Elmien weer op herstelpad ná terugslag

Elmien en Jaco in die hospitaal (Foto: Facebook)

Die 20-jarige Elmien Fourie se toestand is sedert Donderdag weer stabiel nadat sy vroeër weens ʼn terugslag in die intensiewesorgeenheid opgeneem is.

Jaco Fourie, Elmien se broer, het aan Maroela Media vertel die gesin het groot geskrik nadat sy vroeër die week weer aan die ventilators gekoppel is en in die intensiewe sorgeenheid opgeneem is.

Volgens Fourie het Elmien, wat om haar lewe in die hospitaal geveg het nadat sy tydens ʼn familiebesoek in Mpumalanga serebrale malaria opgedoen het, gesukkel om self asem te haal omdat sy water op haar longe gehad het. Hy sê haar toestand het intussen drasties verbeter, maar dokters hou haar vir eers steeds in die intensiewesorgeenheid.

“ʼn Mens skrik baie groot – veral as jy dink aan die pad wat agter die rug is,” vertel hy. “Ons was bekommerd dat ons verniet hoop gehad het, maar die dokters het ons verseker dat dit net die water op haar longe is en dat sy op die herstelpad is.”

Elmien Fourie (Foto: Facebook)

Elmien is intussen van die ventilator afgehaal, maar daar is steeds pypies aan haar neus verbind om haar te help asemhaal. Volgens Fourie het die dokters vandeesweek X-strale geneem om te kyk of daar enige permanente skade aan haar longe is. Die familie sal dié uitslae later vandeesweek kry.

“Elmien is onsettend sterk en doen baie goed. Sy het onlangs begin roomys eet en sy reageer nou beter as ooit voorheen. Ons kan sien dis nie vir haar maklik om net daar te wees nie, sy is nou op die punt wat dit vir haar ongemaklik raak, maar ons weet én sy weet dat dit nodig is vir haar herstel.”

Hy sê dit gaan beter met die gesin ook en dat hulle nou meer as ooit vantevore daarna uitsien om Elmien weer by die huis te verwelkom. “Dit was ʼn goor tyd. Ons het baie vrae gevra en baie bekommernisse gehad. ʼn Mens weet nie watter kant toe nie, jy weet nie of jou familie heel aan die anderkant gaan uitstap nie. Maar God is groot en Almagtig – en met Sy hand oor haar is sy besig om teen ʼn vinnige pas te herstel.”

Die dokters kon nog nie vir die gesin ʼn tydsberaming gee oor hoe lank haar herstelpad nog gaan wees nie, buiten dat sy na alle waarskynlik dié pad nog ʼn rukkie gaan moet stap.

Elmien Fourie (Foto: Facebook)

Manie, Elmien se pa, is volgens Fourie nou heeltemal gesond nadat hy kort ná sy dogter ook met ʼn minder ernstige vorm van malaria gediagnoseer is.

Maroela Media het vroeër berig Manie en Natasja Fourie en hul dogter, Elmien, was oor die feestyd in Kriel in Mpumalanga om by hul seun, Jaco, te kuier toe Elmien op Oujaarsdag in die Evander-staatshospitaal opgeneem is.

Haar gesondheidstoestand het teen ʼn vinnige pas agteruitbeweeg en mediese personeel het haar toestand as uiters kritiek beskryf. Manie is op Nuwejaarsdag ook met malaria gediagnoseer en in dieselfde hospitaal opgeneem. Pa en dogter is aanvanklik per ambulans na die Trichard MediClinic- private hospitaal in Secunda oorgeplaas en kort daarna na die Charlotte Maxeke-hospitaal.

ʼn Facebook-ondersteuningsgroep is intussen begin om familie, vriende en kennisse op die hoogte te hou. Vir meer inligting, besoek die Elmien Fourie Hulpfonds Facebook-blad.

Lees alle vorige berigte oor Elmien Fourie op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PJC ·

Baie goeie nuus. Ek hoop hierdie oulike jong dame herstel vinnig en volkome.

Willa ·

Regtig bly om te hoor dit gaan soveel beter.
Glo daars baie vir haar gebid.

Nuus ·

Groot genade van BO en wonderlike nuus!! Sterkte meisiekind!!
Dalk ‘n regstelling dat die Trichardt MediClinic in Trichardt is en nie Secunda. Daar is wel ook ‘n MediClinic in Secunda. Ek glo nie daar is in SA nog so ‘n klein dorpie met so ‘n groot- en uitmuntende hospitaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.