Emfuleni: Oortydgeld kelder vullisdiens

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Die VF Plus sê hy is ontevrede oor die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit in Gauteng wat volgens dié party nie geld het om sy stukkende vullisverwyderingsvragmotors te herstel nie, maar derduisende rande kan opdok vir oortydgeld.

Volgens Piet Smith, VF Plus-raadslid in die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit, betaal die Emfuleni-munisipaliteit – wat Evaton, Sebokeng, Vaal Oewer, Vanderbijlpark en Vereeniging bedien – meer as R800 000 aan oortydgeld aan werkers van die vullisverwyderingsdepartement. Dié oortydbetaling is vir munisipale werkers wat noodgedwonge naweke moet werk om die agterstand met vullisverwydering te probeer inhaal.

Boonop gaan meer as R15,1 miljoen vir die salarisse van 19 senior navorsers en ondersteuningspersoneel.

“Dit is onnodige uitgawes en die geld kon eerder aangewend word vir die herstel van munisipale voertuie en om brandstof aan te koop,” sê Smith.

Volgens Smith is 36 van die 39 voertuie van die vullisverwyderingsvloot van Emfuleni tans in die motorhawe vir herstelwerk. Die drie oorblywende vragmotors staan glo ook dikwels sonder brandstof weens die munisipaliteit se kontantvloeiprobleme.

Smith sê dié probleem bestaan lank reeds en het veroorsaak dat die munisipaliteit die afgelope drie jaar slegs elke tweede week vullis verwyder.

“Baie van die stukkende vragmotors het min aandag nodig soos die vervanging van ʼn battery of buiteband,” sê Smith.

Volgens Smith stort inwoners nou onwettig hul vullis in parke of langs paaie wat weer verdere probleme veroorsaak.

“Inwoners dreig ook met ʼn klasaksie teen die munisipaliteit om ʼn gedeelte van die geld wat betaal word vir vullisverwydering aan hulle terug te betaal, aangesien die diens nie gelewer word nie.”

Die Gautengse regering het Emfuleni in 2018 onder gedeeltelike administrasie geplaas, maar volgens Smith is geen verbetering in dienslewering of in die munisipaliteit se geldsake te bespeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Piet 6 ·

Dit is algemeen bekend dat die werkers die trokke se bande en batterye beskadig sodat hulle nie deur die week kan werk nie en dan naweke oortyd moet werk om die agterstand in te haal. Daar is verskeie videos op sosiale media.

Yvonne ·

Hoe op die aarde is dit moontlik dat die voortslepende toestande geduld kan word….dit gaan my verstand te bowe

Kokerboom ·

Dis diefstal en onregmatige roof van belastingbetalersgeld!
Wanneer gaan die kopdoek kaderminister haar werk doen? Wanneer gaan die ruggraatlose President wakker skrik en sy werk doen? Wanneer gaan belastingbetalers ruggraat toon en befondsing van die ANC twak stop?

ES ·

Ongelukkig is die “befondsing” in die vorm van belasting, wat ‘n kriminele oortreding is as jy dit nie betaal nie. So hoe kan ons dit stop? Dit kom van als af. Ons voedsel aankope, brandstof, inkomste ens. So dit is ongelukkig nie moontlik om hul befondsin te stop nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.