eNCA dank nuushoof af

Kanthan Pillay, eNCA se voormalige nuushoof. Hy het Vrydag die trekpas gekry. (Foto: Twitter)

Die nuuskanaal eNCA het sy hoof van nuus, Kanthan Pillay, Vrydag die trekpas gegee.

ʼn Storm het vroeër losgebars om die kop van Pillay nadat hy ʼn senior joernalis op Twitter vergelyk het met ʼn “rot wat na ʼn sinkende skip swem”.

Die politieke joernalis Samkele Maseko, wat Dinsdag by eNCA bedank het, het hierop gereageer deur die maatskappy te beskuldig van sensuur en onetiese redaksionele optrede.

Verskeie politieke partye het Kanthan se kop geëis, terwyl daar op sosiale media uit verskeie oorde selfs gevra is vir ʼn boikot van die nuuskanaal.

Pillay het Dinsdag vir Maseko, eNCA-personeel én die SAUK om verskoning vir sy opmerking gevra. Dit was skynbaar nie genoeg om sy werk te red nie.

eNCA het Vrydag gesê sy paaie en dié van Pillay het met onmiddellike inwerkingtreding geskei ná die “woede en veroordeling ná ʼn twiet wat hy geplaas het”.

Die organisasie sê die twiet verteenwoordig nie die standpunt van e-Media Investments, waaraan eNCA behoort, of dié van die kanaal nie.

eNCA sê ná ʼn oornag-ondersoek en konsultasie het die kanaal besluit hy het hy geen ander keuse as om sy verbintenis met Pillay te beëindig nie. Hoewel hy in sy persoonlike hoedanigheid opgetree en sy plasing ongevraagd was, was hy desnieteenstaande ʼn senior lid van die nuusspan. “Die kanaal glo daar was geen ander moontlike uitkoms nie en dit was nodig om skadebeheer te doen.”

(Skermgreep: eNCA)

Ernstige bewerings is ook teen eNCA gemaak oor Pillay se sensuur van berigte, asook sy bestuurstyl. Die kanaal sê hy neem die bewerings van sensorskap baie ernstig op en gaan sy volle samewerking aan die Nasionale Redakteursforum (Sanef) gee, wat vir duidelikheid oor dié kwessie gevra het.Die kanaal gaan ook ʼn eksterne kenner aanstel om die bewerings te ondersoek.

Pillay het in Oktober as hoof van nuus by eNCA oorgeneem, maar het vroeër vanjaar opslae gemaak as medestigter van ʼn splinternuwe politieke party, naamlik Capitalist Party South Africa. Dié party kon nie daarin slaag om enige setels in die parlement te wen nie.

“Nuusorganisasies kan nét op hulle geloofwaardigheid staatmaak. Dit is duidelik dat die negatiewe aandag eNCA se aansien en geloofwaardigheid skade berokken het,” het Jeremy Maggs, hoofredakteur van eNCA, gesê.

“Die kanaal het talentvolle en toegewyde personeel en ek glo ons kan weer herstel. In dié stadium is dit ons prioriteit om stram verhoudings te herstel en geloofwaardigheid by ons gehoor en ander belanghebbendes so gou moontlik op te bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.