Eloise: Twee kinders verdrink in Mpumalanga

Oorstromings in Mpumalanga (Foto: Eskom, Twitter)

Die polisie in Mpumalanga doen ʼn beroep op die publiek om weg te bly van oorstroomde riviere en damme nadat verskeie verdrinkings die afgelope paar dae in die provinsie aangemeld is. Die provinsie loop sedert Saterdagaand deur onder stormweer wat deur die tropiese sikloon Eloise veroorsaak is.

Volgens brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het ʼn vyfjarige seun Sondag by Masoyi, digby Hazyview, verdrink toe hy en sy ma probeer het om die Sukani-rivier oor te steek.

“Volgens berigte het die ma haar seun vasgehou terwyl hulle die rivier oorgesteek het. Hy het skielik uit haar hande gegly, in die rivier geval en verdrink,” sê Hlathi.

Die kind se liggaam is sedertdien deur polisieduikers opgespoor en ʼn ondersoekdossier is geopen.

Verder is ʼn eenjarige seuntjie Dinsdag dood, oomblikke nadat iemand gesien het hoe hy in die Nkaba Trust in Elukwatini in die water speel.

In ʼn afsonderlike voorval is die liggaam van ʼn 40-jarige man in Pelgrimsrus gevind nadat hy in ʼn nabygeleë rivier verdwyn het. Die saak is Maandag by die plaaslike polisiestasie aangemeld. Polisieduikers het die man se liggaam opgespoor en ʼn geregtelike doodsondersoek is begin.

“Ons is bekommerd oor hierdie voorvalle, want sedert die begin van die somer het ʼn aantal mense in verskillende dele van die provinsie verdrink,” sê Hlathi.

Die polisie doen gevolglik ʼn beroep op die publiek om enige oorstroomde riviere en damme te vermy. Die polisie doen ook ʼn beroep op ouers om ʼn oog oor hul kinders te hou en seker te maak hulle bly weg van gevaarlike waters.

Maroela Media het vroeër berig dat Eloise groot skade in dele van KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng aangerig het. Verskeie gesinne is dakloos gelaat en sommige groot paaie is nou ontoeganklik weens reënskade. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Maandag ’n rooi vlak 10-waarskuwing uitgereik vir swaar reën wat Sondag en Maandag in hierdie gebiede uitgesak het.

Groot skade is ook die afgelope naweek in Mosambiek aangerig ná oorstromings.

Hoewel stormweer in die noordelike gedeeltes van die land begin bedaar het, het donker reënwolke nou in die binneland begin saampak. Die weerdiens het ’n waarskuwing uitgereik vir swaar reën- en donderbuie en die moontlikheid van oorstromings in groot gedeeltes van die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap. Die stormweer sal na verwagting vir die res van die week voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.