Engelse vry glo (weer) na Kirsten

Gary Kirsten. Foto: Ayanda Ndamane African News Agency (ANA).

ʼn Afrigterspos wink glo vir die Suid-Afrikaanse krieketlegende Gary Kirsten.

As speler het Kirsten sy stempel danksy groot beurte van 188* (in ’n Wêreldbeker-wedstryd) en 275 (in ’n toets teen Engeland) op die spel afgedruk.

As afrigter het hy later sukses saam met Indië (Wêreldbeker-wenners) en Suid-Afrika (die voorste toetskrieketspan ter wêreld) gesmaak.

Nou berig The Telegraph dat Engeland ook na hom vry.

Ná die Bleekbene se rampspoedige vertoning in die onlangse Reeks om die As teen Australië het Chris Silverwood die trekpas as afrigter gekry, terwyl Rob Key ook onlangs as die nuwe direkteur van krieket aangewys is.

Dit is juis Key se aanstelling wat sorg dat die riemtelegramme oor Kirsten se moontlike aanstelling weer momentum kry.

Die voormalige Engelse toetskolwer glo dat verskillende afrigters vir die toets- en witbalkrieketspanne die pad vorentoe is en dit pas Kirsten soos ’n handskoen: Hy het al juis vantevore aangedui dat nie gretig is om in al drie formate van die spel die afrigtershoed te dra nie.

“Gary sal waarskynlik ’n goeie keuse as hoofafrigter wees,” het Key in sy dae as krieketkommentator gesê.

“Hy was glad nie ’n slegte speler nie en hy het oorgenoeg internasionale ervaring; soos wat sy suksesvolle vennootskap met MS Dhoni (voormalige Indiese kaptein) getuig.”

Volgens The Guardian is Australië se Simon Katich ook een van die gunstelinge om die afrigtersleisels vas te vat, maar Justin Langer is glo uit die wedloop.

Key wil vir Ben Stokes as Engeland se nuwe kaptein aanstel en daar word gevrees dat hy nie goed met Langer sal saamwerk nie.

Die Aussie moes juis in Februarie vir sy “hardebaard-benadering tot afrigting” om verskoning vra.

  • Kirsten het al vantevore vir die Engeland-pos aansoek gedoen, maar Ashleigh Giles – die voormalige direkteur van krieket – het toe op Silverwood besluit.
  • Nóg ’n voormalige Protea-afrigter, Graham Ford, se naam kan ook op die Engeland-kortlys verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

‘n Legendariese krieket speler en uitmuntende afrigter. Jammer dat sa hom nie kan gebruik nie.