Empatiese Tukkie help ander ook ná haar dood

Annien Müller (22) het Sondag in ’n fratsongeluk gesterf. (Foto: Verskaf)

Wyle Annien Müller (22) se grootste droom was om ʼn dokter te word sodat sy ander kan help. Dáárom het haar gesin besluit om haar beenweefsel te skenk – iets wat die gesin weet hul empatiese kind en sussie met haar groot hart gelukkig sou maak.

Müller, ʼn mediese student aan die Universiteit van Pretoria, is Sondag in ʼn fratsongeluk op die N14 naby Lanseria dood. Sy het haar kêrel, Reino von Wielligh (29), te hulp gesnel nadat sy motor gerol het, en is toe self deur ʼn ander motor getref. Die paartjie het in twee afsonderlike voertuie gery en was op pad terug Pretoria toe nadat Müller se tweelingsussie, Carolien Scheepers (22), Saterdag in Potchefstroom getrou het.

Riandi van Rensburg (28), die tweeling se ousus, sê Müller was ʼn groot voorstander van orgaanskenking. Omdat baie van haar organe in die ongeluk beskadig is en nie geskenk kon word nie, het die gesin besluit om Müller se beenweefsel te skenk. Van Rensburg sê dié skenking kan help om tot 170 mense se lewe op verskeie maniere te verbeter, wat sy weet haar kleinsus graag sou wou doen.

Annien Müller en haar kêrel, Reino von Wielligh, by hul hond, Xara. Xara het ná die ongeluk weggehardloop en word steeds vermis. (Foto: Verskaf)

Sy sê haar sussie was ʼn diep mens wat soveel empatie en meegevoel met ander gehad het – iets wat haar ook tot ʼn loopbaan in die mediese veld geroep het.

“Ja, sy was ʼn lawwe, gelukkige mens wat baie geglimlag het. Maar Annien was ook ʼn diep persoon wat alle emosies in oorvloed ervaar het – nie net haar eie emosies nie, maar ook ander mense sʼn.

“As sy of iemand anders hartseer was, het sy dit baie diep ervaar. Sy was ook ʼn gelowige mens.”

Van Rensburg sê selfs wanneer Müller as deel van haar studie met kadawers moes werk, het sy nooit vergeet dat dit ʼn mens was wat iemand liefgehad het en nou aan haar ʼn geleentheid bied om te leer nie. Sy het dit nooit as ʼn blote “kliniese proses” beleef nie.

Van Rensburg sê haar sussie was ook iemand wat vir haarself hoë standaarde gestel het en baie hard sou werk om haar doelwitte te bereik. Müller het aanvanklik aptekerswese aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer, maar het nooit haar droom om medies te studeer, laat vaar nie.

“Sy het baie deursettingsvermoë gehad. Ons is so trots op alles wat sy in haar kort lewe bereik het.”

Annien Müller en haar tweelingsussie, Carolien Scheepers, op Scheepers se troudag. (Foto: Facebook)

Müller sal ook onthou word as iemand wat altyd moeite vir en met ander gedoen het.

“Haar liefdestaal was gee. Sy sou altyd handgemaakte presentjies of kaartjies vir mense maak.”

Vreugde te midde van hartseer

Van Rensburg sê voorts hoewel dit uiters tragies is dat Müller so kort ná Scheepers se troue gesterf het, sal hulle die vreugde en geluk wat hulle as familie op dié dag saamgevier het altyd koester.

“Ons moet die hartseer hanteer, maar ook ruimte los vir geluk.”

Sy vertel dat Müller tydens ʼn toespraak by Scheepers se troue aan haar tweelingsussie gesê het dat sy nou “ʼn nuwe maatjie” het.

“Op ʼn manier vind ons vertroosting daarin. Want hoewel Carolien haar beste maatjie verloor het, en ons ook, het sy ook ʼn nuwe maatjie gekry.”

Sy sê Annien se dood het haar ook opnuut laat besef hoe kosbaar tyd saam met jou geliefdes is.

“Werk is nie alles nie. ʼn Mens weet nooit hoe kort ʼn mens se familietyd nog is nie.”

Müller se goeie vriendin, Marguerite Olivier, sê sy was ʼn voorbeeld en inspirasie vir almal om haar.

Annien Müller by haar gesin. (Foto: Facebook)

“Jy was so ʼn groot en helder lig in die samelewing, my Niena. Jou hart van goud, jou bereidwilligheid en hardwerkendheid was iets waarby ek elke dag geleer het.”

Nog ʼn vriendin, Clara Pretorius, sê dit was vir Annien “tweede natuur” om iemand anders te help.

“Annien sal altyd onthou word vir haar stralende glimlag, kinderlike opgewondenheid en liefde vir Jesus wat oorgestroom het in alles wat sy gedoen het.

“Haar lewe is kortgeknip, maar die diep invloed wat sy op soveel lewens gehad het, sal vir ewig voortleef.”

ʼn Roudiens sal na verwagting dié naweek vir Müller gehou word. Die finale reëlings is nog nie getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.