Engele van Port Elizabeth se veldhospitaal

Terwyl die meeste Suid-Afrikaners ʼn ingeperkte vakansietyd in Desember en Januarie tegemoetgegaan het, het hospitaalpersoneel ekstra hard gewerk onder lae beskermende drag toe die tweede golf van Covid-19 die land getref het.

Een fasiliteit wat op die voorpunt van die gesondheidstryd was en steeds is, is die Rev. Dr. Elizabeth Mamisa Chabula-Nxiweni-veldhospitaal in Port Elizabeth, waar sowat 1 500 beddens in die ou Volkswagen-fabriek gereed staan. Die fasiliteit – die grootste hospitaal in die Oos-Kaap – is noodsaaklik om die druk op provinsiale hospitale te verlig.

Die niewinsgewende organisasie Right to Care is as ondersteunende vennoot betrokke by die bedryf van die hospitaal en het met tegniese raad, die aanvanklike mediese toerusting om die hospitaal op die been te bring en suurstofmasjiene gehelp. Hulle het ook toerusting soos skootrekenaars en roeteerders beskikbaar gestel, vertaal- en kommunikasiedienste vir die Kubaans-Spaanse dokters gebied, opleiding en mentorskap moontlik gemaak en meer as 200 gesondheidswerkers deur St John’s Ambulans Brigade in tuisverpleging laat oplei om met basiese versorging te help. Beskermende toerusting en ontsmettingsmiddels is ook deur Right to Care voorsien.

Theo Ligthelm, rampgeneeskundekonsultant van Right to Care en lid van die nasionale gereedheidsbeplanningsgroep, was ten nouste betrokke by die daarstel en inrig van die veldhospitaal in Port Elizabeth. Hy sê die fasiliteit huisves tans net 56 pasiënte omdat die Oos-Kaap en veral Port Elizabeth besig is om ’n plato te bereik met ʼn moontlike afname in die vooruitsig. Daar is tans gemiddeld agt tot 10 opnames per dag en so 10 tot 12 ontslagte.

Die veldhospitaal se sowat 200 personeellede doen uitstekende werk, maar is egter uiters moeg, gee hy toe.

’n Groot aantal van hierdie personeel is jeugwerkers wat slegs ’n basiese honorarium ontvang om van te leef, maar baie toegewyd aan hul werk is, of hulle nou pasiënte bystaan of die fasiliteit skoon hou.

“Dis ’n groot uitdaging om oorwerkte gesondheidswerkers gemotiveer te hou,” vertel Ligthelm. “Ons wou die personeel op ’n manier beloon vir hul harde werk en het ’n paar van Suid-Afrika se topkitskosrestaurante genader om maaltye aan die moeë Oos-Kaapse gesondheidswerkers te voorsien. Twee restaurante het maaltydbewyse ter waarde van R240 000 geskenk as ’n teken van waardering.”

Een van die gesondheidswerkers hier het verduidelik dat dit baie moeilik is om siek pasiënte in 12 uur lange skofte te versorg, boonop in ’n baie warm gebou met ’n masker en beskermende drag aan. “Om ’n maaltyd om pad huis toe op te laai laat my gewaardeer voel. Dankie dat julle aan ons dink.”

ʼn Pasiënt wat per ambulans na die hospitaal geneem is, vertel dat daar so baie ambulanse op een slag was, dat dit soos ʼn taxistaanplek gelyk het. “Die versorgers het my aan ʼn suurstofmasjien gekoppel en in ʼn rolstoel na die badkamer geneem. Hulle het my met soveel sorg bygestaan dat ek weer gesond daar uit kon stap. Die engele wat by die veldhospitaal werk, verdien al die lof en waardering wat hulle kan kry!”

Ligthelm voeg by dat die gebou bloot ’n dop is, die belangrikste komponent is die personeel wat die pasiënte versorg en veilig laat voel – van die sekuriteitspersoneel by die hek, tot die verpleegsters langs die beddens, die dokters wat die pasiënte behandel, die skoonmakers, die administratiewe personeel en diegene wat die mediese afval verwyder.

Volgens Ligthelm is die tweede golf in Port Elizabeth waarskynlik verby, maar is ʼn derde golf in Februarie of Maart beslis moontlik, aangesien inentings vir die publiek eers laat in die jaar ʼn beduidende impak sal hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.