Els veroordeel vredesooreenkoms tussen PGA, LIV

Ernie Els (Foto: Patrick McDermott/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se viermalige Major-kampioen en gewese no. 1-speler in die wêreld, Ernie Els, het Donderdag ná die eerste rondte van die Britse Ope ʼn paar dwarsklappe na die gholfbase van die Amerikaanse PGA- en LIV-reeks uitgedeel.

Die 53-jarige Els het Jay Monahan, uitvoerende hoof van die Amerikaanse geldreeks, se vredesooreenkoms met die LIV-reeks veroordeel en gesê die Yanks se gholfbaas sou in sy goeie gholfdae nie meer ʼn werk gehad het nie as hy toe dieselfde optrede geopenbaar het.

Els het Monahan daarvan beskuldig dat hy agteraf met die LIV-base onderhandel het en ʼn ooreenkoms met hulle aangegaan het sonder om enige speler in die saak te raadpleeg.

“In my speeldae sou dit glad nie so gewerk het nie. Hy [Monahan] sou weg gewees het as hy so iets gedoen het. Direkteure kan ook nie net doen wat hulle wil nie,” het Els gesê met verwysing na die twee direksielede van die PGA-reeks wat Monahan in die onderhandelinge met die Saoedi-Arabies gefinansierde reeks bygestaan het.

Volgens Els ken hy Yasir Al-Rumayyan, die goewerneur van die Saoedi-Arabiese openbare beleggingsfonds (PIF), goed en het hulle twee al vele kere ontmoet.

“Yasir moet ook oop kaarte speel oor wat sy ware planne is. Besef niemand watter mag hy gaan hê as hy die voorsitter van die direksie van die nuwe gholfmaatskappy van die PGA-, LIV en DP World-reeks is nie,” waarsku Els.

Die SA gholfster hou geensins van die LIV-formule nie en noem dit sirkus-gholf.

“Dis belaglik… spangholf werk nie. LIV-gholf is niks anders nie as sirkusgholf. As jy dit reg wil doen, kry die bestes bymekaar vir ʼn kort rukkie en speel op verskillende plekke regoor die wêreld. Maar speel regte gholf… soos gholf gespeel moet word,” het Els oor die LIV-reeks gesê.

ʼn Omgekrapte Els sê hy het saam met Tiger Woods verseker dat die PGA-reeks groei en vandag is waar dit is. “Ek was heelpad saam met Tiger daar en het ook gehelp om die spel te laat groei,” het hy gesê en tong in die kies bygevoeg dat daar iemand moes wees wat teen Tiger kon speel en die onderspit delf.

Volgens Els moet die PGA-reeks besin oor hul toekomsplanne en moet die spelers geen haastige besluite neem oor ʼn moontlike samesmelting nie.

“Dis in hierdie stadium ʼn absolute en totale deurmekaarspul met niemand wat eintlik weet wat aangaan nie. Yasir kan nie toegelaat word om eenvoudig oor te neem nie. Daar kan saam met Saoedi-Arabië gewerk word. Hulle kan vir eers ʼn junior vennoot word in ruil vir geld om die spel te stabiliseer en te ontwikkel. Daar moet seker gemaak word hulle is die regte vennote voordat finale ooreenkomste aangegaan word,” sê Els.

*Suid-Afrika se Paula Reto en haar speelmaat Amelia Lewis is ná die tweede rondte van die LPGA-reeks se Dow Great Lakes Bay-uitnodigingstoernooi die voorlopers met een hou in dié jaarlikse spantoernooi.

Reto en Lewis het Donderdag se tweede rondte in ʼn manjifieke 61 houe – nege houe minder as die baansyfer – voltooi en is op ʼn telling van 126 (-14) die topspan boaan die voorlopersbord.

Die voorlopers word gejaag deur die span van Matilda Castren en Kelly Tan en die tweetal van Jody Ewart Shadoff en Emma Tally op -13.

Die toernooi eindig Saterdag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.