eNCA-aanbieder dood weens Covid-19

Karima Brown is weens Covid-19-verwante komplikasies dood. (Foto: eNCA)

Karima Brown, aanbieder van die aktualiteitsprogram The Fix op eNCA, is Donderdagoggend weens Covid-19-verwante komplikasies dood.

Die nuuskanaal het die nuus oor Brown, ook ʼn aanbieder van verskeie radioprogramme, se dood vroegoggend gedeel.

Brown se familie het in ʼn verklaring gesê sy het diep spore in die gedrukte en uitsaaimedia getrap. “Belangriker nog, sy was ʼn geliefde vriendin, mentor, ma, kollega, dogter en vertroueling vir talle mense in ʼn lewe wat voluit geleef is met ʼn diepe verbintenis tot haar mees gekoesterde waardes en beginsels.

 

“Ons is ongelooflik trots op die vasberadenheid wat sy getoon het, sedert haar beginjare, om betrokke te raak om ʼn meer billike, inklusiewe en teen-rassistiese Suid-Afrika teweeg te bring. Die vasberadenheid het ook haar vreeslose benadering tot die joernalistiek gerig.

“Sy is gedryf deur die oortuiging dat joernalistiek in diens van geregtigheid moet staan.”

Dan Moyane, ook ʼn eNCA-aanbieder, het Donderdag gesê Brown het ʼn “beduidende rol gespeel om moeilike vrae aan diegene in beheer te vra” en antwoorde te kry op talle van die land se netelige vraagstukke.

“Sy is wyd gerespekteer as politieke kommentator en ontleder.

“Dit is skokkende nuus wat ons pas ontvang het. Ons medelye met haar familie en ons kollegas hier. Mag haar siel in vrede rus.”

Tientalle ander boodskappe van medelye het ook reeds begin instroom nadat die nuus oor Brown se dood bekend gemaak is.

“Dit is werklik hartseer nuus. Ek wil graag my medelye met Karima Brown se familie en kollegas betuig,” het Mmusi Maimane, voormalige DA-leier, in ʼn boodskap op Twitter gesê.

Nog ʼn gebruiker op Twitter skryf Brown het “ongelooflik bygedra tot die gesprekke wat ons politieke landskap gevorm het.

“Sy sal gemis word vir haar insiggewende ontleding op die politieke front.”

 

Brown se familie het mense bedank vir die boodskappe van steun en medelye, asook vir hul gebede tydens Brown se hospitaalbehandeling.

Sy sal in ooreenstemming met die Islam-geloof tydens ʼn private seremonie ter ruste gelê word.

ʼn Aankondiging sal later gedoen word oor ʼn openbare gedenkdiens vir Brown.

Brown was voorheen in ʼn bittere twis met die EFF betrokke. Sy het doodsdreigemente ontvang en is met verkragting gedreig nadat die leier van die rooi barette, Julius Malema, haar selfoonnommer op Twitter geplaas het.

Die herrie het gekom nadat Malema vir Brown op Twitter daarvan beskuldig het dat sy “spioene” na ʼn veldtogvergadering gestuur het wat die EFF met sy “oudstes” gehou het. Brown wou inligting oor die geleentheid na kollegas by eNCA stuur, maar het dit per ongeluk na die EFF se WhatsApp-groep gestuur.

Sy het die EFF en Malema daarna hof toe gesleep – ʼn saak wat uiteindelik in haar guns beslis is.

 

Brown is in Januarie vanjaar weer op sosialemediaplatforms gekasty nadat sy kort ná die dood van Jackson Mthembu, voormalige minister in die presidensie, oor ʼn moontlike plaasvervanger vir die ontslape minister begin praat het.

Jackson is ook dood weens Covid-19.

Phumla Williams, regeringswoordvoerder, het daarna op Twitter vir Brown gevra of sy dink dit is gepas om sy plaasvervanger op daardie tydstip te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Samuel ·

Dit is met groot droefheid dat ek verneem van Kariema Brown se heengaan. Sterkte en vertroosting word haar naasbestaandes toegebid. Sy was ‘n uiters eerbare joernalis.

Jack ·

Dis darem eienaardig dat geen gestorwe persone ooit sleg was of moeilikheidmakers of verspreiders van valse nuus of kwaadstokers was nie. U tipeer haar as ‘n uiters eerbare joernalis, ander sal met jou verskil. Wat ek wel weet is dat sy omstrede was en verskeie mense verkeerd opgevryf het.

MT ·

Akkurate waarneming. Baie ander waarnemers sou ook seker kon byvoeg dat die dag toe sy volledig getooi in ANC kleure by ‘n ANC byeenkoms opdaag, sy haar joernalistieke onafhankliheid prysgegee het.

Annatjie ·

Kariema Brown jy het my hoop gegee omdat jy vir die waarheid gestaan het en nie geskroom het om dit te ontbloot en onverskrokke bekend te maak. Ons gaan jou baie mis

MT ·

Ek wens haar naasbestaandes seen en vertroosting toe.

Brown was veral bekend vir haar opspraakwekkende uitsprake, soos bv. “Whiteness and its hegemony stops right here and right now” wat sy teenoor Helen Zille in Desember 2016 gemaak het.

Frans ·

Beslis ‘n joernalis wat gemis sal word op die TV. en ‘n verlies nie net vir die familie maar elkeen wat sigself met haar onverskrokke standpunte vereenselwig het.Rus is vrede.

Kanjynoumeer ·

Soooo geskok en hartseer. Karima Brown was n uitstekende verslaggewer. Sy gaan n groot leemte laat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.