Emfuleni keer vir paaltjies oor krag

Inwoners van Vanderbijlpark in Gauteng sê hulle is verby keelvol vir swak dienslewering. (Argieffoto: Maroela Media)

Swak dienslewering deur die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit in Gauteng duur nou al jare, maar Gilberto Martins, hoofadministrateur, sê daar word onophoudelik gewerk om dié situasie om te keer.

Maroela Media het vroeër berig sakelui van Vanderbijlpark, wat onder hierdie munisipaliteit val, is raadop oor die probleme, veral wat behoorlike en konstante kraglewering behels.

“Ja, daar word vordering gemaak. Is dit teen die regte spoed? Nee. Is dit genoeg? Nee,” sê Martins by navraag oor inwoners se frustrasie.

Sommige sake-eienaars oorweeg om hul ondernemings elders te verskuif of om summier hul deure te sluit weens die voortgesette probleme.

Abrie Hanekom, ʼn sakeman van Vanderbijlpark, sê hy het reeds drie van sy ondernemings se deure gesluit en hy oorweeg om dieselfde met sy ander ondernemings te doen. Hy betaal sy heffings elke maand getrou, sê Hanekom, maar die plaaslike owerheid bring nie sy kant nie.

“Weens die munisipale probleme is hierdie lankal nie meer ʼn nywerheidsentrum wat floreer nie,” sê hy.

Die plaaslike owerheid is in 2018 onder administrasie geplaas en Martins is verlede jaar aangestel om ʼn span te lei om die verdere ineenstorting van basiese dienste te stuit.

Die munisipaliteit skuld Eskom sowat R4,5 miljard, terwyl skuld aan Rand Water sowat R1,5 miljard beloop. Dít terwyl die munisipaliteit self sowat R7 miljard in gelde geskuld word.

Martins sê inwoners en sakelui se frustrasie is heeltemal verstaanbaar, maar hy pleit vir geduld. “Oor die laaste jaar is daar heelwat vordering gemaak, hoewel dit nie vinnig genoeg is nie.”

Hy hou egter vol dat werk ook agter die skerms gedoen word. Paaie word herstel en daar word werk gemaak van rioleringsprobleme. Martins sê die nuwe burgemeester wat ná verlede jaar se plaaslike regeringsverkiesing aangewys is, asook die burgemeesterskomitee, is absoluut verbind daartoe om dienslewering weer op koers te kry.

Daar word intussen met inwoners vergader om hulle deurlopend op die hoogte te bring van werk wat gedoen word. “Inwoners was tot dusver geduldig en hulle is bereid om te help.”

Die nuwe raad besef egter sake kan nie langer so aangaan nie en weet selfs meer moet gedoen word, sê Martins.

Beheer net op papier

Nog ‘n stukkende transformator in Vanderbijlpark beteken inwoners moet self plan maak om die ligte aan te hou. (Foto: Maroela Media)

Die Grondwet gee magte aan provinsies om in te gryp by ʼn munisipaliteit wanneer hy nie sy verpligtinge ingevolge wetgewing nakom nie. Die Emfuleni-munisipaliteit word in hierdie stadium ingevolge art. 139(1)(b) bestuur, wat beteken die provinsiale regering aanvaar verantwoordelikheid omdat die munisipaliteit nie sy verpligtinge kon nakom nie.

Kobus Janse van Rensburg van die Emfuleni-belastingbetalersvereniging (Erpa), sê egter dit beteken Martins se hande is eintlik afgekap, omdat hy slegs ʼn ondersteunende rol speel. Hy meen die raad moet ontbind word en ʼn administrateur moet sake ten volle oorneem.

“Dit is waarheen ons neig en slegs dan sal ʼn administrateur werklik ʼn verskil kan maak. Sy rol word nou gekniehalter deur die huidige bestuur van Emfuleni.”

Na talle hooggeregshofsake loop daar volgens hom nou meer rioolvuil in die Vaalrivier as ooit tevore. “Die raad se beloftes is leuens. As hulle begin praat, maak ons ons ore toe, want ons weet dit is ʼn leuen.

“Die prioriteit vir hierdie raad is hulle salarisse. Dit gaan meer oor hulle volstruisleerskoentjies, Louis Vuitton-handsakke, partytjies en die Johnny Walker Blue wat hulle kan drink.

“Dít is wat vir hulle saak maak: die status.”

Janse van Rensburg sê die beloftes wat die plaaslike owerheid maak, word allermins op grondvlak gesien of gevoel. “Vullisverwydering gebeur minder, meer riool loop in die rivier en daar is meer kragonderbrekings as tevore. Die bedrog en wanbestuur gaan voort, want Martins is nie ten volle in beheer nie, maar in ʼn ondersteunende rol.

“Ons is keelvol vir hierdie situasie en ons het dit in geen onduidelike terme vir die burgemeester gesê nie.”

Duisende dispute verklaar

Belastingbetalers het reeds in 2018 begin om dispute met die owerheid te verklaar oor dienste waarvoor hulle betaal, maar wat nie gelewer word nie. Hulle doen dit ingevolge bestaande munisipale verordeninge. Hierdie verordeninge maak dit moontlik vir belastingbetalers om geld – deur die dispuutverklaring – terug te hou vir dienste wat nie gelewer word nie.

Sowat R6 miljoen is tot dusver só teruggehou en Janse van Rensburg sê ʼn hele paar duisend dispute is reeds verklaar. “Mense het ʼn punt bereik waar hulle genoeg gehad het. Ons verwag nog dispute.”

Erpa het ook reeds begin met stappe om amptenare in hul persoonlike hoedanigheid vir pligsversuim aanspreeklik te hou. “Ons gaan hulle persoonlik dagvaar en dan moet hulle die saak in hul persoonlike hoedanigheid beveg. Hulle moet self die regskoste delg.

“Daar is net geen aanspreeklikheid nie en daarom het ons geen ander alternatief as om hierdie mense in hul persoonlike hoedanigheid te dagvaar nie. Ons moet ʼn voorbeeld van iemand maak, sodat die res hul werk kan begin doen of hul baadjies vat en waai.”

Inwoners verdien beter

Inwoners van Vanderbijlpark sê vullisverwydering sukkel, rioolvuil loop steeds in die Vaalrivier in en kragonderbrekings is aan die orde van die dag. (Foto: Maroela Media)

Gerda Senekal is ʼn VF Plus-raadslid van die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit. Sy meen ook die politieke wil ontbreek om sake by Emfuleni reg te ruk. Kiesers het in verlede jaar se munisipale verkiesing weer hul kruisies agter die ANC getrek en die party is aan stuur van sake hier.

Werkloosheid staan volgens 2016-syfers op net meer as 40%, maar Senekal sê dat dit tans tot soveel as 56% kan wees. Dit is dus onontbeerlik dat ʼn gunstige omgewing vir sakelui geskep word.

Volgens die VF Plus vorder die Emfuleni-munisipaliteit maandeliks sowat R350 miljoen in inkomste in, maar ʼn groot deel hiervan word glo gebruik bloot om staatsamptenare se salarisse te betaal.

Senekal sê die VF Plus het die burgemeester van Emfuleni, Sipo Radebe, reeds gevra om dringend die kragprobleem te pak en verslag te doen oor hoeveel geld van die 2020/21-begroting bestee is vir onderhoud en opgradering aan die elektrisiteitnetwerk. ʼn Bedrag van R165 miljoen is hiervoor begroot.

“Emfuleni was verlede jaar gereeld sonder elektrisiteit weens verskeie substasies wat aan die brand geslaan het en woongebiede twee keer per week vir ure en selfs dae lank sonder krag gelaat het.

“Sedert 1 Januarie vanjaar tot op hede is Vanderbijlpark al vir vier keer tot twaalf ure sonder elektrisiteit gelaat wat meer ondernemings dwing om hul deure te sluit of te hervestig in Midvaal, Sasolburg en selfs Rustenburg,” sê Senekal.

“Die onttrekking van groot sake-ondernemings lei tot werkverliese en die verdere verarming van die gebied.”

Senekal sê die munisipaliteit het inwoners in die steek gelaat en is boonop basies bankrot – wat dienslewering verder bemoeilik.

“Die VF Plus skryf die algehele verval van die munisipaliteit toe aan die jarelange finansiële wanbestuur, korrupsie, selfverryking, vermorsing en verkeerde prioriteite onder ANC-beheer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.