Eloise: Só raak storm Eskom se bedrywighede

(Argieffoto: pixabay)

Tropiese sikloon Eloise het ten spyte van swaar reën in Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal tot dusver nog geen ernstige negatiewe invloed op Eskom se bedrywighede gehad nie.

Eskom het Maandag in ’n verklaring gesê Eloise het Sondagaand sonder voorval die kraglyne van Cahora Bassa in Mosambiek verbygegaan.

“Die hoë-risiko dele van dié kraglyne is ná soortgelyke storms in vorige jare versterk. Die risiko bestaan egter steeds dat moontlike oorstroming van riviere en die ontworteling van bome in die gebiede rondom die kraglyne in Mosambiek die kragtoevoer kan ontwrig,” het die kragvoorsiener gewaarsku.

Sommige dele van Mpumalanga, Limpopo en die noorde van KwaZulu-Natal het wel kragonderbrekings ervaar as gevolg van bome en pale wat op kraglyne geval het.

Bedrywighede by die kragstasies gaan andersins voort soos normaal hoewel die situasie deurgaans gemonitor word.

“Swaar reënval oor vier of minder dae hou gewoonlik nie ʼn beduidende bedreiging vir kragstasies se bedrywighede in nie, hoewel aanhoudende reënval vir langer as vier dae die hantering van steenkool by die kragstasies en die myne wat dit voorsien, kan belemmer,” sê Eskom.

Sable Hide in die Krugerwildtuin (Foto: Twitter)

Sommige dele van die Krugerwildtuin, insluitend laagwaterbrûe, was vroeër vandag (Maandag) nog onder water ná swaar reën in die omgewing.

“Die park het aansienlik baie reën gehad wat gelei het tot die ontruiming van bosveldkampe en die sluiting van grondpaaie. Die hoofweg van Punda Maria na Shingwedzi, sowel as die Mopani-Phalaborwa-pad is vanadag (Maandag) weer oopgestel,” het Ike Phaahla, ’n woordvoerder van die wildtuin, gesê.

Volgens Paahla sou wildbewaarders Maandag oor die wildtuin vlieg om te bepaal of enige diere tydens die storm beseer is of omgekom het. Paahla het wel gesê hy is vol vertroue dat baie diere oorleef het aangesien diere gewoonlik na hoërliggende gebiede vlug voordat ʼn storm losbars.

Maroela Media het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het ’n rooi vlak 10-waarskuwing uitgereik vir swaar reën wat na verwagting vandag in gebiede van Mpumalanga, Limpopo, KwaZulu-Natal en Gauteng sal uitsak.

Reën sal teen Dinsdag afneem en in die loop van die week stelselmatig begin opklaar. Reënwolke sal egter teen Woensdag en Donderdag weer in gedeeltes van Noordwes, die Vrystaat, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal opbou.

Enige skade aan Eskom se infrastruktuur kan by 086 003 7566 aangemeld word. Die publiek word egter versoek om alle elektrisiteitsinfrastruktuur as lewend te beskou en nie daaraan te raak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.