‘Engel’ wat dogtertjie red opgespoor

Winique van Zyl. Foto: Verskaf

Winique van Zyl. Foto: Verskaf

Die man wat moontlik die vierjarige Winique van Zyl van Vereeniging se lewe gered het, is opgespoor.

Maroela Media het vroeër berig Monique van Zyl het op 22 April haar dogtertjie, Winique, by die kleuterskool gaan haal. Sy was op pad terug werk toe en Winique het aan ʼn lekker begin stik. Monique het paniekerig geraak en uit die motor gespring in ʼn poging om hulp te kry. ʼn Man het hulle dadelik te hulp gesnel en Winique gehelp. Die Van Zyl-gesin het ná die voorval na die “engel” wat hul dogter se lewe gered het, begin soek.

Die “engel” is intussen opgespoor en sy naam is Manie Blignaut (44) van Drie Riviere. Manie het na die Vaal-gemeenskapsradiostasie 90.6 FM geluister toe die omroeper na Maroela Media se berig verwys het. “Ek het dit gehoor en gedink maar dis mos ek van wie hulle praat. Ek het toe Maroela se berig gelees en geweet. My vrou [Nelsie] het gesê ek moet kontak maak, maar ek het aanvanklik nie gedink dis nodig nie. Sy het my oortuig om dit te doen aangesien die gesin graag vir my wou dankie sê.”

Manie en sy vrou Elsie

Manie en sy vrou Elsie

Volgens Manie het hy die betrokke dag in sy bakkie by ʼn rooi verkeerslig gesit nadat hy sy 14-jarige seun by die skool gaan haal het. “Die lig het oorgeslaan na groen, maar sy [Monique] het nie gery nie. Ek het gesien sy is besig met ʼn kind en het dadelik gedink iets is fout. Ek het agter haar motor stilgehou en uitgespring. Ek het na die motor gehardloop en gesien die dogtertjie [Winique] stik en die traantjies loop. Ek het haar mond oopgemaak, maar kon nie sien wat gaan aan nie. Ek het haar tongetjie platgedruk en toe is die lekker in haar keel af.”

Monique het intussen met Manie kontak gemaak en haar waardering uitgespreek vir sy optrede. “Sy het gesê hulle waardeer dit so baie en weet nie hoe om genoeg dankie te sê nie. Ek het gesê dit is ʼn groot plesier. Dit het al met ons kinders ook gebeur, so ek het geweet wat om te doen. Ons weet mos alles gebeur met ʼn rede,” het Manie gesê met verwysing na die feit dat hy op dié dag op die spesifieke tyd en plek was.

Volgens Monique kan sy steeds nie beskryf hoe dankbaar sy is dat Manie hulle gehelp het nie. “Hy was werklik daai dag ons engel. Winique het ook baie dankie gesê vir die oom. Hy is ’n held.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

KLEIN ·

Dankie dat daar nog mense is wat vir hul medemens omgee. Deesdae wil niemand meer betrokke raak by noodgevolle nie . Bang as daar iets gebeur dan word hulle gedagvaar,
Mooi so my mede Afrikaner.

Anton ·

Dankie Manie, so lekker om iets goeds te lees vir n verandering.

Gesiggie ·

Ag dankie tog, dat jy jou Engel opgespoor het… Manie dit het nie net vir Monique baie beteken om jou op te spoor en te bedank, maar ek dink aan elke een wat die berig gelees het… Jy was net daai dag op die regte plek en die regte tyd…. Baie goeie nuus, so bly vir dit…

Dewald ·

Baie dankie Manie,eendag sal iemand jou weer help nood.Prys die Here.

Theresa M ·

In die eerste plek gee ek God die eer. En dan dankie vir Manie wie onmidellik bereid was om te help. Hy was God se instrument.

charlene ·

Maroela hou julle daarvan om die mense so na die trane te dryf. Ek sit en tjank nou weer en dis die hoeveelste keer vandag (net soos ek die dag gelees het waar hulle gebin soek het).
Dankie vir die goeie nuus wat julle deel, maak mens bietjie positief.
Manie die Here sal jounog baie seën vir dit wat jy gedoen het. Jy is `n wonderlike mens en Manie se vrou bere die berig sodat jy eendag vir julle kinders kan wys hulle pa is `n “hero”

Mooi storie ·

So lekker om ‘n mooi storie te lees. Eintlik dubbeld, mense wat waardering het en hul held opspoor en behoorlik bedank, dan die held Manie wat in sy oe net opgetree het, maar ‘n lewe gered het en dit is hoe ons moet wees!!!! So mooi storie!!!!!

Rikku ·

So Mooi Storie, So Mooi Man !
Manie jy is ons almal se Held.

Ansie ·

Manie jy het n groot ding gedoen. Mense wil nie meer betrokke raak nie maar jy het gewys jy is nie iemand wat ander kant toe kyk nie. Jy het gehelp. Ek wil ook vir jou dankie se dat jy die vrou gehelp het om haar dogtertjie lewend huistoe kon vat. Jy is n Engel. En dankie vir jou vrou dat sy jou oorreed het om na vore te kom.

christine ·

Dankie vir God se genade en die engele wat hy gestuur het. Ja my ook oorgekom. Jy skrik so groot toe ek drie ure daarna nog bewe, spuit die Dr. my in en die kind speel al buite

m ·

Ag dis soooo lekker om sulke mooi en positiewe goed te lees en daar nog mense is wat iets voel vir sy medemens. Dis so mooi mens kry trane in jou oe.

Johann Marx ·

Gmph!! Medalje? As ek iemand help hoop ek nie hulle gee my ‘n medalje nie? Gee my liewer ‘n Bells!!

Delien Bothma ·

Sjoe mens kan nooit dankbaar genoeg wees wanneer iemand jou so gehelp het nie. Ek kan my nie indink hoe dit moet voel om jou kind te verloor nie, en dis juis wanneer so iets gebeur wanneer jy opnuut besef hoe dankbaar jy vir jou kinders moet wees en hoe afhanklik hulle van jou as ouer is.

Vissie ·

Knap gedaan, Manie. Jy verdien almal se dank. Bietjie raad as so iets met ‘n ander mamma of pappa gebeur. Hou die kind se mond oop, vat haar stewig met albei arms om die middellyf vas, onderkant die longe, en druk haar dan skielik enmegt mening hard vas, dan is die kanse baie goed dat daardie lekker sal uitspring.Ek meen die slim mense noem dit dit Trendelenburg-maneuver. of so iets.

Tina ·

Dis wonderlik om te weet daars mense wat jou help en nie net wil aanval nie Mag die Here jul almal seen en alle voorspoed vir jul mag Jesus jul ryklik seen!

Amelia ·

Ons is besig met ‘n pinkster diens reeks. Hoe luister jy na God? Wel die Manie het beslis na God se stem geluister en opgetree. Dankie

Bessie de Kock ·

Dit is wonderlik dat Manie die moeite gedoen het.
Ek kan hier net n vriendelike waarskuwing ook rig.
My sussie was baie klein toe sy n gordynringetjie ingesluk het, ek was so St 4.
Ek en die buurtannie het haar omgekeer en aan haar voete kop onderstebo gehou, en die ringetjie het uitgeval
Toe ek getroud is, sluk my dogtertjie 2 jaar oud n geldstuk in.
Ek het ook eers my vinger in haar mond gedruk, gelukkig is die mundstuk in haar keel af
My huisdokter het toe gesê, moet nooit jou vinger in n kind se keel druk nie, jy kan die “voorwerp” in die LUGPYP afdruk.
Omdop is die ding.
Nou ja wie sal weet.
Genade speel ook altyd n groot rol

Rudolph de Kock ·

Dit is wonderlik dat Manie die moeite gedoen het.
Ek kan hier net n vriendelike waarskuwing ook rig.
My sussie was baie klein toe sy n gordynringetjie ingesluk het, ek was so St 4.
Ek en die buurtannie het haar omgekeer en aan haar voete kop onderstebo gehou, en die ringetjie het uitgeval
Toe ek getroud is, sluk my dogtertjie 2 jaar oud n geldstuk in.
Ek het ook eers my vinger in haar mond gedruk, gelukkig is die mundstuk in haar keel af
My huisdokter het toe gesê, moet nooit jou vinger in n kind se keel druk nie, jy kan die “voorwerp” in die LUGPYP afdruk.
Omdop is die ding.
Nou ja wie sal weet.
Genade speel ook altyd n groot rol

Hannelie ·

Dankie Manie. Jy is ons almal se held. Nog ‘n familie ‘n hartseer einde gespaar.

Daleen Prinsloo ·

@Manie –> Ek wens so iemand soos Manie kan heeldag oor my waak! Jy is nie net die gesin se Held nie, maar myne ook!! Mens kan aan jou gesig sien dat jy “skyn” en dus jou Engel status werd is. Dankie vir Engele soos Manie!!

Connie Janse van Rensburg ·

Wat n fantastiese stories en wow so n mooi en aantrekklike man

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.