EMPD slaan die sweep op paaie

Beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie besig met ʼn padblokkade. Foto: EMPD

Die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD) toon geen genade om wetteloosheid op die Oos-Randse paaie hok te slaan nie en het vandeesweek reeds 13 motoriste weens verskeie oortredings in hegtenis geneem.

Hoofsupt. Wilfred M Kgasago, woordvoerder van die EMPD, sê drie spoedvrate is Woensdag tussen 06:00 en 08:00 op die lughawepad tussen Burns- en Rangeview-weg in hegtenis geneem nadat hulle die spoedgrens van 80 km/h oorskry het.

“Twee mansbestuurders, onderskeidelik 23 en 33 jaar oud, kon geen redes gee hoekom hulle teen 118 km/h en 120 km/h gejaag het nie. Die derde jaagduiwel, ʼn 35-jarige vrou in ʼn Land Rover-sportnutsvoertuig, is gevang waar sy 119 km/h ry en het aangevoer sy is laat vir ʼn ontbytvergadering,” sê Kgasago.

Al drie motoriste is in hegtenis geneem en by die Brakpan-polisiestasie aangehou op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur. Hulle is later op waarskuwing vrygelaat en moet binnekort in die Brakpan-landdroshof verskyn.

Dit was egter nie die enigste spoedoortreders wat deur die EMPD vasgetrek is nie. Dinsdag het metropolisiebeamptes van die EMPD-spoedeenheid motoriste se spoed op Putfonteinweg tussen Van Rhyn- en Noordweg gemonitor. Die spoedsone hier is 60 km/h.

Beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie besig met ʼn padblokkade. Foto: EMPD

Altesaam sewe mans is in hegtenis geneem wat teen ʼn spoed van tussen 96 km/h en 134 km/h gejaag het. “Hulle het almal beweer hulle is laat vir werk of moet jaag om kollegas op te laai,” sê Kgasago.

Al sewe motoriste is in die Crystal Park-polisieselle toegesluit. Hulle sal binnekort in die Benoni-landdroshof verskyn.

Kgasago sê dit is nie net spoedoortreders wat vandeesweek deur die volle mag van die gereg in die gesig gestaar is nie. Die EMPD het Dinsdag ʼn padblokkade op Snakeweg opgestel waar drie motoriste weens uitstaande lasbriewe in hegtenis geneem is.

“Altesaam 204 voertuie is by hierdie padblokkade voorgekeer. Altesaam 19 bestuurders het uitstaande lasbriewe teen hulle gehad. Sestien van hulle kon die boete en die minagting van die hof-boete op die plek betaal, terwyl drie ander agter tralies opgeëindig het,” sê Kgasago.

Nog 29 motoriste moes op die plek uitstaande boetes teen hulle betaal. Altesaam R22 800 se boetes is binne drie uur by die padblokkade betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

Anoniem ·

Oi nou betaal jy boetes by di padblokkades?? Waar gaan al daai geld heen en by wie se rekening word dit in betaal

sus ·

Daar is gewoonlik ‘n mobiele kantoor waar jy kan betaal en dan ‘n kwotansie kry vir jou betaling.

M ·

Dit klink seker nie reg nie maar ek gee nie regtig om nie, solank die jaagduiwels se sakke seer kry, dis belaglik hoe sommige mense jaag.

Gemaskerde Sopbeen ·

Nog nêrens gesien of gelees dat daar groot getalle taxi’s of busse van die pad getrek is vir roekelose en nalatige bestuur, spoedgrens oorskeiding, onpadwaardigheid of oorlading nie? Die taxi en busbestuurders van SA is blykbaar die mees bevoegde en wetsgehoorsame padgebruikers in die wêreld, né?

Nou kan ons nie meer se dis nie ons nie ·

Nee Gemaskerde Sopbeen, kom ons wees ook net eerlik ‘n slag en erken dat ons nie altyd al die foute kan deurgee aan die ander wat taxi’s en busse ry nie. Die laaste taxi ongeluk was kop aan kop met ‘n Mercedes Benz, as die taxi skuldig was dan kon die Mercedes mos uitgeswaai het? Maar as ‘n taxi in sy baan ry, swaar gelaai en ‘n ander motor kom van voor kan daardie taxi regtig uitswaai? Ons moet begin erken ons is meer skuldig as wat ons wil voorgee anders sou hierdie berig nie soveel bewyse kon gee van die hoeveelheid mense wat ‘laat’ is vir werk nie. Ek het nie gelees van ‘n taxi bestuurder wat laat was vir ‘n ontbytvergadering nie. Ek hoop al ons verkeersdienste begin hierdie doen om ‘n meer gereelde basis in gewone weeks tye van die jaar ook veral hier tussen ons dorpe in die Wes-Kaap en Stellenbosch, Somerset Wes en N1. Ons is skuldig so kom ons verander en vra vergifnis voor ons net bly vingers wys na die ander.

Michelle ·

Die polisie is vreeslik stren met die taxis en minibusse. Staan orals langs die pad en trek hulle af. Ons bussie word misgis vir taxi en polisie wou ons kort kort afterek. Polisie is baie doenig op die paaie, orals in sig. Baie goed.

Hansie ·

Hulle moes die vrou met die landrover laat gaan het, dis heelwaarskynlik die top snelheid, en word nie dikwels behaal nie ; )

marous ·

Lekker gelag . Dalk moes hulle haar betaal vir die ongelooflike prestasie

IK ·

So ry ek nou die dag langs Sharpeville verby met aankomende verkeer wat ligte flits. Ek is een vd wetsgehoorsames en ry voort. Agter my was seker so 5 karre wat meteens verdwyn het soos hulle omdraai. Inderdaad is daar ‘n padblokkade met ‘n kamera wat vir jou loer. Nodeloos om te sê dat die ‘oog’ my misgekyk het. Eerlikwaar het ek in apartheid se tyd meer onbeskofte wit spietkops gekry as deesdae. Ek sou graag wou sien dat hierdie wetstoepassing heeljaar moet gebeur.

Johann ·

Wat van die minibus taxis wat geen verkeersreëls nakom nie en duisende lewens op ons paaie kos. Ek hoop daar is ‘n paar van hulle ook toegesluit oor uitstaande boetes…amper vergeet ek, hulle sal nie uitstaande boetes hê nie want hulle word nie beboet nie!

Hou op asb ·

Kan ons asb ophou met ons rassistiese woorde!! Ons weet van menigte mense, blankes wat net eenvoudig se, dis net soveel Rand, ek gaan dit nie betaal nie! Regtig, maar ons het die wet oortree? Ons moet betaal volgens die wet, maar ons hoef nie. Ons verstaan nie as ‘n ongeluk gebeur hoe vinnig ons dan die vinger wys na ander en dis hulle skuld, mense ons gee vir satan openlik die reg om ons aan te kla voor Jesus want as ons die spoed grens oorskry en nie eers dit wil erken en boetes betaal nie dan kan hy ons aankla en God is regverdig. Hy moet dit dan toelaat, want ons is skuldig. Dink mense dit is meer as net ‘n vinnig ry van plek A na plek B, ons lewens en dit wat dit moet verteenwoordig van Jesus is nie net ‘n uur in die kerk sit nie, dis konstant en sonder ophou in elke besluit en aksie.

hendrik ·

“Hou op asb”, die berig en kommentaar gaan oor verkeersoortredings. Verduidelik aan my waar jy rassisme sien.
.

Wessel ·

Goeie werk EMPD julle stel n voorbeeld vir die ander verkeersdepartemente kry die verkeersoortreders van ons paaie

Sonja ·

Onthou dis nou vakansie die paaie stil so taxi gaan nie nou op die sypadtjie ry nie. Ek vra waarom die toepassing nie daagliks gedoen word nie. Ek is tans in Amsterdam en die regerimg kan maar gerus hier kom leer daar is net nie wet oortreders nie rooi is rooi pappie jy stop jy loop nie eers oor die pad nie – verbaas my.

Nico ·

Maak my siek as daar so oor spoed aangegaan word. Hoeveel van daardie spoed oortredings het werklik mense se lewens in gevaar gestel? In baie gevalke was daar nie eens noemenswaardige verkeer op die pad nie maar dit is mos lekker maklike geldmaak manier. Ook die uitstaande boetes is seker ook maar vir spoed. Die werklike roekelose bestuurder wat sperstrepe verobtagsaam, in die geel lyn verby gaan onpadwaardige voertuieens. kom weg want daar is mos nie iemand wat oor hulle bekommer is nie.

Koos de Meyer. ·

In die eerste plek, stopstrate bestaan nie meer nie wat nog gevaarliker is ‘n paar kilo oor die spoed. Die persoon wat praat van onbeskofte wit verkeersbeamptes, hierdie mense van vandag wil maar net omkoopgeld hê dis hoekom hulle so vriendelik is. Bewys my verkeerd.

Bernard Hellberg ·

Wees baie versigtig met die “uitstaande lasbrief” storie. Dikwels ‘n bang maak schlenter??

ne ·

Ek bly in Gauteng. In ons dorpie moet jy mooi kyk as die verkeerslig groen is, die ander stop nie al is dit vir hulle rooi. Dink maar vir almal as jy agter die stuur sit. Weet nie waar die mense hulle lisensies koop nie. Seker OK?

Koos de Meyer. ·

Ne. Ek stem saam met jou. Ons bly in die stad, stop strate, rooi ligte, dubbel wit lyne bestaan nie vir sekere mense nie. As jy gaan kla dan sê hulle ons het nie genoeg mense nie maar ek het al baie keer hulle in die winkel sentrum opgemerk. Maar nou ja niks word daaraan gedoen nie.

Papa G ·

Ek word baie gereeld in padblokkades voorgekeer. Ek hanteer die beamptes beskaaf, vriendelik en hoflik. Niemand was nog ooit ongeskik met my nie. As hulle sê ek moet blaas dan blaas ek; as hulle wil hê dat ek die bagasiebak moet oopmaak, maak ek hom oop. Ek jaag nie, suip-en-ry nie en smokkel nie. Ek sien by die blokkasies rye taxi’s, vragmotors en rammelkasse wat noukeurig geïnspekteer word. Wat leer mense hulle kinders? Wette is vir ander mense. Ons kan die spoedgrens oorskry solank ons nie gevang word nie. As hulle ons vang is ons kwaad. Dus kan enige wet gebreek word solank ons nie gevang word nie. Indien jy kan jaag wanneer dit niemand in gevaar stel nie kan jy seker ook steel solank dit niemand benadeel nie. Klink nogal soos ń regering waarvan ek al gehoor het…

Deon ·

Almal in Gauteng kan bly wees julle het nog wetstoepassers. In Secunda is daar niks. Ons het n sirkel by ons mall waar taxi’s sommer verkeerde kant om die sirkel gaan. Hulle stop sommer in die middle van die pad en laai mense op en af. Ek was al in n ongeluk betrokke by die sirkel. Nodeloos om te se, die ander voertuig het vervalste nommerplate en lisensie gehad. Bestuurder het nie n rybewys nie en het spoorlaas verdwyn na die ongeluk aangegee. Wie sit met al die skade en kostes? Ek. Baie geluk aan julle wettoepassers wat julle werk met trots doen. Die van julle wat niks doen nie, sies vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.