‘Engele’ staan seuntjie by nadat hy byna verdrink

'n Onlangse foto van Jason Oosthuizen. Foto: Facebook

‘n Onlangse foto van Jason Oosthuizen. Foto: Facebook

Wonderwerk op wonderwerk het reeds gevolg nadat die tweejarige Jason Oosthuizen Sondag byna verdrink het by sy ouerhuis in Rustenburg, Noordwes. Die volgende wonderwerk sal wees as hy Donderdag, op sy derde verjaardag, positief sal reageer wanneer hy uit sy geïnduseerde koma wakker gemaak gaan word.

Jolene Oosthuizen (29), Jason se ma, het Dinsdag vanuit die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg, waar sy en haar man Jaco (33) en ander familie by hom waak, met Maroela Media oor Sondag se tragiese gebeurtenis gepraat.

Oosthuizen het nog die Sondagmiddag haar gesin en kuiergaste met lekker kookkos onthaal. Haar swaer het voordat hulle terug na Johannesburg sou vertrek, gou buite ‘n oproep gaan maak en Oosthuizen en haar vriendin is by die skuifhek uit om hom te gaan roep omdat sy ma wou ry.

Jason het saam met die ander kinders voor die televisie gesit en strokiesprente kyk toe hy uit die huis, waar hulle al meer as ‘n jaar bly, uitgeglip het om op sy driewielfietsie te gaan kry – dieselfde fietsie waarmee hy in die swembad beland het.

“Ons laat die kinders nie by die swembad toe sonder hul swemringe en toesig nie. Hulle weet ook hulle mag nie naby die water gaan nie. Ek vermoed hy wou met sy fietsie ry, maar het hom misgis met die breë wiele naby die swembad se rand, en hy het met sy fietsie in die swembad geval.”

Jason word in die hospitaal behandel.

Jason word in die hospitaal behandel.

Haar swaer, wat ook die kinders se peetpa is, het vroeër die dag geswem en het op Jason afgekom toe hy sy telefoonoproep beëindig het en sy klere by die swembad gaan haal het. Hy het dadelik ingespring om hom uit die water te kry, terwyl hy hard om hulp geroep het.

Dit het alles, na wat vasgestel kan word, binne sewe minute plaasgevind.

“Ek was histeries, ek het gegil toe my swaer vir Jason in sy arms uit die swembad bring. Hy was wit en potblou. Ek het skaars twee kere in sy mondjie geblaas en toe ek op kyk toe staan daar twee engele,” het Oosthuizen vertel.

Haar eerste “engel” is ʼn ene Deon, ʼn buurman wat onlangs langs hulle ingetrek het, en wie sy nog nooit voorheen ontmoet het nie. “Deon werk in die Kongo. Hy was veronderstel om ʼn week gelede daarheen te gaan ná ʼn besoek in Suid-Afrika. Sy reis was egter met ʼn week vertraag en dit was ʼn wonderwerk dat hy Sondag nog daar was. Hy het aan die einde van Februarie ʼn gevorderde noodhulpkursus voltooi, en het by my oorgeneem en noodhulp op Jason toegepas totdat die paramedici opgedaag het.”

Oosthuizen se ander “engel” is Elaine, wat drie huise agter haar woon. Elaine het Oosthuizen se histeriese gille gehoor, en oor bure se heinings geklouter om haar te hulp te snel. Sy het by Jason gesit en vir hom “in tale” gebid terwyl hulle vir ʼn ambulans gewag het.

“Toe die ambulans daar aankom het die paramedici oorgeneem. Jason kon nie asemhaal nie en daar was net ʼn geringe pols. Hy was amper dood. Toe gebeur nog ʼn wonderwerk. Elaine het weer hardop gebid en my kind se hart het begin klop,” het sy bygevoeg.

Die ambulans het Jason na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar hy behandel is terwyl daar reëlings getref is om hom met ʼn helikopter na Garden City te neem. Jason is sowat twee uur nadat hy in die water geval het, in ʼn kritieke toestand met die helikopter daarheen geneem.

Daar het hy ʼn operasie aan sy brein ondergaan om swelling te verminder, en is hy in ʼn geïnduseerde koma geplaas.

“Dit gaan vandag baie beter met hom. Hy is stabiel en verbaas dokters by die dag met sy vordering. Hy is nog steeds in ʼn koma, maar maak bewegings asof hy wil opstaan, en reageer op my stem en druk my hand met sy handjie as ek dit vashou.”

Oosthuizen het gesê Woensdag gaan ʼn groot dag vir hom wees in voorbereiding vir Donderdag, wanneer dokters op sy verjaardag gaan poog om hom stelselmatig uit die koma te ontwaak. “Ons sal môre sien hoe sy liggaam gaan reageer as die medikasie verminder word. As alles volgens plan verloop, sal dokters dan Donderdag begin om hom wakker te maak.”

Sy ouers waak daagliks van 07:30 tot 22:00 by sy bed, terwyl ouboet Justin (4) by sy ouma in Rustenburg bly.

“Al wat ons nou kan doen is bid en glo. Al wat ons van mense kan vra is om saam met ons te bid en te vertrou dat hy volkome sal herstel,” het Jolene gesê. Sy sê die ondersteuning wat hulle van die publiek kry is “ongelooflik” en dat hulle boodskappe van bemoediging van regoor die wêreld kry, “van Jerusalem, Australië en tot vanuit Amerika”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

chris ·

Ons glo en vertrou op die Here se genade dat die kindjie gou sal gesond word.

Annenine ·

Ons Bid saam met die familie vir Jason se volle herstel proses. Glo my die Here se Genade is groot. Ons is ook deur so trauma en my hart is seer saam met die mamma en pappa. Vertrou en Glo. Bly sterk en dra mekaar. Ons Here sê waar daar meer as een saam staan in Gebed sal wonderwerke gebeur.

Liesl ·

Ek het hoendervleis gekry toe ek dit lees. Ons bid vir julle. Mag daai pragtige seuntjie 100% herstel. Ongelukke gebeur so vinnig, maar wonderwerke gebeur ook nog. Baie sterkte aan julle.

rienie ·

Jesus beskerm sy engeltjies wat hy aan ons leen. Liewe ouers ons sal hard bid. Baie sterkte

Magda ·

Julle is in ons gebede. Ons Hemelse Vader vou Jason toe in Sy Magtige arms. Baie Sterkte en glo en vertrou nou

bokkie langeveldt ·

Dankie Jesus dat U by Jason en sy familie staan.Dankie dat U die engele gestuur het om by hom te wees!Amen

Charlene ·

Dis die rede hoekom ek `n swembad eintlik haat! Ons as ouers glo hulle is in die huis waar hulle veilig is maar so klein maar rats en verdwyn so gou…… Dis `n tragiese ongeluk maar tot dus ver het God engel op engel gestuur. Ek glo en vertrou die Here sal vir Jason VOLKOME gesond maak sonder enige probleme of iets. Stekte aan die mamma en pappa dis die seerste seer om jou kleine baba so te sien ek kan my net indink en dit pyn… God sal julle ook dra.

ladybug ·

Skiet my oë vol trane … God het ‘n doel met hierdie kleine mensie se lewe! Staan sterk in die geloof en glo my hy sal oorleef!

Madelein ·

Ek het hoendervleis gekry terwyl ek dit gelees het. Ek bid vir Jason en sy ouers.

Alien ·

Dankie vir wonderwerke.
Ek glo dat daar elke dag in ons lewe wonderwerke gebeur , maar ons besef dit nie eers nie.
As jy en jou gesien veilig terug in julle huis is na die dag, moet ons weet etlike wonderwerke moes gebeur om ons weer bymekaar te bring. Ons is geneig om alles as vanselfsprekend te aanvaar. Dank die Here vanaand dat hy jou familie veilig terug gebring het.

kowie ·

baie sterkte ons in Namibia dink ook aan julle , ons bid vir die klein wonderwerkie

Eliza-beth ·

Watter wonderlike bure het jy nie! Geseënd is hulle op hul pad vorentoe. En vir die ou pragseuntjie wens ek volle herstel toe; ons dink aan julle en bid vir julle!

Elsa ·

Ons se dankie Here vir wat U gedoen het en vir dit wat U nog vir klein Jason gaan doen. Ons dien n God van Wonders. Amen

Linda Du Toit ·

Liewe Jesus is nog nie klaar met hom nie, hy gaan opstaan en groot dinge nog doen. Ons bid saam julle hier uit Duitsland.

Christine ·

Sou graag wou hoor hoe dit nou mt klein Jason gaan asb????

Soekie ·

My hart kry so seer!! Baie baie sterkte aan Jason en sy familie!! Hou ons asseblief op hoogte! Groete uit Zeerust.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.