‘Engel’ red student ná ure in wrak

Liani Glinister. Foto: Facebook

Liani Glinister. Foto: Facebook

ʼn Jong student van Johannesburg leef danksy ʼn verbyganger wat toevallig op haar afgekom het waar sy al ongeveer vyf uur lank in haar motor in ʼn stroom vasgekeer was.

Liani Glinister (21), ʼn student in industriële ontwerp aan die Universiteit van Johannesburg, is op 14 Mei ernstig beseer toe haar motor in ʼn stroom in Albertville beland het terwyl sy op pad was na ʼn vriendin se huis.

Haar ma, Esmari, het aan Maroela Media vertel die omstandighede rondom die ongeluk is nog baie onduidelik. “Ons het nie ʼn idee wat gebeur het nie en ek hou nie daarvan om te bespiegel nie. Ek weet sy was op pad van Melville na ʼn vriendin se huis toe die ongeluk gebeur het. ʼn Padongeluksdeskundige is besig met ʼn ondersoek om te probeer vasstel wat gebeur het.”

Nadat Liani nie by haar vriendin se huis opgedaag het nie, het van haar vriende en vriendinne, die buurtwag, lede van die polisie en ʼn ambulansdiens na haar begin soek. Die soekspan het glo naby haar motor verbygery, maar kon dit nie sien nie aangesien dit al donker was en haar motor in die stroom was.

Volgens Esmari het ʼn man, net bekend as Wilson, tussen 06:00 en 07:00 op die ongelukstoneel afgekom terwyl hy op pad was werk toe. Sy vertel dat Wilson die motor se deur probeer oopmaak het, maar nie daarin kon slaag nie omdat die deur te erg beskadig was. “Die water het gelukkig nie by die motor ingeloop nie, maar slegs onder die motor. Dit is ʼn geluk dat Wilson nie die deur kon oopkry nie, want dan sou Liani dalk net erger beseer gewees het,” het sy gesê.

Wilson. Foto: Facebook

Wilson. Foto: Facebook

Wilson het dadelik na nabygeleë huise gehardloop om om hulp te vra. Hy is by die eerste paar huise weggewys, maar het aanhou probeer totdat iemand uiteindelik gehoor gegee het. ʼn Ambulansdiens is na die toneel ontbied en paramedici het Liani uit die wrak bevry.

Sy word sedert die ongeluk in die waakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal behandel, het Esmari gesê. “Sy is nog steeds kritiek en haar niere werk glad nie. Sy het ook ʼn infeksie opgedoen wat nou die grootste risiko vir haar inhou. Sy het verskeie bene gebreek, waaronder ’n gedeelte van haar regterbeen se femur wat vergruis is. Sy het ook haar aorta geskeur en dokters het gesê dit is ʼn wonderwerk dat die aorta nie gebars het in die tyd dat sy in haar motor vasgekeer was nie.”

Volgens Esmari meen dokters die koue temperatuur in die motor het moontlik Liani se lewe gered, juis omdat dit gehelp het dat die bloed vinniger stol. Liani word steeds onder verdowing gehou omdat sy te veel stoei en beweeg wanneer sy wakker word. “Dieselfde fighting spirit wat haar in daardie motor lewend gehou het, is die fighting spirit waarmee sy nou in die hospitaal veg,” het haar ma gesê.

Esmari vertel dat sy en haar man, Derick, oneindig dankbaar is vir Wilson se vasberadenheid om haar dogter te help. “Hy kon verbygeloop het, hy kon geplunder het, maar hy het gekies om te bly en te help,” het sy gesê. “Hy het net ʼn tydelike werk by ʼn welsynsorganisasie, maar hy het nog steeds gekies om sy familie se inkomste vir daardie dag op te offer om my dogter te help. Dit was nie vir hom ʼn kwessie of hy gaan bly of nie.”

Sy vertel dat die familie nou graag ʼn pad met Wilson wil stap om hom te help om ʼn meer volhoubare werk te kry en ʼn beter lewe vir hom, sy vrou en kinders te bou. “Ons het hom wel geld gegee, maar dit het soos ʼn leë gebaar gevoel. Ons wil hom op ʼn volhoubare manier help, nie net uit emosie geld gee en dan onttrek nie. Dit sal wonderlik wees as ons vir hom ʼn permanente werk kan kry, want sy vrou doen net stukwerk en het ook nie ʼn vaste inkomste nie. Hy doen opheffingswerk in sy gemeenskap en het duidelik ʼn ware passie vir mense. Hy is ʼn ware held.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

JanVanAfrika_II ·

Nice!!! Daar is nog goeie mense, al is hulle min, hulle bestaan nog

Leonora ·

Dis nou lekker om sulke nuus te lees! Dankbaar vir Wilson wat daar was om te help. In my oë is hy ‘n ware held. Baie dankbaar dat daar nog mense daar buite is wat omgee. Hoop Liani word gou gesond! Sterkte aan die familie en hoop Wilson word sommer gou gehelp met ‘n vaste werk. Hy verdien dit!

Jo ·

Wonderlik! Baie dankie Wilson! Mag iemand wat die berig lees en in die vermoee is om dit te doen, vir Wilson ‘n permanente werk gee sodat hy sy deursettingsvermoee daar kan toepas en ‘n sukses daarvan maak. Mag jy geseend wees, Wilson. Ek salueer jou.

Leeutjie ·

Jo ek stem saam. Dit was vir my lekker om die rubriek te lees. ‘n Heldedaad…whao! Ek glo regtig dat iemand Wilson gaan raaksien.

Adele ·

Amen ….en ek hoop Jacaranda 94.2fm lees hierdie want Wilson verdien regtig nie net n medalje nie n goeie werk en ook om vereer te word. Liani word gou beter en HY is met jou en jou familie xxx

Theresa ·

Dit was nou lekker om te lees. So werk die Here. Hoop iemand help Wilson met ‘n vaste werk en ‘n goeie salaris. Sterkte vir Liani en haar gesin.

Ulandie ·

Wilson is n voorbeeld vir ons almal, ons kan dit gerus volg. Mag Wilson geseen word met liefde,vrede en geluk

EMK ·

Nou-ja SIES vir die eerste klomp huise se mense wat nie na hom wou luister en wou gaan help nie. Mense kan so mislik wees, dis mos nou ‘n swarte en kom ons jaag hom net weg of ignoreer hom en so kon iemand gesterf het. Dankie Joseph, jy is ‘n held en die Here SAL jou seën!Ek hoop hy raak goed geholpe met werk ens!

Liz ·

Wilson, ek sal bid vir jou en jou gesin. GOD sal jou ryklik beloon vir jou wat omgee vir jou medemens. Ek is soooo!!! bly dat ons nog wonderlike mense kry soos jy – maar ai!! hulle is maar skaars. Sterkte vir jou, ek hoop jy kan geholpe raak met ‘n permanente werk, sterkte

Anoniem ·

Waar woon Wilson ? Waar kan mens sy CV en inligting kry? Is daar ander werk wat hy ook doen of is hy bereid om ander werk ook te doen. Asb laat weet ek sal graag help met die verspreiding van sy CV hier in ons maatskappy sowel as ander wat ek goed ken.

Jo ·

Hier is net weer n bewys dat dit nie saak maak wat die kleur van jou vel is nie. As jy n liefde en deernis in hart het, dan het jy dit. Ek het ook twee sulke swart mense wat vir my werk. Hulle is Pleasers
Waar kan mens se detail kry. Kan dalk in Strydompark iets reel op n permanente basis vir beide

Cielie ·

Wonderlik dat mense so reageer om die man te help. Ek voel vandag sommer trots!!
Hy verdien dit waarlik.

Sollie ·

Skaam julle mense in die eerste paar huise wat hom weggewys het! Ek hoop julle het gehoor waaroor dit gaan en dat julle julle absoluut VREKSKAAM dat julle geweier het om te help. Natuurlik oor hy swart is daarom wou julle hom net weghê. Jammer jul name word nie hier genoem dat mens weet wie en wat julle is nie. Dankie tog vir Joseph en die wat wel gehelp het!

scalla ·

Give that man a …………. bells, askies bedoel n job, dankie wilson, jy is een uit n duisend, jy sal geseen word

Morne ·

Ek ken vir Leani, ‘n ongelooflike mensie! Ek het voltydse werk vir Wilson by my maatskappy, SMB Transport. Sal hom probeer kontak.

SI ·

Jy kan nie die mense kwalik neem wat nie geluister na Wilson se ‘uitroep’ nie … dis ons huidige samelewing wat wantroue saai. So ja, ek neem hulle nie kwalik nie maar is dankbaar vir die persoon wat wel gehelp het en dat hy desperaat was om hulp te kry. Ek bid regtig dat Esmari gou beter sal word en dat Wilson ‘n goeie werk sal kry. Dit is so mooi storie.

Sollie ·

SI – nonsens man! As jy nie seker is (ek meen die was helder oordag en alles) kry ‘n span en /of polisie of watookal maar LUISTER as iemand hulp soek. Mens kan mos ook duidelik agterkom wanneer iemand in nood is en al wou JY nie gaan bel dan dadelik noodnommers om te hlep maa rom hom net weg te wys SIES!

Joanne ·

Dit is wat ware Christenskap is. Wilson het gedoen wat ons ander elke dag sonder voorbehoud moet doen om ons stukkende wereld heel te maak. Net jammer dat soveel mense sy pleidooi om hulp geignoreer het…….. Gelukkig het hy aangehou hulp soek. Sterkte Esmari – ons bid vir volkome herstel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.