‘Engele’ by hospitaal versorg Covid-19-pasiënt

Sarawat Ajam is sowat ses maande gelede in die hospitaal opgeneem. (Foto: Verskaf)

Sarawat Ajam was vir meer as drie maande in ʼn koma in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad nadat hy by die hospitaal met Covid-19-simptome inmekaargesak het.

Die 62-jarige Ajam van Mitchells Plain is sowat ses maande gelede in die hospitaal opgeneem nadat hy positief getoets het vir die koronavirus. Hy het kort ná sy aankoms inmekaargesak en is in die intensiewesorgeenheid opgeneem.

“Dit was nie maklik om vir so lank in ʼn koma te wees nie. Ek het so baie gemis terwyl ek in die intensiewesorgeenheid was. My ma is dood, ek het my eie verjaardag gemis en het kosbare tyd saam met my eenjarige agterkleinkind gemis,” het Ajam gesê.

Ajam was altesame 106 dae in die intensiewesorgeenheid.

Prof. Richard van Zyl-Smit wat Ajam behandel het, sê hy is een van die pasiënte wat die langste tyd in die Covid-19-eenheid deurgebring het.

“Gelukkig het Ajam die koronavirus oorleef, maar omdat hy so lank aan ʼn ventilator gekoppel was, het hy verskeie komplikasies ontwikkel,” het Van Zyl-Smit gesê.

“Ek het natuurlik geweet iets is fout toe ek eindelik wakker word en ek net my oë kon beweeg, niks anders nie. Ek was geskok om te sien hoeveel pype uit my lyf steek en ek was heeltemal verwilderd.”

Ajam is steeds, ʼn maand nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, fisiek swak. Hy sukkel ook om te loop. Die toestand van sy longe word noukeurig deur dokters gemonitor.

“Ek is dankbaar vir die hospitaalpersoneel. Hulle hou my op hoogte van die stand van sake en hoe ek verbeter het. Die personeel kan steeds nie glo dat ek die koronavirus en ʼn koma oorwin het nie. Hulle glo dat ek my huidige uitdagings ook kan oorkom.”

Verpleegsters by dié hospitaal het gereeld Ajam se familie op hoogte gehou oor sy toestand en selfs video-oproepe na sy familie gemaak sodat hulle hom kon sien.

“Ek is net gelukkig om te lewe. God het sy engele in die vorm van die hospitaalpersoneel gestuur en ek is oneindig dankbaar daarvoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elise Georgina Irene ·

Moet voorspoed toewens! Bly glo…
My ervaring presies dieselfde behalwe ma reeds 21 jaar vooruit en wel verjaardag “gevier”. My ervaring ook van korter duur met behulp al die personeel plaaslike Spescare Hospitaal in Strand. Dokters wat my bygestaan het onverbeterlik. Noem my “miracle recovery”!
Maar ek glo onse Vader het hul kennis gegee om my hier deur by te staan – ‘n ervaring wat ek nie my grootste vyand toewens nie. Sukkel steeds met loop en balans maar woon weekliks herstel-gim bySpescare by wat baie help.
So dankbaar vir so baie omgee-geeste maar alle eer aan Onse Vader…

Leonard ·

AMEN
GOD SE Tyd is nie ons tyd.
Was self 3 maande in koma na 7 verdieping val.
STOM PARAPLEEG ná my ongeluk . Daarna
9 maande in 6 verskillende hospitale

Racheltjie Debeer ·

Ek het ‘n skoolmaat wat al amper 18 maande in ICU is a.g.v. Guillian Barre Sindroom en sy moet issoleer om Corona vry te bly. Sy is nog altyd aan ‘n ventelator gekoppel. Dit is nie NET covid pasiënte wat swaar kry nie, daar is talle ander wat teen ander siektes baklei ook, maar Covid het die enigste siekte geword waaroor die mensdom deesdae kan praat. Wat van kanker pasiënte, TB-lyers en soveel ander?

Belinda ·

Dalk so paar goedjies gemis gedurende die tyd wat jy in n koma was, maar ek is seker jy kan net die Here loof en prys dat hy jou deur alles gespaar het. Wel gedaan aan die hospitaal staf. Mag jy n vinnige herstelling he. God is groot! Moet nooit twyfel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.