie van Musina in Limpopo is Donderdag ná nóg ʼn terugslag weer in die waakeenheid van ʼn Johannesburgse hospitaal opgeneem.

Manie, Elmien se pa, het aan Maroela Media gesê die “gesin is stil” nadat sy vir ʼn tweede keer in die waakeenheid opgeneem is kort nadat sy na ʼn algemene saal geskuif is.

Manie het vroeër vandeesweek gesê Elmien se gesondheid was die beste nóg sedert sy om haar lewe begin veg het nadat sy tydens ʼn familiebesoek in Mpumalanga serebrale malaria opgedoen het. Hy sê dié terugslag is daarom vir die gesin ʼn groot skok.

Volgens hom het dokters begin onraad vermoed toe sy naar geword het en diarree gekry het. Elmien is daarna in die waakeenheid opgeneem en word behandel vir diarree, dehidrasie, longontsteking en blaas- en urienweginfeksie.

Mediese personeel het vroeër die week al die masjiene van haar ontkoppel nadat haar suurstofvlakke bo 95% gestyg het. Sy was veronderstel om nog asemhalingsoefeninge te ondergaan om haar longe sterker te maak, maar is nou weer aan talle masjiene verbind.

“Sy is weer aan die bed vas met elektrodes, ʼn bloeddrukmonitor, binneaarse voeding en ʼn suurstofpypie aan haar neus. Sy is ʼn bietjie deurmekaar as gevolg van die medikasie en die koors – dit is glad nie lekker om haar so te sien nie. Sy is weer net op water en mag geen vaste kosse eet nie,” sê haar pa.

Manie sê dit voel of die gesin ʼn paar treë agteruit geneem het. “Ons hoop en bid dat dit gou weer met haar sal beter gaan. Ons waardeer egter al die belangstelling en liefde baie. Ons almal bid saam.”

Maroela Media het vroeër berig Manie, Natasja en Elmien was oor die feestyd in Kriel in Mpumalanga om by hul seun, Jaco, te kuier toe Elmien op Oujaarsdag in die Evander-staatshospitaal opgeneem is.

Haar gesondheidstoestand het teen ʼn vinnige pas versleg en mediese personeel het haar toestand as uiters kritiek beskryf. Manie is op Nuwejaarsdag ook met malaria gediagnoseer en in dieselfde hospitaal opgeneem. Pa en dogter is aanvanklik per ambulans na die Trichard MediClinic- private hospitaal in Secunda oorgeplaas en kort daarna na die Charlotte Maxeke-hospitaal.

ʼn Facebook-ondersteuningsgroep is intussen begin om familie, vriende en kennisse op die hoogte te hou. Vir meer inligting, besoek die Elmien Fourie Hulpfonds Facebook-blad.

Lees alle vorige berigte oor Elmien Fourie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Brenda Scheepers ·

More daar, my man werk in Nigeria en het al vele kere Malaria gehad, ek het n stel van 3 pilletjies wat van Nigeria afkom by ons huis as jul wil he dat Dr’s dit wil probeer op Elmien en bid vir jul – Groete Brenda

Alki ·

Ai julle, jammer om te hoor, ons sal bid vir julle, ons voel al soos familie asof Elmien ons almal se kind is, mag sy volkome herstel.

PJC ·

Hoop hierdie dapper mensie sal hierdie terugslag ook te bowe kom. Sy is nou baie broos en ń mens kan maar net hoop dat sy volkome sal herstel.

Nuweland ·

Nare siekte. Ek het opgetel in Zambie ook op 20 jarige ouderdom. Dokter het vir my gese nog een dag. En van daar het ek 8 terugslae gekry. Voorspoed jy sal deur dit kom. As jy so iets al deur was is die terugslag niks teen wat jy al klaar ervaar het nie. Mense moet meer praat hier oor en mekaar ondersteun en ander mense waarsku. Jy speel nie met Malaria nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.