Eloise: SA Weerdiens reik nou vlak 10-waarskuwing uit

Oorstromings in die Krugerwildtuin (Foto: Kruger National Park, Twitter)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n rooi vlak 10-waarskuwing uitgereik vir swaar reën wat na verwagting Maandag in gebiede van Mpumalanga, Limpopo, KwaZulu-Natal en Gauteng sal uitsak. Dié reën word veroorsaak deur die tropiese sikloon Eloise wat Sondag in Suid-Afrika begin woed het.

Puseletso Mofokeng, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê vlak 10 is die hoogste waarskuwingsvlak wat die weerdiens kan uitreik vir swaar reënneerslae.

“Nog swaar reën en die moontlikheid van wydverspreide vloede word Maandag in die oostelike gedeeltes van Limpopo, Mpumalanga, die noordoostelike gedeeltes van KwaZulu-Natal en sekere gebiede van Gauteng verwag,” sê Mofokeng.

Die weerdiens voorspel ook moontlike oorstromings weens swaar reën in die noordoostelike gedeeltes van die Noordwes. Verder word koeler en gedeeltelik bewolkte weer vir die Vrystaat en Noord-Kaap voorspel.

Reën sal teen Dinsdag begin afneem en gedurende die res van die week stelselmatig opklaar. Reënwolke sal teen Woensdag en Donderdag weer in gedeeltes van Noordwes, die Vrystaat, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal opbou.

Vloede in Mombela in Mpumalanga (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Volgens Mofokeng het die gebied rondom Charters Creek in KwaZulu-Natal Maandag van middernag tot omstreeks 07:00 sowat 121,6 mm reën ontvang. Richardsbaai het in dieselfde tydperk sowat 50,6 mm reën ontvang.

Teen Sondagmiddag is 56 mm reën in Hoedspruit en 30 mm in Polokwane in Limpopo gemeet. In Nelspruit is sowat 70 mm gemeet.

Swaar reën en stormsterk winde wat sedert Saterdagaand in die verre noordoostelike dele van Limpopo en Mpumalanga voorgekom het, het tot oorstromings en erge skade in hierdie provinsies gelei.

Vloede in Mbombela in Mpumalanga (Foto: Gauteng Weather, Twitter)

Maroela Media het vroeër berig swaar reën het in die Krugerwildtuin geval en alle grondpaaie is gevolglik gesluit. Meer as 66 mm reën het reeds in die Mopani-streek geval. Die pad van Mopani na Phalaborwa is gesluit en besoekers moet via Letaba na Phalaborwa ry.

Groot skade is ook in Mosambiek aangerig ná oorstromings.

Nadat stormweer sedert Sondag ook in Gauteng begin woed het, het Tshwane-nooddienste inwoners gewaarsku om op hul hoede te wees. Volgens die weerdiens sal ontwrigtende reën Pretoria Maandag tref.

“Inwoners veral in die noord- en noordoostelike dele van die stad moet versigtig wees,” waarsku Charles Mabaso, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste.

“Ons waarsku inwoners oor moontlike oorstromings weens swaar reën in laagliggende gebiede. Die moontlike oorstroming van paaie kan ook vir motoriste ontwrigtend wees.”

Thoko Didiza, die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het ook boere in die provinsies, wat erg deur die stormweer geraak word, gewaarsku om waaksaam te wees en die nodige voorsorgmaatreëls te tref.

Sy het boere gewaarsku om besproeiingstoerusting uit vloedvlaktes te verwyder en om eers te wag voor hulle onder vloedvlaktes of naby rivieroewers plant, om sodoende skade deur oorstromings te voorkom. Sy raai ook boere aan om hul vee na veiligheid of hoër gebiede te verskuif.

Graskop en Lisbon Falls (Foto: Belinda Brink via StormReportSA, Twitter)

Skade in Sabie – (Fotos: Tarien Wilken via Storm ReportSA, Twitter)

Vloede in die Krugerwildtuin (Foto: Kruger National Park, Twitter)

Oorstromings in Graskop (Foto: Lance Gibson via Storm Report SA, Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alta Alleman ·

Ons bid vir reën maar die vloed moenie mens of dier se lewe eis nie.

Harry ·

Lekker reen, ons het hier in Warmbad al van gister af so 110mm gehad????

Chantel ·

Al kan mens absoluut niks doen nie, is ek bekommerd oor al die diere in die Krugerwildtuin.

Pieter ·

Wys net dat die munisipaliteite nie hul dreine oop hou nie, wat ‘n wetlike verpligting is. Storm water maak riviere en damme in die dorpe se paaie en bring so onnodige skade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.