Emfuleni se kragprobleme dalk verby?

Inwoners van Vanderbijlpark was oor die afgelope drie jaar altesame 372 dae sonder krag. (Argieffoto: Maroela Media)

Die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit gaan nou R174 miljoen aan die opgradering en instandhouding van die kragnetwerk in dié munisipaliteit bestee.

Inwoners van Evaton, Sebokeng, Vaaloewer, Vanderbijlpark en Vereeniging gaan al jare onder swak dienslewering gebuk, onder meer probleme wat behoorlike en konstante kragvoorsiening betref.

Volgens Gerda Senekal, VF Plus-raadslid, was inwoners van Vanderbijlpark oor die afgelope drie jaar altesame 372 dae sonder krag weens foutiewe kabels, beskadigde substasies en kabeldiefstal.

Maroela Media het vroeër berig dat sommige sake-eienaars op dié dorp al oorweeg om hul ondernemings elders te skuif of om summier hul deure weens die voortgesette probleme te sluit.

Emfuleni is in 2018 onder administrasie geplaas om ʼn totale ineenstorting te voorkom.

Die munisipaliteit skuld Eskom sowat R4,5 miljard, terwyl skuld aan Rand Water sowat R1,5 miljard beloop. Dít terwyl die munisipaliteit self sowat R7 miljard in gelde geskuld word.

Senekal sê daar is reeds in 2019 ʼn raadsbesluit geneem om die kragnetwerk op te gradeer, maar dat die munisipaliteit weens wanadministrasie versuim het om die besluit te eerbiedig.

“Die VF Plus het die munisipaliteit in 2019 gedwing om ʼn verpligte klousule in die Nersa-verspreidingskontrak, naamlik dat 6% van kragverkope vir die instandhouding en opgradering van die kragnetwerk aangewend moet word, ʼn raadsbesluit te maak.”

Die party meen die munisipaliteit het nou danksy volgehoue druk bes gegee om R174 miljoen uit die 2020-‘21-begroting vir dié doeleindes te bewillig.

“ʼn Totaal van R20 miljoen sal in die volgende ses maande aan die opgradering van die kragsubstasie in Curie‑boulevard bestee word. Byna die helfte van Vanderbijlpark is van dié substasie afhanklik.

“Die substasie is in 2019 in ʼn brand beskadig en die munisipaliteit het nie genoeg geld gehad om dit te herstel nie. Die VF Plus het destyds ʼn bedrag van R270 000 ingesamel om die dak van die substasie te herstel.”

Die VF Plus sê hy sal sy druk op Emfuleni volhou om die dienste te lewer waarvoor belastingbetalers ten duurste betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

‘n Klassieke verhaal in sa. Skuld, skuld en nog skuld en dan is geen dieslewering die kersie op die koek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.