Emigrasie – die syfers, redes en implikasies

emigrasie

Foto ter illustrasie. Foto: Johannes Rapprich/Pexels.com

Mediese dokters, ingenieurs, onderwysers, vakmanne en afgestudeerdes – dit lyk of talle vaardige en opgeleide Suid-Afrikaners nou opnuut hul tasse pak om hulself in die buiteland te gaan vestig.

Hoekom wil hulle groener weivelde gaan opsoek? Die redes wat aangevoer word, is ʼn hoë misdaadsyfer, verlies aan werksekuriteit en ekonomiese onsekerheid wat hulle dryf na lande soos die Verenigde Koninkryk en Australië.

Hoeveel mense verlaat die land en watter impak het die verlies aan broodnodige vaardighede op Suid-Afrika? Maroela Media het die kwessies gaan ondersoek.

Die mening van beroepslui

Altesaam 42% van gegradueerde beroepslui wat aan ʼn PPS-peiling deelgeneem het, het gesê hulle kry nie in Suid-Afrika werk wat by hul vaardighede pas nie en wil daarom oorsee werk gaan soek.

Die versekeraar vir beroepslui, wat ingenieurs, medici en rekenmeesters insluit, het in Januarie ʼn peiling onder 5 837 van sy lede saamgestel. Die peiling het getoon die aantal gegradueerde beroepslui in onder meer die mediese, rekenkundige, regs-, ingenieurswese en korporatiewe bedryf wat toegewyd bly tot ʼn loopbaan in Suid-Afrika het afgeneem, al word die behoefte aan hul vaardighede net groter in die land.

Motshabi Nomvete, PPS se hoof van tegniese bemarking, sê 43% van die respondente was erg bekommerd oor politieke kwessies, terwyl 27% hulself oor die ekonomie bekommer.

“Volgens ons peiling oorweeg Suid-Afrika se geskoolde beroepsmense toenemend die opsie om te emigreer aangesien hulle die finansiële vermoë het en gekwalifiseerd is om te gaan,” sê Nomvete.

Sy meen dié neiging het verreikende implikasies vir die ontwikkelingsdoelwitte van die land.

“Geskoolde beroepsmense het ʼn kritieke rol in die werksomgewing, asook in die vorming van die toekoms van Suid-Afrika. Hierdie mense is gewoonlik ook die belangrikste bydraers tot die land se belastinginkomste.

“As die aantal hoogs geskoolde beroepmense verminder, word dit ook in die inkomste weerspieël wat deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ingevorder word.”

Dit is iets wat BankservAfrica beaam. Hulle ontleding van data oor alle salarisse wat deur hul stelsel vloei het getoon die aantal salaristrekkers het in Februarie met 9,1% gedaal.

Die maatskappy bedien banke, maatskappye, die regering en die kleinhandelbedryf.

Luidens ʼn maandelikse indeks van besteebare inkomste lyk dit of talle mense in veral die hoër inkomstegroepe die stelsel verlaat.

Dit was in Februarie ook al die agtste opeenvolgende maand dat dié neiging voortduur.

“Die data wys dat daar minder mense is wat werk en dat minder belasting dus in totaal betaal word. Dit kan beteken invordering van persoonlike inkomstebelasting sal waarskynlik in die nabye toekoms teleurstellend wees,” het die maatskappy gesê.

‘Huis te koop; ek emigreer’

Volgens FNB se eiendomsagentepeiling het 14,2% van alle mense wat hulle huise in die eerste kwartaal van 2019 verkoop, emigrasie as rede aangedui.

Dit is ʼn skerp styging van die 10% in die vierde kwartaal van 2018 en die syfer het verdubbel sedert 2017.

Volgens die peiling is verkope weens emigrasie algemeen aan kusstreke en in luukse woonbuurte. Sowat 18,8% van superrykes het aangedui hulle verkoop om te emigreer.

Dit maak emigrasie nou die derde grootste rede waarom mense hul huise in Suid-Afrika wil verkoop. Die twee ander algemene redes is steeds dat mense na ʼn kleiner huis afskaal namate hulle ouer word of moet afskaal omdat finansiële nood hulle daartoe dwing.

Biddulphs, ʼn verhuisingsmaatskappy, het aan Carte Blanche in ʼn onlangse insetsel oor migrasie gesê hulle het in 2013 nog 15 Suid-Afrikaners teruggebring vir elke tien wat geëmigreer het.

Owen Farmerey, uitvoerende hoof van die maatskappy, sê nou emigreer 45% meer van hul kliënte as in 2015. Volgens hom is die gewildste bestemmings Brittanje, Australië, Nieu-Seeland en die VSA.

Syfers en redes

Sihle Mthiyane, waarnemende beleidshoof vir die departement van binnelandse sake, het erken daar is ʼn toename in Suid-Afrikaners wat die land verlaat om hulle in ontwikkelde lande te gaan vestig.

Mthiyane sê daar is egter geen akkurate syfers wat verskaf kan word vir hoeveel Suid-Afrikaners die land in die laaste vyf, of selfs tien jaar verlaat het nie.

Die stelling word deur Africa Check beaam wat sê dit is moeilik om akkurate syfers vir emigrasie te verskaf aangesien emigrante sedert 2003 nie meer die B1 117-vorm hoef te voltooi as hulle die land deur een van die drie grootste internasionale lughawens verlaat nie.

Die departement het in 2017 ʼn witskrif oor emigrasie gepubliseer waarin aangedui is swart professionele mense verlaat die land nou in selfs groter getalle as hulle wit landsgenote.

Africa Check het bevind die witskrif het op syfers van 2006 staatgemaak en op ʼn vooruitskatting gewerk dat die getal jaarliks met 9% sal groei.

Baie van die private organisasies wat met emigrasie werk het aan Africa Check gesê hulle meen die getalle van emigrante kan veel hoër wees.

Tog lyk dit of die buiteland akkurate syfers oor Suid-Afrikaanse inkomelinge byhou.

Australië sê 162 448 Suid-Afrikaners het teen 2016 in dié land gewoon en 67% van hulle het oor ʼn tersiêre kwalifikasie beskik.

Maroela Media het in Januarie ʼn meningstuk van Johannes Wessels, die direkteur van The Enterprise Observatory of South Africa, gedra waarin hy aangevoer het vir elke een geleerde wat na Suid-Afrika immigreer, emigreer agt geleerde Suid-Afrikaners.

Wessels het gesê een van die grootste redes wat emigrasie dryf is die regering se beleid van swart ekonomiese bemagtig (SEB).

In die meningstuk het hy gevra of Tito Mboweni, minister van finansies, gebruik sal maak van sy raadgewer, die Harvard-ekonoom Ricardo Hausmann se destydse raad oor SEB. Hausmann, bekend vir sy kundigheid oor mislukte state, het die regering al aangeraai om onder meer ʼn klousule in te stel van wanneer SEB afgelas sou word.

Die raad is egter geïgnoreer en die administrasie onder oudpres. Jacob Zuma het SEB en regstellende aksie met selfs groter ywer nagejaag.

Mooipraatjies sal nie emigrasie keer nie

Mthiyane het aan Carte Blanche bevestig sy departement is bekommerd oor ʼn tweede breinkwyn.

“Suid-Afrika benodig geskoolde en professionele beroepslui as ons in die land se plaaslike ekonomie wil belê.”

Nomvete meen as soveel mense uit die professionele beroepslui die land wil verlaat, is dit ʼn krisis wat elke landsburger bekommer moet laat. Sy glo egter ook die breinkwyn kan omgekeer word as die regering met die private sektor saamwerk.

“In die beste vooruitsig kan Suid-Afrika se talentvolste mense dalk selfs terugkeer.”

Alana Bailey, uitvoerende adjunkhoof van AfriForum, sê as die regering regtig ernstig is om emigrasie te keer of dit wil omdraai, sal dit konkrete bewyse moet verskaf dat Suid-Afrika besig is om te herstel.

“Mooi beloftes sal nie help nie. Mense is bekommerd oor eiendomsreg, loopbaangeleenthede, rassekwotas, kaderontplooiing, tenderpreneurs en die vernietiging van sakegeleenthede.

“Die kwessies weeg swaarder wanneer hulle besluit om te emigreer of na Suid-Afrika terug te keer.”

Bailey sê die burgerregte-organisasie het sedert sy ontstaan noue verbinding met Suid-Afrikaners in die buiteland.

“Die meeste van hulle wat op AfriForum se peilings reageer, droom daarvan om na Suid-Afrika terug te keer, maar dink nie dit is sinvolle opsie as hulle gebeure in die land dophou nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

58 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois le Cochon

Hoe meer kundiges die land verlaat, hoe minder werks geleenthede gaan daar wees. Kundiges, en mense met geld skep werk, nie die staat nie.

Ons ook

Ek en my vrou ook oppad Australië toe. Word wakker asb, ons avontuur in Afrika is verby. Die tuiste van die meeste van ons is elkgeval in die hemel by die Heer. Ek weier om verder my kundigheid hier te vermors en my pêrels voor varke te gooi.
Dit is hartseer maar dit is ons keuse.

Oom Jaco

Ai, hoe wens ek dat ek ook hierdie land kon verlaat…

PJC

Daar is nog hier en daar werkgeleenthede. Die groot probleem is egter dat omtrent orals waar jy werk is die ou in beheer onbevoeg maar het die werk gekry omdat hy die regte kleur of ń kader is. Drie van my vier kinders is reeds landuit saam met my enigste twee kleinkinders. Die oorblywende seun en sy vrou vertrek ook teen die einde van die jaar oorsee. Almal het goeie beroepe en doen ongelooflik goed in hul loopbane oorsee. Alhoewel ń mens verlang na jou kinders kan jy hulle nie dit ontsê wat hulle nou het nie want hulle toekoms… Lees meer »

Deon

Die SA ekonomie is aan die kwyn. Groot maatskappye is onder finansiële druk, sny plaaslike investering, verminder personeelgetalle en belê eerder in die buiteland. Ramaphosa se plan om buitelandse beleggers te lok kom nie van die grond af nie. Dit sal emigrasie verder dryf. Vir dié wat agterbly gaan belasting ‘n nagmerrie word, want die ANC se sosiale programme gaan baie kos.