Emosionele dogter getuig oor moord op pastoor-ma

Stefan Visser Donderdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Stefan Visser (29), wat in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind is vir die moord op sy skoonma, past. Elsabe van Niekerk (55), wou nie Donderdag self in die hof getuig soos verwag is nie.

Visser se vonnisverrigtinge het Donderdag begin met getuies wat geroep is om ter verswaring en versagting van vonnis te getuig.

Adv. Philip van Staden, Visser se regsverteenwoordiger, het aan regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen gesê hy het aan sy kliënt verduidelik dit sou tot sy voordeel wees om self te getuig. Visser het glo Woensdag ingestem om te getuig, maar teen Donderdag van besluit verander en aangedui dat hy nie wil getuig nie.

Adv. Pieter Luyt, vir die staat, het wel vir Leandi Visser (30), Stefan se vervreemde vrou en Van Niekerk se dogter, as getuie geroep om ter verswaring te getuig.

“Wat was die invloed van die moord op u moeder op u gesin en u vader?” het Luyt aan ʼn emosionele Leandri gevra.

“Dit was een van die moeilikste gebeure in ons lewe. Dit het ons hele familie uiteengeskeur, want my ma was die steunpilaar in ons lewe.”

Sy het gesê veral haar en Visser se kinders is erg getraumatiseer en dat sy, die kinders en haar pa [Dirk van Niekerk wat op sy vrou se liggaam afgekom het] vir berading moes gaan.

“Ons kinders soek na hul ouma. Hulle verstaan nie hoekom daar nie besoektye in die hemel is om vir haar te kuier nie. My pa gaan deur ʼn verskriklik moeilike tyd. Hy gaan elke dag agteruit. Sy was sy lewe gewees. Sy gesondheid gaan agteruit. Hy is die enigste een wat oor is vir ons en ons wil hom nie verloor nie.”

Leandri het gesê sy moes haar eie onderneming, ʼn fotografiebesigheid wat sy saam met haar ma bedryf het, toemaak omdat sy nie meer sonder haar ma kon werk nie. Haar dood het die gesin finansieel geknak en hulle is besig om hul huis te verloor.

Leandri het getuig Stefan was vir haar ma soos ʼn tweede kind nadat hy op 17-jarige ouderdom by hulle ingetrek het.

“Sy sou hom berispe as hy iets verkeerds gedoen het, soos enige moeder sou. Wat sy aan my gedoen het, het sy aan hom gedoen; dit is hoekom ons as gesin nie regtig kan verstaan hoekom hy haar so wreed vermoor het nie.”

Luyt het uitgevra oor die verhouding tussen Van Niekerk en Visser ten tyde van hul egskeiding en sy het geantwoord: Sy sou hom bystaan en raad gee oor hoe om die egskeiding te hanteer.

Leandri Visser (tweede van links) en Dirk van Niekerk (vierde van links) Donderdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Volgens Leandri was haar en Visser se verhouding aan die begin van die egskeidingsproses in 2015 “rof” gewees, maar hulle het die laaste maand [voor die moord] mekaar begin verstaan en per WhatsApp besoektye met die kinders gereël.

Van Staden het in sy kruisondervraging uitgelig dat die voorval tydens die rugbywedstryd [waar Dirk en Visser ʼn woordewisseling gehad het] Visser woedend gemaak het.

Hy het dit gestel dat Visser op die dag van die moord [11 April 2016] nie seker kon wees dat Van Niekerk by die werkswinkel [waar sy vermoor is] sou wees nie, aangesien sy slegs periodiek soontoe gegaan het.

Van Nieuwenhuizen het Leandri geloof vir haar bereidwilligheid om te getuig en gesê dit is ʼn moeilike en brawe ding om te doen. “U is reeds ʼn voorbeeld vir die vrou wat na u ma klink.”

Van Staden het aan die hof versoek dat ʼn straf van 15 jaar tronkstraf geskik sal wees aangesien dit Visser se eerste oortreding is, hy nie die hof se tyd gemors het nie en wel berou toon.

Van Nieuwenhuizen het egter kapsie gemaak en gesê daar is geen bewyse aan die hof verskaf dat Visser berou toon nie, aangesien hy nie wou getuig nie.

“My kliënt het nie getuig soos beplan nie en dit kan moontlik emosionele kwessies wees. Ons versoek genade en dat die beskuldigde nie ʼn lewenslange vonnis kry nie. Die moord was nie vooraf beplan nie, maar uit woede,” het Van Staden geantwoord.

Luyt het egter gesê die staat versoek ʼn minimum vonnis van 30 jaar tronkstraf.

“Die geweldige mate van geweld waarmee die oorledene aangeval is, wys hy het geen berou nie. Selfs terwyl hy haar aangeval en agtergekom het ʼn buurman neem hom op ʼn selfoon af, het hy slegs ʼn klapmus oor sy gesig getrek en haar aanhou steek,” het Luyt gesê.

Visser het meestal tydens die hofverrigtinge met sy arms gevou in die beskuldigdebank gesit, geklee in ʼn denim en vlootblou T-hemp. Hy het min emosie getoon.

Van Nieuwenhuizen het die hof verdaag om te besluit wat ʼn geskikte vonnis vir Visser sal wees.

Visser sal na verwagting Vrydag gevonnis word.

Stefan Visser Donderdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wors

Jy bly my bloed en weet net hier buite is baie wat vir jou omgee.maar JESUS het almal lief en liefde is wat baie se op aarde maar hoe hulle dit wys deur goed so te se asof hul in die persoon se skoene was is agteraf.ek respekteur wat die hof besluit en hoee jou hart klop.die engelle is met jou en my vlees en joune is een vir JESUS.love u brother fish.en die wat wil judge asb ek is beskikbaar en sal wil luister.maar lees eers Matt 7 want die lippe is mos los.sterkte aan leandri en ha pa… Lees meer »

suzie jordan

Ek oordeel nie en wil net graag weet…. as hy berou toon, hoe kan hy dan “min emosie” toon. Dis goed en wel dat hy erken hy was stout gewees en stout kinders moet maar hul pak vat.

Anaq

Kyk ek het nie die storie gevolg nie, vandag eers gelees vir eerste keer – en ken nie die hele storie nie maar:

SELFS TERWYL HY HAAR AANGEVAL HET EN AGTERGEKOM HET ‘N BUURMAN NEEM HOM OP SELFOON AF … WTH

kon die buurman nie inspring en haar help nie???

Zella

Anaq, ek is selfs wit maar vandag se mense wil nie betrokke raak nie… hul wil nie ander mense help nie… Hoekom sal iemand by so iets wil betrokke raak in vandag se tyd? Boere staan min bymekaar en help min mekaar… Dis afgryslik dat as iemand dit gesien het nie die dame gehelp het nie… Ek sou probeer help het al was dit om die nood dienste te bel of selfs die polisie… Ons volk is nie meer wat dit was nie…

cor

Zella dit is nie n geval van nie betrokke raak nie, maar wel n geval van hierdie ou is beserk en kan met een swaai van die mes my keel afsny, want as een onder invloed is of beserk raak kan niemand hom beheer nie en die kanse dat jy beseer raak of sterf is 99% het jy al gesien as so iemand uithaak ek glo nie want dan sal julle nie die stelling maak niemand wil betrokke raak nie. Die ander ding vandag se dae word dit so miklik geswaai en dan word jy die skuldige gemaak ongeag of… Lees meer »