‘Engele’ gryp in ná hond kleuter byt

Makayla (Foto: Verskaf)

Die ouers van klein Makayla Steytler – wat Saterdag deur ’n hond gebyt is – is oorstelp van vreugde en dankbaarheid nadat weldoeners ingegryp en gehelp het dat dié kleuter behoorlike mediese behandeling kon ondergaan.

Johan Steytler (48), Makayla se pa, sê die dogtertjie van twee jaar en 10 maande oud is Saterdagmiddag by sy ander dogter se huis in Trichardt in Mpumalanga deur ’n boerboel in die gesig gebyt.

Die gesin woon in Bethal in Mpumalanga.

“Sy het buite gesit en ’n pakkie skyfies geëet toe die hond haar genader het. Hy wou die pakkie skyfies gryp, maar sy het probeer keer. Dit is tóé dat die hond haar in die gesig gegryp het,” vertel Steytler.

“Toe ek by haar kom, was haar gesig vol bloed. Ek het probeer om die wonde toe te druk en te kyk waar haar gesig stukkend is.”

Die hond het ’n diep gat in Makayla se wang en oog gebyt en haar neus is gebreek.

Makayla is na die provinsiale hospitaal in Evander geneem waar die wonde met steke geheg is. Sy het ook ’n nag in die hospitaal deurgebring.

’n Dankbare Steytler sê sy werkgewer, Danie Roberts van die vervoermaatskappy Danro Carriers, het hom Sondagoggend gebel en laat weet dat Makayla na die MediClinic op Trichardt oorgeplaas kan word.

“Hy het gesê hy sal al die hospitaalkoste betaal. En hy het alles, tot op die laaste sent, vir ons betaal.”

Makayla na die operasie (Foto: Verskaf)

Dokters het Makayla na ’n plastiese chirurg vir rekonstruksiewerk aan haar gesiggie en ’n veloorplanting verwys – en dít sou die gesin R40 000 uit die sak jaag.

“Ek het besef dat ek nie daardie geld het nie.”

Steytler se dogter, Jo-Ann van Deventer, het op Facebook ’n inskrywing oor Makayla geplaas en gesê die familie benodig hulp om die uitgawes te dek.

Sy het vir Riana Kroese van die organisasie Care 2b Kind om hulp genader.

Care 2b Kind het daarna óók ’n Facebook-inskrywing geplaas waarin vir skenkings gevra is. Die reaksie op die plasing was verstommend.

Kroese sê sy glo die Here het haar en Van Deventer se paaie laat kruis sodat hulle die familie kan help.

“Ek is ook bly ons kon so vinnig terugvoer op ons inskrywing kry en dat daar só baie mense was wat bereid was om te help. Dit is wonderlik om te sien hoe die gemeenskap saamstaan en help,” vertel sy.

Binne sowat twee uur nadat die inskrywing geplaas is, het Paul Pienaar, ’n plastiese chirurg van Pretoria, aangebied om die operasie gratis te doen.

“Pienaar het my gebel en gesê ek moet Makayla vir hom bring sodat hy haar gesiggie kan herstel.”

Kroese het intussen vir Steytler gesê die organisasie sal die brandstofgeld na Pretoria, asook enige ander koste wat aangegaan moet word, danksy die skenkings wat deur die Facebook-blad gedoen is, kan betaal.

Pienaar, wat ’n praktyk in die Centurion-daghospitaal bedryf, het die hospitaal oor sy aanbod genader. Die hospitaal het dadelik ingestem om ook hul geriewe gratis beskikbaar te stel sodat die operasie gedoen kan word.

’n Narkotiseur, Cathy le Grange, het ingestem om haar diens gratis te lewer.

“Cathy en die hospitaal het nie ’n oomblik gehuiwer om in te stem om Makayla te help nie,” het Pienaar gesê.

Die hospitaal het gereël dat die Steytler-gesin by ’n gastehuis in die omgewing oorbly en daar is selfs vir hul etes voorsiening gemaak.

“Die hospitaal is die groot held in die verhaal. Hulle het hul teater, personeel en ander geriewe gratis aangebied.

Makayla net na die hond haar gebyt het (Foto: Verskaf)

“Ek help waar ek kan. Die Here het my die geleentheid gegee om ’n spesialis te word. Dit kos my niks om iemand soos Makayla te help nie.”

Makayla is Maandag omstreeks 15:00 in die teater ingestoot. Die prosedure het nagenoeg ’n uur geduur, waarna sy na die kindersaal oorgeplaas en dieselfde dag nog ontslaan is.

Volgens Pienaar was die operasie ’n sukses en ’n veloorplanting is nie eens meer nodig nie.

Pienaar het al die wonde skoongemaak en geheg.

“Sy het ’n diep wond tussen die wang en mediale ooghoek gehad wat soos ’n tonnel tot by haar neus gestrek het. Ek het alles probeer om die neus, wat gebreek het, te herstel. Ek het ook die spiertjies by haar wenkbrou weer geheg.”

Makayla besoek Pienaar Maandag weer, wanneer die steke onder verdowing uitgehaal sal word.

Steytler sê hy en sy vrou, Sonika, was deurlopend aan hul dogtertjie se sy.

“Ek het haar hand vasgehou tot in die teater,” sê hy.

“Pienaar is die beskermengel wat oor ons pad gestuur is. Hy het ons deur dik en dun bygestaan en jy kan sien hy doen dit alles vir die liefde van die saak.”

Steytler sê die hospitaal het hulle ook geseën met vriendelike diens en die gesin op die hande gedra.

Makayla sterk nou tuis aan en die wonde genees goed.

“Die Here was so goed vir ons. Ons is binne twee dae gehelp. Ons kan vanaand rustig slaap.”

Kroese sê die geld wat ingesamel en nié gebruik is nie, sal aan die hospitaal betaal word.

Nog geld gaan ingesamel word om die gesin se brandstofgeld, Makayla se narkose en bykomende koste vir Maandag se behandeling te dek.

“Ek wil ook graag vir Makayla geld insamel vir nasorg, soos om olies te koop om haar wonde te behandel,” sê Kroese.

Besoek Care 2b Kind se Facebookblad om ’n bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Mariana ·

Mens kan net dankbaar wees dat daar so baie hulp was en dat mense steeds omgee al lyk dit soms nie so nie. Wens vir die klein meisietjie ‘n spoedige en volkome herstel.

Yvonne ·

Ai, mense is oor die algemeen maar nare goed maar stories soos hierdie laat my weer besef dat hier ook engele tussen ons leef! Sterkte aan die onskuldige klein mensie. Mag sy volkome genees.
.

Kokerboom ·

Dankie Vader vir sulke engele in ons samelewing. Hoop sy herstel spoedig.

Dries ·

Wat n wonderlike storie – mense wat mekaar bystaan. Baie dankie aan almal betrokke.

Riaana ·

Dit is ongelooflik mooi om te sien Als in ons Wereld is nie net lelik, dankie vir die pragtig groot hartige Engeltjies in die verhaal, mag julle Almal eendag geseen word vir WAT julle vir die kind gedoen het, daar is nog mooi in die wereld dis nou bewys!!!

Casper ·

God se barmhartigheid het hier geen perke geken nie en het die mense se harte sag gemaak.Dankie vir die spesialis die narkotiseur en hospitaal en Danie vir julle goedhartigheid.Sterkte klein dogtertjie.

JM ·

Ek kan net sê: “Prys die Here!” Seën asseblief almal wat hierdie mense bygestaan het.

Ietsanders ·

Wow! Wat ‘n wonderlike verhaal van omgee en nogmaals omgee. My ma het baie, baie jare gelede 95 steke in haar gesig gekry na ‘n padongeluk. Selfs as klein dogtertjie kon ek dit nie sien nie, so mooi het die wonde herstel. Glo die kindjie sal volkome herstel!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Wys jou net. Daar is nog goeie mense in die wêreld.

Stefan ·

Ek hoop regtig dat sy spoedig en volkome herstel.
Maar kon die Engele maar nie so paar minute eerder ingegryp het nie?
Baie sterkte.

teesee ·

Ons LOOF,EER EN PRYS DIE MAGTIGE WARE GOD YAHWEH-HY IS WONDERBAAR-DANKIE VADER YAHWEH- SOMTYDS IS DAR N LES TE LEER WANNEER DIE VADER SULKE DINGE LAAT GEBEUR- DIE GEVAAR DALK VAN SULKE HONDE AANHOU?KOSBAAR IS YAHWEH SE KINDERS!EN YAHWEH IS ONS GENEESHEER-LOOF EN EER EN PRYS HOM VIR DIT WAT HY VIR JOU GEDOEN HET-PLAAS AL JOU GELOOF IN YAHWEH(die Heilige Naam wat by die brandende bos vir Moses gegee is vir die Volk Israel)

Chantel ·

Hoe wonderlik is die mensdom nie, om in nood iemand anders se noodkreet te hoor. Dr Pienaar, jy is ‘n ster!

Genis ·

Hierdie wonderlikke storie bring sommer trane van vreugde en dankbaarheid… mag almal geseend wees deur onbaatsugtige goeie dade, julle is almal engele

Jakes ·

Wat n wonderlike gebaar van al die dokters en hospitaal wat gehelp het. Daar is nog wonderlike mense in SA. Hoop die hond is verwyder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.