eNCA sê jammer

Die verslaggewer Samkele Maseko. (Foto Twitter via @samkelemaseko)

Die nuuskanaal eNCA het vroeg Vrydagoggend om verskoning gevra vir uitsprake wat deur hul nuushoof op Twitter gemaak is.

Maroela Media het Donderdag berig daar het ʼn storm losgebars om die kop van Kanthan Pillay, nuushoof van eNCA, nadat hy glo ʼn senior joernalis op Twitter vergelyk het met “ʼn rot wat na ʼn sinkende skip swem”.

Die politieke joernalis Samkele Maseko, wat Dinsdag by eNCA bedank het, het hierop gereageer deur die maatskappy te beskuldig van sensuur en onetiese redaksionele optrede.

“Ons as organisasie het die afgelope paar dae die nuus gehaal om al die verkeerde redes, weens stellings wat gemaak is deur ʼn baie senior lid,” het Jane Dutton, nuusleser van eNCA, Vrydagoggend se nuusbulletin geopen.

Haar medenuusleser Xoli Mngambi het gesê die maatskappy is tans besig met interne prosesse rakende die gebeure. “Dit is egter ons oortuiging dat die individu se optrede nie met ons redaksionele oortuigings ooreenstem of dit verteenwoordig nie,” sê hy.

Dutton het gesê eNCA sal nooit viktimisasie van enigiemand duld nie. “Ons staan in solidariteit met ons kollega en vra om verskoning vir die manier waarop Maseko behandel is.”

Mngambi het gesê hulle duld nie sensuur nie en vertrou dat die maatskappy se leierskap hierdie saak beslissend sal hanteer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.