‘Engele’ red kind van verdrinking

Miané Ainslie in die hospitaal. Foto: Verskaf

Miané Ainslie in die hospitaal. Foto: Verskaf

ʼn Groep mans van ʼn sakeonderneming wat op ʼn ouma se angswekkende gille reageer het, het gehelp om die lewe van ʼn dogtertjie van 20 maande te red nadat sy byna in ʼn opblaasswembad verdrink het.

Miané Ainslie van Witbank (eMalahleni) in Mpumalanga was op 9 November oudergewoonte in die sorg van haar ouma, Mariaan, terwyl haar ma, Claudette (32), by die werk was. Claudette is ʼn enkelouer en het sowat twee jaar gelede by haar familie ingetrek.

“My ma was die dag omstreeks 13:00 besig om wasgoed op te hang en Mianétjie het met haar fietsie in die erf gery toe alles in ʼn oogwink verander het,” het Claudette Donderdag aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê hulle vermoed Miané het met haar fietsie na die opblaasswembad gery en wou nuuskierig daarin loer. Sy het vermoedelik op haar fiets geklim om oor die rand te loer toe sy ingeval het.

“Dit was nie eens vyf minute nie. My ma het na haar begin soek en die fietsie by die swembad sien staan. Sy het haar daarin gekry en uit die water gehaal. Die water was nie eens diep nie, sy [Miané] kon daarin staan.”

Mariaan het histeries gegil. Claudette se susterskind, Jay-Cee Herholdt (19), was ook buite doenig en is voor die ongeluk gou die huis in om sy selfoon te laai. Hy het uitgehardloop toe hy Mariaan hoor gil en haar met Miané se lewelose liggaam in haar hande gesien. Hy het dadelik die Langamed-nooddienste ontbied.

Miané en Claudette Ainslie

Miané en Claudette Ainslie

Intussen het ʼn groep werkers by ʼn onderneming wat aan die huis grens, ook die gille gehoor. Hulle het die skokke van ʼn elektriese omheining aangedurf toe hulle oor die hoë grensmuur geklim het om haar te hulp te snel.

Die mans het noodhulp op Miané toegepas totdat paramedici opgedaag en oorgeneem het. Sy is met ʼn ambulans na die hospitaal gehaas. Daar het dr. Wayne Banks vir nagenoeg 20 minute lank onverpoos gewerk om haar weer by te bring. “Al dié engele het bygedra tot die feit dat my kind vandag nog met ons is.”

Miané word sedert die voorval in die neonatale intensiewe-sorgeenheid behandel. “Sy maak by die dag vordering. Sy was aanvanklik onder verdowing, maar dit is intussen gestaak. Haar tekens is goed en daar is niks fout nie. Selfs die dokters is opgewonde oor haar vordering. Ons wag almal nou net dat sy haar ogies oopmaak.”

Pastoor Willie van Staden van die AGS Sela-kerk in Klipfontein gaan bid elke aand vir haar langs haar bedjie en sy reageer deur bietjie te beweeg en haar ogies te flikker.

“God is besig om deur haar te werk. Ons het so baie mense wat saam bid van regoor die wêreld. Ons sien die goed voor ons oë gebeur en ons kan net alle eer aan God gee. Hy werk deur hierdie dokters en ʼn hospitaal wat bereid was om haar op te neem, selfs al het ek nie ʼn mediese fonds nie,” het Claudette gesê. “Die ondersteuning wat ons van ons familie, die gemeenskap, kerk en hospitaal ontvang, is fantasties en dra my deur die moeilike tyd.”

Aangesien Claudette nie ʼn mediese fonds het nie, het die hospitaal hul bankrekening beskikbaar gestel indien mense geld wil skenk om te help met die hoë mediese onkostes. Klik hier om ‘n bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sumari ·

‘n Ongeluk gebeur so vinnig. Dankie aan elkeen wat haar gehelp het die Here sal julle seën. Is bly sy is veilig. Dinge kon so anders uitgedraai het.

Beatrix Stevens ·

N klein ou Engeltjie… gered deur ander Engele… Dankie tog dit so wonderlik om te weet dat sy niks oorgekom het nie… en Dankie tog dat Ouma vinnig opgetree het… en dat daar ander mense in die omtrek was…. wat is nou meer lekkerder vir n kind as water… veral in die warm somer van ons.. maar altyd gevaarlik…. Dankie aan al die Engele… en ook aan die Grootste ENGEL… wat hierdie klein meisie nog n kans gegee het om voluit te lewe…. Word gou beter …..

SANTOINETTE ·

Net dankbaar dat sy nog leef sterkte aan die ouma en dogter. En die grootste dank kom ons Hemelse Vader toe. Ons dink aan julle

Human ·

SD, ek stem 100% saam met jou. Aan mamma en ouma wil ek net sterkte toewens en aan Miané, Liewe Jesus is by jou en sal Sy blommetjie mooi oppas.

Jana ·

Hoekom is die kommentaar van ‘n vrou vroeer verwyder wat gese het dat dit kon vermy geword het? Is die media nie veronderstel om neutraal te wees nie? Plaas die berig dan sonder die opsie om kommentaar te lewer en hou dan so julle webwerf ‘skoon’. Ek sal dan liewer nuus lees op ‘n ander plek waar as ek die geleentheid gebied word om te kan kommentaar lewer dit nie gesensuur word deur een persoon met sy eie geloofstruktuur of waardes nie. Opinies bly opinies! Jammer dat die berig nou die platform moet wees vir my opinie maar dit is al die soveelste keer wat kommentaar van die einste mense wat die tyd neem om julle webwerf te besoek summier verwyder word.

susan ·

Netso. Probeer praag. Ek lees ook liewer News 24. Wat hier gebeur maak dat ek my taal verruil… my kommentaar gaan sekerlik nie geplaas word nie

EK ·

Ek stem saam met jou… my kommentaar word ook op n daaglikse basis verwyder en tog hou ek dit “skoon” ek is so moeg daarvoor. Voel net dit is nie mee die moeite werd om op die webwerf te kom inloer nie. Maroela is ook maar net soos die regering keur ook net goed wat hul dink “reg” is.

Sune van Heerden ·

Dagsê EK

Ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname is in oorleg met regskenners opgestel om ons en ons lesers te beskerm. Kommentaar wat nie aan hierdie bepalings en voorwaardes voldoen nie, word ongelukkig verwyder.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Sune van Heerden ·

Dagsê Jana

Ons bepalings en voorwaardes vir lesersdeelname is in oorleg met regskenners opgestel om ons en ons lesers te beskerm. Kommentaar wat nie aan hierdie bepalings en voorwaardes voldoen nie, word ongelukkig verwyder.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Carina ·

Hoekom negatiewe kommentaar lewer??Wees eerder Dankbaar dat klein Miane gespaar is vir haar familie en haar mamma…Ongelukke gebeur baie gou..En elkeen se reaksie wanneer jy in skok is,is anders…As dit nie vir haar ouma was wat gegil het nie,was daar dalk nie iemand wat kon gehelp het nie..haar reaksie het gehelp om kleintjie se Lewe te red…

Tascha ·

Ek stem saam jou! Ons klein rakker is nou 17 maande oud en deesdae klim en klouter sy op net mooi alles. Ek is seker Ouma-hulle het nie gedink dat Miane op haar fietsie sou klim en so in die swembad sou val nie – die feit dat die swembad so te sê leeg was is ‘n bestuuring van die Here. Daar is eenvoudig nie ‘n manier waarop mens aan alles gaan kan dink wat jou kind moontlik kan skade doen nie daar’s eenvoudig net teveel dinge. Nee wat kom ons wees almal bly dat hierdie pragtige ou dogtertjie gespaar is om vir haar Mamma en Oumie sommer nog baie vreugde te verskaf.

Jaco ·

Ek is baie bly vir haar mamma. Ek en my vrou het dieselfde oorgekom. Die engele was ook daar, maar ons Vader het hulle opdrag gegee om haar terug te neem na Hom toe waar sy nou veilig en gelukkig is. Laat niemand vir ouma verwyt nie. Dit gebeur so vinnig en glo my, ouma voel klaar baie skuldig. Gee haar en mamma en sussie net liefde. Baie sterkte.

alida ·

Mens tree in noodweer op. Elkeen reageer op sy eie manier. My seun (toe 3 jaar oud) het ook in die swembad geval. Dit was winter en my man het met sy pak, horlosie, bril alles netso ingespring en hom uitgehaal. Hy is vandag 40 jaar oud en ‘n polisieman in London. Baie dankbaar daarvoor. Die ouma het gedoen wat sy kon en moes doen, Moenie haar oordeel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.