‘Engele’ gryp in by man met sepsis

Bezuidenhout is Woensdag met die hulp van Metz en haar dogter, Madelaine Prinsloo, in die Mediclinic Nelspruit opgeneem (Foto: Verskaf(

Die man wat sedert 2017 vergeefs by verskeie hospitale om hulp vir ʼn bakteriële infeksie aangeklop het, sal binnekort geopereer word om dié infeksie te behandel. Dít danksy ʼn barmhartige dokter wat ingegryp het sodat hy behoorlike mediese behandeling kan ontvang.

Maroela Media het vroeër berig dokters het in 2012 skroewe in André Bezuidenhout (62) se rug gesit as behandeling vir ʼn werksbesering. Dié skroewe het vyf jaar later sepsis veroorsaak omdat Bezuidenhout se liggaam dit verwerp het. Die skroewe moes uitgehaal word, maar dokters van verskeie Gautengse staatshospitale het die een ná die ander ʼn verskoning gehad waarom hulle nie ʼn operasie kon uitvoer nie. Hy is telkemale met slegs ʼn pakkie pille huis toe gestuur.

Die sepsis en só ook Bezuidenhout se gesondheid het sedertdien versleg.

Marcélle Metz van die niewinsgewende maatskappy Warriors and Angels, wat ʼn geldinsameling vir Bezuidenhout behartig, sê binne ʼn dag nadat Maroela Media oor dié netelige kwessie berig het, het ʼn ortopeed van Nelspruit met haar kontak gemaak en aangebied om hom gratis te opereer.

“Dr. Adam Schoeman het my Sondag gebel en gesê hy wil Bezuidenhout in die Mediclinic Nelspruit laat opneem en gratis behandel. Hy het gevra om Bezuidenhout Maandag te sien en dit as ʼn saak van dringendheid beskryf. Hy spesialiseer ook toevallig in sepsis-gevalle,” vertel Metz.

Bezuidenhout se dogter, Zania Prinsloo, sê haar hart wil bars van opwinding.

“Ek het gevoel ek bid teen ʼn klip vas, maar ek besef die Here werk op sy eie tyd. Ons was al só raadop en het in ʼn stadium gedink my pa gaan dit nie maak nie.

“Ons is so dankbaar vir elke engel se geldjie, ondersteuning, hulp en boodskap. Ons is dankbaar vir Warrior and Angels en veral dankbaar vir dr. Schoeman.”

Bezuidenhout was reeds in Nelspruit nadat Warriors and Angels gereël het dat hy Vrydag met ʼn bus soontoe reis. Metz se plan met die geldinsameling was om Bezuidenhout in Mediclinic te laat opneem, maar dit sou net moontlik wees indien hulle voldoende geld hiervoor ingesamel het.

“Schoeman is intussen as ʼn engel oor ons pad gestuur.”

Bezuidenhout se gesondheid het in 2018 begin verswak [Foto: Verskaf]

Schoeman het Maandag X-strale van Bezuidenhout se rug geneem en vasgestel dat die skroewe in sy rug heeltemal losgekom en die abses op sy rug veroorsaak het.

“Schoeman het gesê dit is ʼn wonderwerk dat Bezuidenhout nog regop sit, want sy toestand was al so kritiek weens die sepsis. Hy het ook beklemtoon dat die skroewe so gou moontlik moet uitkom.”

Schoeman het glo benadruk dat die sepsis na Bezuidenhout se brein kan versprei indien dit nie betyds behandel word nie. Die sepsis het reeds sy niere begin aantas.

Bezuidenhout is Woensdag met die hulp van Metz en haar dogter, Madelaine Prinsloo, in die Mediclinic Nelspruit opgeneem. Hy sal moontlik binne die volgende twee dae geopereer word.

“Schoeman het gesê Bezuidenhout sal dalk vir omtrent ʼn maand in die hospitaal moet bly. Hy sal ook ongeveer drie operasies moet ondergaan – om die sepsis uit te kry en dan om die skroewe uit te haal.”

Bezuidenhout sal ook ná afloop van die operasies ʼn dieetkundige spreek. Hy is erg ondervoed weens die sere in sy mond en keel, wat deur die sepsis veroorsaak is. Dit is omdat hy nie kon eet nie. Hy het ook die afgelope ruk begin ontwater en aanhoudend gebraak.

Metz het in die vorige berig gevra vir ʼn rolstoel vir Bezuidenhout omdat hy nie meer kan loop nie. Drie weldoeners het intussen aangebied om rolstoele te skenk.

Bezuidenhout het Dinsdag self aan Maroela Media gesê hy is baie dankbaar vir almal se hulp. Hy sê hy voel ook positief oor die toekoms.

“Daar het nou eindelik ʼn deur oopgegaan. Die nagmerrie is amper verby.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

annie ·

Moed hou! Dr Adam weet hoe om die wortel van die kwaad uit te roei. Ons bid vir beterskap.

Janee ·

Dr Schoeman…..’n man met empatie en deernis sonder winsbejag……Eendag sal jy beloon word.

Neef ·

Mag die Here daardie dokter seen en almal wat gehelp het. Net as n mens voel die donker oorweldig dan kom daar n liggie aangestap wat die donkerte wegjaag. Beste wense vir die operasie.

Anel ·

Engele en wonderwerke bestaan tog nog in ons tyd. Baie dankie aan hierdie onselfsugtige dokter. Sy plek is klaar bespreek in die Hemel.
Nou moet die o gevallekommisaris aangevat word en al die spul wat hierdie arme me man so laat lei het!!!

Ben ·

Kyk nou net. Daar is werklik nog baaaaaie goeie mense oor in die land.
Die Here doen wonders, elke dag.
Sterkte met die “op”. Hoop en bid dat daar nog baie mooi en goeie jare vir die man voorlê.

Anoniem ·

Dankie dat daar iemand bereid was om hom te help.
Ek kan my indink watter pyn hy moes deurgaan.
Ai ai ek wonder waar is dardie “Kode” wat elkeen teken
sodra hy registreer in die mediese wêreld.

Cherokee ·

En geen woord van die ‘dokter’ wat die oorsaak van die probleem is.!

Johanna ·

Dit is nou goeie nuus.
Dankie dr. Schoeman, mag jou Praktyk bo verwagting geseen word. Jou hart sit op die regte plek.
JY KAN NIE DIE WERELD RED NIE, MAAR JY KAN TOG N VERSKIL MAAK.

Di ·

So dankbaar dat ‘n engel op hierdie gesin se pad gestuur is. Hoop dat hy sommer spoedig sal herstel en ‘n beter lewe vorentoe wag. Dankie aan hierdie Dokter wat sy dienste aangebied het, God sal jou ryklik seen.

Karina ·

Dit is voorbaat ‘n samaritaan! Dankie aan die dokter wat sy dienste gratis aanbied om Mnr Bezuidenhout te help. God seen jou Dokter!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.