Engels voortaan amptelike taal van hofrekords

Argieffoto

Hoofregter Mogoeng Mogoeng se aankondiging op 29 September 2017 dat Engels voortaan die enigste amptelike taal van hofrekords in ons hoër howe gaan wees, skep ʼn konstitusionele krisis van die eerste orde, het die Vereninging van Regslui vir Afrikaans (VRA) Maandag in ʼn verklaring gesê.

“Mogoeng en sy kollegas misken die fundamentele beginsels van die skeiding van magte. Hulle het vir hulself onregmatig wetgewende magte, wat slegs deur die nasionale wetgewer uitgeoefen mag word, aangematig,” aldus prof. Koos Malan, grondwetlike regskenner. “Mogoeng het homself ook gediskwalifiseer om as regter op te tree in ʼn regsgeskil voortspruitend uit hierdie gewraakte besluit. Die besluit is ook ʼn voorbeeld van ʼn growwe skending van die Grondwet deur die hoofregter en sommige van sy kollegas, die einste mense wat veronderstel is om as die bewakers van die Grondwet en die oppergesag van die reg op te tree.”

Die hoofregter se aankondiging volg teen die agtergrond van ʼn opdrag wat regter John Hlophe, regterpresident van die Wes-Kaapse hooggeregshof in April vanjaar gegee het waarvolgens slegs Engels voortaan as taal van rekord in die Wes-Kaapse hooggeregshof toegelaat sou word.

“Hlophe se opdrag gee voor om ter nakoming te wees van ʼn besluit wat in 2015 deur hooggeregshofhoofde onder Mogoeng se voorsitterskap geneem is (en wat op 31 Maart 2017 bekragtig is) om Engels as die enigste amptelike taal van hofrekords in Suid-Afrika se hoër howe in te stel. Die aankondiging op 29 September is waarskynlik verhaas deur die ope brief van prominente taalaktiviste van Rhodes-universiteit, die Universiteit van die Wes-Kaap, AfriForum en Cerneels Lourens, wat op 17 September 2017 in City Press gepubliseer is.

Die VRA doen ʼn beroep op die hoofregter om die besluit onmiddellik terug te trek. Die hoofregter word ook versoek om te verduidelik op watter regsgesag – hetsy konstitusioneel of wetgewend – die besluit in die eerste plek geneem is. Die VRA is van mening dat daar inderdaad geen grond vir so ʼn besluit bestaan nie en dat die besluit derhalwe klaarblyklik ultra vires is.

“Die onderduimse manier waarop die besluit geneem is, maak die hoofregter se optrede selfs meer betreurenswaardig. Dit is geneem sonder die geringste sweem van vooraf-raadpleging. Nie eens die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) is geraadpleeg nie,” het Malan verduidelik.

Aangesien die besluit kennelik ongrondwetlik, onredelik en prosedureel onbillik is, is dit ooglopend nie bindend op enige beampte van die hof nie en behoort geen beampte van die hof derhalwe uitvoering daaraan te gee nie. “Die besluit is trouens niks anders nie as ʼn gebrekkige politieke misstap, wat blatant indruis teen etlike bepalings van die Grondwet. Dit is betreurenswaardig dat die hoofregter, wat die toonbeeld van grondwetlike nakoming behoort te wees, inderdaad die leiding neem om inbreuk te maak op die konstitusionele mandaat om die gebruik en status van die land se inheemse tale te bevorder. Die besluit is veral skadelik vir Afrikaans wat ʼn bewese rekord het om met onderskeiding as hoftaal te dien. Dit is moeilik om te ontsnap aan die indruk dat die besluit ʼn voorbedagte set is om die gebruik en status van Afrikaans as regstaal af te gradeer.

“Daarbenewens is dit net so skadelik vir die miljoene Afrikataalsprekers wat die vooruitsig ontsê word om toegang te hê tot geregtigheid in hul eie tale en om die regsregister van hul eie tale te ontwikkel.”

Die VRA is van mening dat die portefeuljekomitee vir justisie die hoofregter dringend moet ontbied om sy besluit te verduidelik.

Die VRA het ʼn litigasiekomitee tot stand gebring om die ongrondwetlike gevolge van dié aanvegbare besluit te ondersoek. “Dit is duidelik dat die hoofregter homself gediskwalifiseer het om voor te sit in ʼn hof waarin juis die gewraakte besluit wat deur hom en sommige van sy kollegas geneem is, verhoor word. Daar moet dus stappe gedoen word om ʼn ad hoc-regbank van afgetrede regters aan te wys wat die saak kan bereg.

“Wat die hoofregter eintlik vanuit die staanspoor moes doen, was om ʼn doeltreffende stelsel te skep wat die gebruik van die onderskeie amptelike tale op so ʼn wyse moontlik kon maak dat die beste belang van die publiek daardeur gedien word (ʼn verantwoordelikheid wat hy ingevolge artikel 8 van die Wet op Hoër Howe, 10 van 2013, moes nakom). Dit is duidelik dat die hoofregter nagelaat het om daardie verpligting na te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Eish ·

Ek dink eerlikwaar nie dat die VRA gaan hond haaraf maak in die aangeleentheid nie. Diè boelie vat nie nonsens van kuikens nie, wetgewing of te not. Jul gaan jul tyd en geld mors. Laat ons liewer dankbaar wees dit is nie n ander taal nie. Ons het lankal gesien die grondwet, is slegs n bemarkingsfoefie wat nie realiseer nie. Die helhool vat jy voetstoots, geen waarborge nie, punt.

JC ·

Ons SAL NIE GAAN LE NIE, ons sal nie opgee nie!!
Ons sal aanhou veg vir wat reg en billlik is!

André Badenhorst ·

Eish, met ‘n verloormentaliteit kan niemand wen nie.

Eish ·

Moenie dat my ervaring jul beïnvloed nie. Gaan daarvoor!
Onlangse artikels wil dit hè dat n grondwet selde 20 jaar haal. Ons is in jaar 23.

Ouma ·

Ne!! Se fidlestick!!! Ons het ook monde gekry om ons sake te beveg! Waar kom die oompie vandaan dat hy sooo kontant probeer wees!!!

Leahim ·

Totaal onaanvaarbaar hulle het met hierdie diskriminasie begin by die polisiestasies nou vat hulle dit howe toe wat is volgende die staats skole stop dit onmiddellik.

JC ·

Presies, dit GAAN NIE hier stop nie. Mogoeng en sy politieke meesters het ten doel die gehele transformasie van SA; in lyn met hul Sosiaal Marxistiese doelwitte. Stop hom hier! Die ironie is dat hy dit probeer kleed in ‘n valse mantel van Respektabelheid, vanwee sy “posisie” , maar wat hy besig is om te doen is juis om SY MAGTE VER TE oortref en te gebruik vir politieke doeleindes, maar ons Afrikaners het hom klaar gesien. Nou weet ek waarom Zuma hom tot die GW bevorder het. Kwansuis is Mogoeng daar om grondwetlike inbrake te stop en ‘n prop daarvoor te wees. Nee glad nie, hy is kop- in- een- mus met die sosiaal marxistiese en marxistiese doeltellings van sy politieke ANC vriende. Maar ons is gewaarsku, Professor Malan het ons gewaarsku, so ons moet gereed wees vir die volgende geveg. Litigasie. (Intussen eet die skape van die trop(liggelowige en liberale akademici, en “verligte” persone Mogeong se woorde soos soetkoek op, dit is eintlik lagwekkend.) Mogoeng, SOOS DUIDEKLIK NOU BEWYS IS, IS GEEN beskermheer van die regte en waardes soos vervat in die “heilige” GW nie. Die Gw is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie, daar is duidelik absoluut, met ‘n korrupte parlement, regbank en uitvoerende mag; geen beskerming daarin nie!!

JC ·

Dankie julle, kap vir Mogoeng, het hom al sien kom; en die onregmatige optrede wat daarop sou volg; na sy gewraakte uitspraak in die naambordsaak in Pretoria. SO; dit het uiteindelik gebeur, bewyse van ons mislukte staat metmoreel bankrotpersone wat NIE in hul posisies hoortnie, en hul status en posisie vir politiese doeleindes probeer gebruik, met die ergste aanklag teen ‘n “regter” moontlik, naamlikdat sy besluiten aksies ONGRONDWETLIK verklaarword, waar issy onpartydigheid? En om tedink hysal dalk nog die saak teen die universiteite moet aanhoor, gee my koue rillings byvoorbaat!! Geen onbevooroordeeldheid kan daaruit verwag wordnie. Mogoeng is HEELTEMAL ongeskik vir die pos, EN NIKS ANDERS AS ‘N POLITIEKE SPEELDING IN DIE HANDE VAN SY POLITIEKE OPDRAGGEWERS NIE.
Al wat Mogoeng eintlik doen, is om die vervreemding van Afrikaners, en hulstrewe na afskeiding en selfbeskikking, deur sy ooglopend ongrondwetlik en ultra vires optrede, te verhaas.
Intussen raai ek enige regspraktisyn met ‘n gewete en ‘n sin vir regverdigeheid aan om die ongrondwetlike besluit te ignoreer, en aan te gaan soos gewoonlik.
Die taalkwessie gaan die land nog skeur, en dit is dan ook goed so, wantdan bewys ditbloot die onvolhoubaarheid vanhierdie veels TE heterogene en verdeelde bedeling.
Pleks dat alle tale hul grondwetlik gefundeerde spasie gegee wordom te gedy en natuurlik te groei, maak die swartes nou ‘n politieke kwessie daarvan soos gewoonlik en soos hulle aard maar is, en dit; is ONTOELAATBAAR!!
Ek sal nie my geliefde taal opgee nie, ek sal nie, ek weier!
Afrikaans leef!!

Johannes Meintjes ·

Wys jou nou net! SA toe nog altyd ‘n kolonie van GB se anneksasie en Smuts se VN, – ten spyte van die verdoeselende skyngevegte rondom Mev. Zille en ander se koppe. Geen wonder die Afrikaner gesprekke rondom selfbestuur ‘n selfbeskikking is ‘n pyn in die stert vir nuwe ordes se internasionale stoomroller benaderings nie. Pesident Bush van die VSA het als al in 1991 verduidelik terwyl die Pous sy kant ook gereeld bring.

marous ·

Eenvoudig …dring aan op ‘n tolk en maak hulle sooibrand kry elke dag.

Andre ·

Bespreek netnou die kwessie met ‘n regsgeleerde pêl van my wat gereeld in ‘n paar provinsies in die howe verskyn, en hy sê – a. Engels is al lankal die voertaal in die howe, 95% van landdroste kan nie Afrikaans praat nie; Mogoeng het dit nou slegs geformaliseer b. Die manne wat so vir Afrikaans veg, veral van die VRA ouens, praat lustig Engels in die howe (dit gaan oor geld, sien) c. Daai manne stel ook personeel in hul kantore aan of neem vennote in wat nie Afrikaans kan praat nie (om aan BEE te voldoen, sien – beteken meer geld). So dit lyk of geld praat, eerder as die “behoud” van Afrikaans. Koos Malan is al jare lank besig om te raas en niks uit te rig nie, hy is te lig in die broek vir hierdie tipe geveg wat reeds te laat is. En sê my vriend, ‘n Afrikaner, dit is werklik meer prakties om Engels as voertaal te hê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.