Bekende Afrikaanse skrywer sterf

Ena Murray.

Ena Murray.

Een van “die mees geleesde skrywers in Afrikaans”, is Donderdagoggend in die ouderdom van 78 oorlede.

Steven de Kock, bestuurder van die Santos Haven-aftreeoord in Mosselbaai waar Ena Murray woonagtig was, het aan Maroela Media gesê sy is omstreeks 04:00 oorlede. “Daar was geen lyding of pyn nie. Sy was verswak die laaste tyd en het in die versorgingseenheid gewoon. Sy is aan natuurlike oorsake dood. Dit is vir ons ʼn reuse-verlies,” het De Kock gesê.

Murray is op 27 Desember 1936 op Loxton, ʼn klein dorpie in die Karoo, gebore. Sy was die middelste van drie dogters en haar pa was die plaaslike geneesheer op die dorp. Volgens die uitgewer Jasmyn is dit waar Murray se belangstelling in die geneeskunde ontstaan het. Verskeie van haar verhale het ’n hospitaal as milieu.

Volgens Lux Verbi het Murray vir meer as 30 jaar heeltyds geskryf en 131 boeke het uit haar pen verskyn, waarvan talle topverkopers was. Sy is as “die mees geleesde skrywer in Afrikaans” bestempel en het altyd deeglik navorsing gedoen alvorens sy met die skryf van ‘n nuwe roman begin het.

Baie van Murray se werke het in grootdruk verskyn en is deur die Pionierskool in Worcester en deur Bandhulp vir Blindes in braille en band opgeneem.

Van haar bekende werke sluit in Oase van geluk, Ter wille van ons drome en Wag-’n-bietjiebos van die liefde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Lorette ·

Sjoe dis nou hartseer nuur. Tannie Ena ek het hordes en hordes van jou boeke in my leeftyd gelees. Omnibus na omnibus. Jy was en is en sal altyd my favouritste skrywer wees. Tannie se boeke het my laat las, laat huil, laat glo en dit het my ure se genot verskaf… Rus in Vrede tannie Ena, en dankie dat ek kon deel in daardie wonderlike fiksie wêreld.

Eish! ·

Ag nee, my ouma, ma, ek en my kinders het saam gelees aan haar verhale. As jy die naam Ena Murray gesien het, het jy gegryp! Medelye met haar naaste vriende en familie.

Rene ·

Rus in vrede Tannie Ena.
Ek het ure jou boeke gelees, en ek lees van hulle nog steeds oor en oor. Ekself het al gelag en gehuil met die storie wat tannie geskryf het.
Rus sag en mag die Engele jou hand styf vashou.

Marie Botha ·

Soo jammer. Ek het net haar boeke gelees. Sy was n skryfster duisend. RIV Ena Murry

Peter Murray ·

My vrou was ‘n gereelde leser van Ena Murray. Alhoewel ek nooit haar boeke gelees het nie, was sy vir my ‘n baie bekende persoon. Haar oorlede man – John Murray – was my pa se neef.
My pa, en meeste van sy broers en susters, is ook op Loxton gebore. My oupa het daar gaan woon nog voordat die plaas “Phezantefontein” in 1899 tot dorp verklaar is, en dit die dorp Loxton geword het.

carol every ·

Peter, baie dankie vir die interessante informasie. Het as jong vrou al haar boeke verslind!!
Groete

Estelle ·

Ena was een van die eerste Afrikaanse skrywers wie se boeke ek gelees het! Voel nou asof ek een van my vriendinne verloor het!

Nina ·

So jammer vir die verlies. As ‘n GROOT boekwurm, is dit ‘n groot hartseer. Het grootgeword met die omnibusse. :(

Eileen ·

The Moving Finger writes, and, having writ,
Moves on: nor all your Piety nor Wit
Shall lure it back to cancel half a Line,
Nor all your Tears wash out a Word of it.
– Omar Khayyam – Die Wit Koningin
Dankie vir al die ure se lekker lees Ena.
Rus saggies.

Trane ·

Ai, my hart is in stukke. Wat ‘n wonderlike mens! So lekker om net van kindsbeen af al op vakansies ‘n omnibus nader te kon trek, en te kon verslind sonder sweempie skuld oor die beskuldigende “literatuur hogere lui”. Ena, jy was ‘n inspirasie! En, aangesien vandag my verjaarsdag is, en ek ook sopas Treurgrond gaan kyk het, eer ek jou, en ons volk in die algemeen, so tussen my trane deur…

Boekwurm ·

Ag my hart is seer, ek het Ena Murray se boeke verslind! My boekrak staan vol van haar boeke. Ek kon so lekker lag dat die trane loop vir die karakters se sê-goed. Gaan haar vir seker mis.

Anetta Smith - nee Murray ·

eerstens het haar van my getref toe ek die eerste keer ‘n verhaal van haar gelees het (Brandwag of Huisgenoot) oor ‘n man met geskende gesig, en toe is ek gehak, Al haar verhale (?) gelees en al haar boeke gekoop. Selfs my 3 dogters was versot op haar boeke. Een van die grootste gevegte in ons huis was juis toe die oudste by die huis kom en sy haar boek optel en lees dat die reëls net nie sin maak nie. Kyk op die voorblad – ja dit is tog die regte boek. Haal die voorblad af en met woede is sy in die jongste se kamer in. Die het toe mooi die boek gegaps en ‘n ander boek oorgetrek met die nuutse een van Ena Murray. Mooi herinneringe, saggies slaap Ena jy het ons baie plesier in die lewe gegee. Smith familie.

Johanna ·

Wat n voorreg om Ena te kon ken en vir haar klere te maak. Ek is versot op haar boeke en die wat ek besit het sy geteken. Ek sal haar mis.

mariaan smit ·

My eerste Ena Murray op 14 in standard 7 gelees. Hartklop van Hawai en net daarna Merk van die skarabee. Het die boeke vandag nog. Was daarna vir ewig ‘n Ena aanhanger. 108 van haar boeke op my rak. In std 8 haar boeke by kers lig gelees as moeder se ligte uit. Totsiens liewe Ena. Jy was my gunsteling skrywer en ek lees steeds jou boeke oor en lag en huil steeds al ken ek reeds die inhoud soos my eie lewens verhaal.

Sandra Breedt ·

Dankie Tannie Ena vir al die kere wat ek kon ontvlug na ‘n wonderwêreld opgetower deur jou groot talent. Jy het die lief en die leed van die ou wêreld vasgevat op papier en my laat glo dat die liefde altyd seëvier. Vandag ervaar jy die Volmaakte Liefde waarna ons almal smag want jy het Jesus geken. Rus in Vrede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.