eMalahleni-man se liggaam ná fratsongeluk in rivier gevind

Nantes de Lange (Foto: Verskaf)

Die liggaam van ʼn 33-jarige man van eMalahleni (Witbank) is Sondagoggend in ʼn rivier naby Bronkhorstspruit in Gauteng gevind nadat hy die vorige middag onder die water verdwyn het.

Nantes de Lange (32) het Saterdagmiddag saam met vriende vanaf ʼn krans in die Wilgerivier gespring en nooit weer te voorskyn gekom nie. Volgens sy suster, Nanette Opperman (35), was dit ʼn fratsongeluk wat nie verklaar kan word nie.

“Nantes en sy vriende het besluit om van ʼn hoë krans in die rivier te spring, waarna almal behalwe my boetie weer opgekom het. Dit was ʼn baie hoë krans van so ongeveer 34 m hoog,” vertel Opperman.

Volgens Travis Clark, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se eMalahleni-stasiebevelvoerder, is die NSRI Saterdag omstreeks 19:00 van die voorval in kennis gestel waarna die NSRI-reddingspan en plaaslike polisielede na die toneel gegaan het.

Die krans (Foto: Verskaf)

Volgens Clark was die gebied uiters onbegaanbaar en die donker het die soektog vir die reddingspan erg bemoeilik. Die polisie het die reddingspan versoek om die soektog Sondagoggend met dagbreek voort te sit.

Die NSRI het die soektog gister douvoordag saam met die polisie se duik- en honde-eenheid voortgesit. ʼn Soekgebied is geïdentifiseer en die polisieduikers het De Lange se liggaam Sondag kort voor 10:00 in die water gevind.

ʼn Nadoodse ondersoek moet die oorsaak van sy dood bepaal.

Konst. Munyadziwa Ramovha, woordvoerder van die Bronkhorstspruit-polisie, het die voorval bevestig.

Opperman het die reddingspan bedank vir hul moeite om haar broer op te spoor. Sy sê hulle was baie bedagsaam, en het alles met groot respek gedoen.

Volgens dié suster was haar broer ʼn waaghals wat elke dag voluit geleef het.

“Hy het elke oomblik van sy lewe geniet en was nie bang vir ʼn moeilike uitdaging nie. Hy het uiteindelik gesterf terwyl hy iets gedoen het waarvan hy hou.”

De Lange, ʼn kranige motorfietsryer, was betrokke by die Crusaders-motorfietsklub in eMalahleni.

Hy was ʼn opgeleide passer-en-draaier en het sedert 2017 by die mynmaatskappy Pentalin gewerk.

Opperman sal haar broer onthou as ʼn terggees wat altyd grappies vertel het.

“Hy het altyd gelag. Nou is sy stem vir ewig stil.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wielspore ·

Dit is ‘n tragedie en jammer dat so ‘n jong persoon sterf.
Ek self het as jong seun van ‘n krans tot in ‘n rivier gespring en amper verdrink, jou asemhaling moet reg wees en jy moet voorbereid wees op langer as normale tyd onder water want rivier water is vuil en as jy gespring het weet jy nie waar is onder of bo, so jy moet wag om na boontoe te dryf.
Sterkte aan die geliefdes.

LD ·

Sjoe dis mos baie hoog! Maar baie mooi! Sterkte aan die familie

Johan ·

Ai tog dis so tragies. My pa het altyd vir my en my broer gewaarsku om nooit in water in te spring as jy nie kan sien wat onder die water aangaan nie.

Jaco ·

Jammer oor die verlies

Maar is die skatting van 34 meter korrek?, dit is baie hoog en as die water getref word teen die verkeerde hoek is dit soos om die grond te tref, ook om in ag te neem op daardie hoogte sal jy die water teen oor die 90km/h tref. Enige iets oor 10 meter begin baie gevaarlik raak as jy nie weet wat jy doen nie.

Casper ·

Nantes is my suster se seun.Ek het verstaan die krans is 13.4 meter hoog.As jy 34 meter hoog van ‘n krans afgespring sal jou lewer en milt op inpak bars.Ja hy was vir niks bang nie en ook nie vir uitdagings nie.Beskeie en nederig was sy uitstaande eienskappe.

LD ·

So jammer vir julle verlies! Baie sterkte vir julle familie. Ekt ook gewonder oor die 34m, dis darem maar baie hoog. 13.4m klink vir my meer reg.

Casper ·

Ek het verskeie kere na die video opname gekyk en dit is duidelik dat Nantes die water nie loodreg getref het nie maar effe met sy rug wat fataal was.In my hart glo ek hy is dood met inpak vanwaar die feit laat hy nie weer opgekom het nie.Vir one as familie bly dit hartseer en ek sukkel nog om myself met die werklikheid te versoen dat dit finaal verby is.Hy lewe egter in ons gedagtes en harte voort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.