Elon Musk nou wêreld se rykste

Elon Musk. Foto: Odd ANDERSEN/AFP

Elon Musk het Jeff Bezos van Amazon verbygesteek en is nou die rykste mens ter wêreld.

Die 49-jarige Tesla-hoof en entrepreneur het ’n geskatte rykdom van $180 miljard.

“Hoe vreemd,” het Musk op Twitter gesê nadat hy verneem het hy is nou die rykste. “Wel, terug werk toe,” het hy aan sy meer as 41 miljoen volgelinge geskryf.

Musk, wat ook die ruimtemaatskappy SpaceX besit, is in Suid-Afrika gebore en het Amerikaanse en Kanadese paspoorte nadat hy sy studies in Ontario en Pennsylvania voltooi het. Hy het onlangs van Kalifornië na Texas verhuis.

SpaceX het onlangs geskiedenis gemaak met twee Nasa-ruimtevaarders wat na die Internasionale Ruimtestasie (ISS) gelanseer is.

Tesla het ongekende sukses in 2020 beleef en is sedert Desember deel van die S&P 500-indeks. Tesla se aandele het oor die afgelope jaar met meer as 700% gestyg. Die elektriese motorvervaardiger se markwaarde was vroeër die week vir die eerste keer meer as $700 miljard. Tesla het in 2020 meer as ’n halfmiljoen voertuie vervaardig.

Teen 25-jarige ouderdom het Musk Zip2, ’n aanlyn advertensieplatform, begin en teen 30 was hy ’n miljoenêr nadat hy die maatskappy in 1999 verkoop het. Hy het hierna ’n aanlyn bank, X.com, begin wat later deel geword het van PayPal wat in 2002 vir $1,5 miljard deur eBay gekoop is.

Musk het ook in 2020 pa geword. Hy en die Kanadese sangeres, Claire Elise Boucher (professioneel bekend as Grimes), se seuntjie is op 4 Mei gebore. Hulle het bekendgemaak die seuntjie se naam is X Æ A-12.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.