Emirates skort passasiersvlugte op

Foto: (AP Photo/Jon Gambrell, File)

Een van die wêreld se grootste lugrederye, Emirates, het aangekondig dat hy van Woensdag af al sy passasiersvlugte opskort.

Die staatsbeheerde lugdiens het Sondag in ʼn verklaring benadruk dat hy sal voortgaan om vrag, waaronder noodsaaklike goedere soos mediese voorraad, oor die hele wêreld met sy Boeing 777-vragvliegtuie te vervoer.

Emirates gaan ook die salaris van sy meerderheid werknemers vir drie maande verlaag, maar nie poste besnoei nie.

Emirates het gesê hy het “so lank moontlik” passasiersvlugte probeer bedryf om reisigers te help om terug te keer te midde van die reisverbod, beperkings en sluitings wat deur talle lande aangekondig is.

Sjeik Ahmed bin Saeed Al-Maktoum, uitvoerende hoof en voorsitter van Emirates, het die situasie as ʼn ongekende krisis beskryf en gesê die wêreld het letterlik in kwarantyn gegaan weens die koronavirus en die Covid-19-siekte wat dit veroorsaak.

Al-Maktoum het gesê die lugredery het aan die begin van die jaar finansieel goed gevaar, maar die virus het dit “die afgelope ses weke skielik en pynlik tot stilstand gebring”.

“Ons bevind ons in ʼn situasie waar ons nie passasiersdienste lewensvatbaar kan bedryf totdat lande hul grense weer oopmaak en reisvertroue terugkeer nie.”

Emirates het in sy mees onlangse boekjaar ʼn wins van $237 miljoen aangeteken. In die vorige boekjaar het die lugredery ʼn wins van $762 miljoen aangeteken.

Emirates het verlede jaar ongeveer 58 miljoen passasiers vervoer.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Cherokee

En die MSC Orchestra is steeds in die hawe nadat die luukse hotel-op-water Vrydag vanaf Pomene eiland in Mosambiek terug gekeer het. Daar’s geen kans dat dit onder kwarantyn kan wees want die passasiers is lankal by hul huise, besig om fotos uit te sorteer.

Hennie

Dit het ook weer verander. Emirates skort nie meer aale vlugte op nie. Regerings het gevra dat vlugte nog steeds gedoen word na verskeie lande.