Energie-kenner berei voor vir geveg oor duurder krag

Argieffoto (Pixabay)

Ted Blom, ʼn Suid-Afrikaanse energie-kenner, het Dinsdag gesê dat hy 80 000 burgers van al die provinsies in die land sal verteenwoordig by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa)  se openbare verhore oor Eskom se aansoek om ‘n tariefverhoging.

Nersa se verhore oor Eskom se aansoek om ʼn tariefverhoging van 33% te bewerkstellig sal vroeg volgende week begin met die eerste verhoor wat in Kaapstad gehou sal word.

Nersa sal oor ʼn tydperk van drie weke openbare verhore in al nege provinsies hou oor die aansuiweringsaansoeke vir die tweede, derde en vierde multijaar-prysvasstellingaansoek. Die verhore sal van 16 April tot 14 Mei gehou word.

Lede van die publiek is van 23 Januarie tot 23 Maart 2018 geleentheid gegee om geskrewe kommentaar in te dien oor Eskom se aansuiweringsaansoeke terwyl die openbare verhore die belanghebbendes en die publiek die geleentheid sal gee om verbale voorleggings oor die aansoeke te doen.

Blom, ʼn vennoot van Mining & Energy Advisors en die Energy Expert Coalition (EECO), voorspel dat Eskom se vierde multijaar-prysvasstelling ʼn tariefverhoging van meer as 50% kan inhou aangesien Eskom meer geld nodig het om sy bedrywighede te finansier te midde van dalende elektrisiteitsverbruik.

Blom was uiters krities oor Eskom se verhogings. Hy glo dit is net nog ʼn slenter om korrupsie te finansier. Hy was die eerste analis wat ʼn fluitjieblaser vir Eskom se korrupte praktyke in 2009 was – waarvan sommige aktiwiteite deur die openbare beskermer in 2016 bevestig is.

“Dit sluit gerieflikheidshalwe drie van die grootste en korrupste transaksies in die geskiedenis van Suid-Afrika uit. Dit is die kontrakte om Medupi, Kusile en Ingulla te bou,” het Blom gesê met verwysing na die nuwe kragstasies.

Die saamgestelde koste van die korrupte transaksies het volgens Blom Suid-Afrika en die verbruiker meer as R250 miljard meer as wat dit moes uit die sak gejaag – en die konstruksie van die kragstasies is steeds nie voltooi nie.

“Daar kan nie van die publiek verwag word om dit te finansier deur tariefverhogings nie.”

Blom het gesê Eskom het honderdeduisende werksgeleenthede verlore laat gaan deur honderde ondernemings en myne te vroeg te dwing om te sluit deur middel van buitensporige elektrisiteitstariewe.

Hy het vir insette van verbruikers gevra in sy voorbereiding vir voorleggings en argumente teen Nersa by die komende verhore. Bekommerde besighede en individue word aangemoedig om insette te lewer by die Energy Expert Coalition se webwerf, eeco.co.za. Blom het reeds hier die mandaat van 80 000 individue ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ella ·

Mnr Blom ek aanvaar jou aksie teen Eskom ten volle. Dankie tog daar is iemand wat bereid is om namens ons op te tree. Alle sukses met die aksie.

Daan Erasmus ·

Dankie tog vir die Ted Blom’s in ons land. Kan een van die Burger Regte organisasies. Of ‘n paar saam sit en begin medaljes gee vir sulke mens. Ek dink aan O Sullivan ens. Ens. ‘n vegter vir mense se regte.

Casper Labuschagne ·

‘n Skamele 33% verhoging, vir Eskom is dit duidelik heel billik. Hoekom dan nie?

Cherokee ·

Dit is so teenstellend wanneer dieselfde DA-kieser wat vir ‘regstellende aksie’ stem, kla oor wat by Eskom gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.