Die Nasionale Persklub het Sondag die Nuusmaker van die Jaar aangekondig.
Josh Charle, die klub se voorsitter, het gesê die uitgelekte Gupta-e-posse is as die nuusmaker vir 2017 aangewys.
Sedert 1980 kies die Persklub jaarliks die nuusmaker of nuusgebeurlikheid wat die hooftrekke in plaaslike en internasionale media in die tydperk van ʼn jaar oorheers het, asook ʼn geweldige uitwerking gehad het.
“Ons ontvang nominasies en motiverings van ons landwye Persklub-lede, waarna ons uitvoerende komitee vergader en uit die nominasies ʼn nuusmaker kies,” het Jos Charle, die klub se voorsitter, in ʼn verklaring gesê.
Volgens Charle het die uitgelekte e-posse ʼn ongekende invloed op die land gehad en ongekende mediadekking gekry.
“Die e-posse het ʼn noemenswaardige invloed op ons land se geskiedenis gehad en sal steeds in parlementêre navrae, hofsake en die regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping voorkom. Die ondersoekende joernaliste van AmaBhungane, ʼn nie-winsgewende organisasie, het ʼn reusetaak verrig deur die inligting te kry, dit veilig te hou, te verwerk en te publiseer.”
Charle het gesê 100 000 en 200 000 e-posse het die Guptas se sake en interaksie met die staat en politici blootgelê.
Die toekenning sal later vanjaar aan die AmaBhungane-span, die Zulu-woord vir miskruiers, oorhandig word.
Van die vorige nuusmakers sluit in: renosterstropery, die Oscar Pistorius-verhoor, Charlize Theron wat die eerste Suid-Afrikaner was wat ʼn Oscar-toekenning gekry het vir haar rol in die fliek Monster, Thuli Madonsela, Jacob Zuma, Nelson Mandela en FW de Klerk. Die Persklub het beklemtoon die toekenning is op nuusdekking en -waarde gebaseer en nie noodwendig meriete nie.
Tot watter vlak kan dit daal dat kriminele verwante nuus die nuusmaker van die jaar is.En dan is die leidegewende regering prominent daarby betrokke. Iets waarop geen samelewing trots kan wees nie.