Elmien se ouers ‘verpletter’ oor nóg verdoemende nuus

Elmien Fourie (Foto: Verskaf)

Die Fourie-gesin van Musina in Limpopo sê hulle is “verpletter” oor die nuus dat die 20-jarige Elmien volgens dokters opehartchirurgie sal moet ondergaan om haar lewe te red.

Manie, Elmien se pa, het Woensdag aan Maroela Media vertel Elmien is steeds in die waakeenheid nadat sy einde verlede week nóg ʼn terugslag gehad het – dít enkele dae nadat die familie hulle voorberei het op haar terugkeer huis toe.

Die Potchefstroomse student is aanvanklik behandel vir dehidrasie, longontsteking en blaas- en urienweginfeksie, maar ʼn span dokters het die gesin dié week ingelig dat sy ʼn lewensgevaarlike bakteriese infeksie opgedoen het wat haar hart aantas en potensieel na die res van haar liggaam kan versprei. Volgens Manie is daar ʼn “groot bakterieknoets” op haar linkerhartklep wat reeds deur middel van die bloedstroom na die brein versprei het.

Die span dokters wat haar vandeesweek ondersoek het, het aan die gesin gesê dat antibiotika nié die bakterie sal vernietig nie en dat ʼn opehartoperasie – waar dit as’t ware met die hand weggeskraap word – die enigste uitweg is vir haar om volkome te herstel.

“Hierdie hele terugslag is ʼn ongelooflike teleurstelling vir die hele gesin,” vertel Manie. “Ons is baie bekommerd oor haar – selfs nou meer bekommerd as wat ons was toe sy aanvanklik met serebrale malaria gediagnoseer is en die eerste keer vir haar lewe moes veg.”

Hy sê die opehartchirurgie hou verskeie gevare in wat Elmien se lewe potensieel kan bedreig. Een van dié gevare is onder meer dat die dokters nie ʼn bloedstolmiddel kan gebruik tydens die operasie nie omdat sy moontlik bloeding op die brein kan kry. Klein dele van die bakterie kan ook tydens die operasie losbreek en na die brein gaan wat onder meer breinskade kan veroorsaak.

“Dis ʼn risiko om die operasie te lank uit te stel, maar dis ook ʼn risiko om dit nou te doen. Die operasie moet egter so gou moontlik gebeur. Die dokters wil dit nog ʼn paar dae uitstel sodat van die bloedvate in die brein wat vroeër gebloei het, eers kan versterk. Die grootste bekommernis bly egter dat bloeding op die brein tydens die operasie haar lewe in gevaar kan stel,” sê hy.

Elmien Fourie (Foto: Verskaf)

Die opehartchirurgie behels onder meer dat die borsbeen oopgesny word en ʼn masjien haar hartfunksie gaan oorneem. Die hart word dan tot stilstand gebring waarna die hart oopgesny word om die bakterieë te verwyder. Die beskadigde linkerhartklep gaan ook in die proses vervang word.

“Dit is baie om te verwerk en ons gesin is in ʼn erge skoktoestand,” sê Manie. “Ons wens oor en oor dat sy net weer kan wees waar sy was op haar herstelpad. Dis vir ons veral erg omdat ons onsself voorberei het dat sy binnekort huis toe sou gaan en waarskynlik ook later vanjaar haar studie sou voortsit. Nou sit ons weer van voor af met vrae, ʼn bekommernis dat ons ons dogter kan verloor en ʼn groot hartseer. In dié stadium steun ons bloot net op genade en die gebede van almal wat ons ondersteun.”

Die operasie word voorlopig beplan vir 29 Januarie. Die gesin het intussen weldoeners landwyd bedank vir hul volgehoue gebede en ondersteuning.

Maroela Media het vroeër berig Manie, Natasja en Elmien was oor die feestyd in Kriel in Mpumalanga om by hul seun, Jaco, te kuier toe Elmien op Oujaarsdag in die Evander-staatshospitaal opgeneem is.

Haar gesondheidstoestand het teen ʼn vinnige pas versleg en mediese personeel het haar toestand as uiters kritiek beskryf. Manie is op Nuwejaarsdag ook met malaria gediagnoseer en in dieselfde hospitaal opgeneem. Pa en dogter is aanvanklik per ambulans na die MediClinic Trichard in Secunda oorgeplaas en kort daarna na die Charlotte Maxeke-hospitaal.

ʼn Facebook-ondersteuningsgroep is intussen begin om familie, vriende en kennisse op die hoogte te hou. Vir meer inligting, besoek die Elmien Fourie Hulpfonds Facebook-blad.

Lees alle vorige berigte oor Elmien Fourie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

35 Kommentare

Besorg ·

Dit is voorwaar tragies! So jammer om dit te hoor. Die hele familie is in ons gedagtes! Alle voorspoed en seën! Hoop dit gaan vinnig beter!

Mrs.B ·

Mag God sy hand van genesing oor haar hou en mag sy ten volle herstel. Julle is in ons gebede. Sterkte!!

Ada ·

Ai ai ai dis so jammer!!!
Sterkte aan haar en aan haar gesin en familie.
Hoop en vertrou alles kom nog reg!

Yolanda ·

Here ek pleit dat U, U hand van beskerming en genesing oor die pragtige jong mens sal hou, asseblief maak haar weer gesond en spaar haar vir haar ouers en familie.

Magaretha van heerden ·

Kry nog n opinie. Nog nooit van so n behandeling gehoor nie. Bakteriee afskraap? Sal graag meer mediese inligting daaroor wou hoor. Sal interessant wees.

MissDemeanor ·

Die “knoets”; waarvan haar ma praat is waarskynlik ‘n “bacterial biofilm”, gaan Google dit. Bakteriee wat in so n biofilm groei is tot 1000x weerstandig teen antibiotika as “vrylewende” bakteriee.

Christine ·

Ai, dit is so sad, hoeveel kan die klein mensie nog vat, mag die Here vir haar styf vas hou en volkome genees ons bid vir haar en die familie – sterkte

Genieve ·

Mag die Here onderneem in hierdie geval ons glo hy sal uitkoms gee.

cs ·

Baie sterkte aan die familie, kan nie dink waardeur julle moet gaan nie. Ons vertrou en glo alles sal goed afloop – julle is in ons gebede

Gesiggie ·

Elmien se operasie sal op my verjaarsdag gedoen word….. ek is so jammer dat jy weer n terugslag moes kry….. en ek kan net dink waardeur die ouers gaan… ek sal aan jou n spesiale gebed doen, en die Engele van God vra om jou te dra en sterk te hou deur die groot operasie… en ek Glo en vertrou met God se Engele om jou en met die Hand van Jesus oor jou… sal ons volgende week die goeie berig lees Elmien sterk goed aan… God is in Beheer… dink aan jou Elmien en ook aan die ouers… Wees sterk en weet… als sal ok wees…

Vermeende ·

Mag die wil van ons Skeper oor hier seevier, julle is in ons gebede.

Elmarie ·

Matteus 8 : 17
16. Toe dit aand word, het hulle baie wat in die mag van bose geeste was, vir Hom gebring. Hy het die geeste met ‘n woord uitgedryf en al die siekes gesond gemaak.
17. So is vervul wat deur die profeet Jesaja gesê is:
“Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra.”
Fokus op Jesus en Sy volmaakte voltooide werke aan die kruis.

Andrea ·

Waar kom die bakteriële infeksie vandaan? Hou dit verband met die malaria?

Blommie ·

So bitter jammer om te hoor van haar terugslag. Sterkte aan die gesin en famil Ek het ook nog nooit van so ‘n operasie gehoor nie dus sou ek ook voorstel kry 2de opinie as dit moontlik is

FM ·

Ek is maar dom, maar waar kom die infeksie vandaan? Is dit nie dalk n hospitaalinfeksie nie.Baie baie sterkte aan haar. Bid vir haar en familie en vriende. So n pragtige dogter.

Juanita ·

ek le jou by Jesus se voete neer. Mag liewe Jesus jou volkome genees.

Verstom ·

Jakobus 5:13-15 kom in gedagte. Salf en seën haar en daar is krag in gebed. Ons vertrou haar toe in die Here se sorg en in die Naam van dié God van Jakob sal Hy haar genees. Ons vertrou haar toe onder die Bloed van die Lam, en in die Krag van Sy Sterkte.

Peet J ·

Wil niemand beïnvloed nie maar sal dit nie dalk beter wees om die operasie op die langebaan te skuif nie ,beterskap het dan alreeds voorheen ingetree. Die Almagtige God gee lewe en neem lewe.Wens u spoedige herstel toe .

Lollie ·

Here sal U asb ingryp by hierdie pragtige mensie. Niks is by U onmoontlik nie. Ons pleit asb vir U aanraking en genesing want U is die Groot geneesheer. Gee ook kalmte v haar ouers en geliefdes asb. Dankie Heer ons kyk op na U. Amen

Andre ·

Bakterie – blaas, urienweginfeksie (steriele kateter?) , ook in die longe. Hoe skoon is die hospitaal en verpleeg personeel se hande ens en waar kom dit vandaan? Die hospitaal is onderverdenking, waar anders kom dit vandaan? Kry monsters van die bakterie. Ek sal regshulp kry na die.

Edmund ·

Ek bid vir die Here se genade. En sterkte aan die familie in hierdie onsekere tyd.

Andre Grundlingh jnr ·

Jesus gaan jou gesond maak! Kla gebid. Wag net om die goeie nuus te lees. Groete André

Will ·

So jammer om te verneem van hierdie groot terugslag. Ons harte en gebede gaan uit na Elmien en die familie. Sterkte!

bb ·

Hospitaalinfeksies kom gereeld voor en “super kieme” neem oor. Die dokters weet waarvan hulle praat. Mag sy deurdruk, dit moet baie moeilik vir die ouers wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.