Eloise: Skade in Mosambiek; waarskuwings vir SA

Oorstromings in Beira. Foto: @tWeatherSA/Twitter

Die tropiese sikloon Eloise is na ’n laagdrukstelsel afgegradeer nadat dit skade en oorstromings in Mosambiek tot gevolg gehad het en Sondag na dele van Limpopo inbeweeg het.

Swaar reën en stormsterkwinde het tot oorstromings en skade aan infrastruktuur in Beira in Mosambiek se Sofala-provinsie gelei. Die Verenigde Nasies (VN) se kantoor vir die koördinering van humanitêre aangeleenthede (OCHA) het gesê Eloise het die kus van Mosambiek met winde van tussen 140 en 160 km/h getref. Beira het volgens die Nasionale Instituut vir Meteorologie in Mosambiek (INAM) tot 250 mm reën in 24 uur ontvang.

Swaar reën en stormsterkwinde het tot oorstromings en skade aan infrastruktuur in Beira gelei. Foto: @UNICEF_Moz/Twitter

Luisa Meque, president van Mosambiek se Instituut vir Ramprisikobestuur-en-vermindering (INGD), het gesê dit is te vroeg om die presiese omvang van die skade te bepaal, maar dat ligte skade in dele van Beira aangerig is. Elektrisiteit het in dele van die stad afgeneem en kommunikasienetwerke is beskadig.

Eloise het reeds voor dit aan wal gekom het hewige reën en sterk winde in die Zambezia-provinsie tot gevolg gehad met bome wat ontwortel is en geboue wat beskadig is, onder meer in die hoofstad Quelimane.

Oorstromings in Quelimane, Mosambiek. Foto: @WMO/Twitter

Volgens OCHA is die hoofbekommernis steeds die risiko van erge oorstromings aangesien baie riviere in die sentrale en suidelike streke van Mosambiek reeds bo hul waarskuwingsvlakke is.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het waarskuwings uitgereik vir Sondag vir dele van Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. Ontwrigtende reën, 100 tot 200 mm in 24 uur, word in dele van die provinsies verwag.

’n Oranje vlak 9-waarskuwing vir ontwrigtende reën is vir verskeie munisipale distrikte in Limpopo uitgereik, insluitend die Ba-Phalaborwa-, groter Giyani-, Makhado-, Maruleng-, Musina-, Collins Chabane- en Thulamela-munisipaliteit. Swaar neerslae is reeds in die verre noorde van Limpopo aangemeld. ’n Geel vlak 4-waarskuwing vir ontwrigtende reën is ook vir sekere munisipale distrikte in Limpopo en Mpumalanga uitgereik.

Swaar reën het in die Krugerwildtuin geval met alle grondpaaie wat gesluit is. Meer as 66 mm reën het reeds in die Mopani-streek geval en die pad van Mopani na Phalaborwa is ook gesluit en besoekers moet via Letaba na Phalaborwa ry.

Die Luvuvhu-rivier is besig om al vinniger af te kom terwyl die Limpoporivier reeds in vloed is. Die Pionierdam loop oor en die brug na Sirheni is heeltemal oorstroom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois Le Cochon

Sjoe, daar waar ek laas gebraai het, toe ek oornag het by Sable Hide, sou my kop net uitgesteek het as ek nou daar was.

FM

Nou is die damme vol!!!!!

Dis baie water

Casper

Veertig dae lank gereën en veertig nagte agtereen.Meneer mag ek meneer iets vra.Alte seker Japie ja.Was die boere toe tevrede.Dit reën selfs lekker in Piet Retief maar ons het dit nodig sodat die spruite kan oop spoel.

Veronika

Wel hierdie Eloise het definitief ‘n uitwerking op die Noord-Kaap ook, ons in jare nog nie so warm gekry dat dit benoud voel nie, dit is asof mens nie lekker asem kry nie. Dis erg en ek bly my lewe lank hier, en ek kan nie onthou wanneer laas het ons so swaar gekry hittegewys nie!

Jaco

Volgens die president is riviere en damme bydraende tot covid. Hoekom anders mag jy nie see toe gaan of kamp langs n rivier of by n dam nie. Kan hy dus reel dat die rivier wat nou in ons dorp loop weggevat word sodat ons veilig kan wees teen covid 19/20/21…