Engelse wiskunde g’n uitdaging vir dié Afrikaanse slimkop

dannielle-kleyn-01

‘n Mens gaan nie maklik vir Danielle Kleyn vasvra in wiskunde nie, of jy dit nou in Engels of Afrikaans doen. Foto: Verskaf.

Die Wes-Kaapse provinsie spog met een van die beste wiskundige breine op die vasteland.

Danielle Kleyn (17) is pas vir die tweede agtereenvolgende jaar as die beste vroulike deelnemer in die Pan-Afrika Wiskunde-olimpiade bekroon. Sy het ook die vierde algehele plek behaal in dié olimpiade wat van 31 Maart tot 7 April in Muizenberg plaasgevind het.

ʼn Totaal van 62 deelnemers uit 14 Afrika-lande, onder meer, Botswana, Nigerië en Zimbabwe, neem aan dié wiskunde-olimpiade deel. Deelnemers moet jonger as 20 wees en lê twee vraestelle af wat handel oor algebra, meetkunde, waarskynlikheid en numeriese teorie.

Kleyn, ʼn Afrikaanse gr. 11-leerder aan die Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes in die Wes-Kaap, sê dit skrik haar glad nie af dat sy dié vraestelle telkens in Engels, haar tweede taal, moet aflê nie.

“Boonop handel die vraestelle nie oor die soort wiskunde wat ʼn mens op skool doen nie. Dit is veel moeiliker, maar ek het goed voorberei deur ou vraestelle deur te werk en oefenkampe by te woon.

Kleyn sê sy het nog altyd die Afrikaanse klasse aan die skool bygewoon.

“In die hoërskool word ons klasse egter in Afrikaans en Engels aangebied. Ek maak ook dikwels notas in Engels en die oefenkampe wat ek bygewoon, het as voorbereiding vir die Olimpiade wat in Engels was, gedien, so dit was nie vir my vreemd om die vraestel in dié taal te skryf nie.”

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê Kleyn se puik prestasie is ’n bewys daarvan dat Afrikaanse leerders in staat is tot uitnemende akademiese prestasies in ander tale, mits die grondslag behoorlik in hul moedertaal vasgelê is.

“Moedertaalonderrig, sowel as die goeiegehalte-onderrig in Afrikaanse skole, stel Afrikaanse leerders in staat om hoë hoogtes in Engels te bereik. Dit is dus nie nodig om ons kinders in Engelse skole te sit, omdat ons dink dit sal hulle ’n voorsprong in die werkplek of op universiteit gee nie,” voeg Brink by.

Kleyn skryf haar goeie prestasie toe aan bekwame onderwysers en baie oefening.

“In die weke voor die kompetisie het ek soms tot 12 uur per dag wiskunde gedoen.”

Sy sê dit is belangrik om die prosesse in wiskunde te verstaan en te weet hoekom ’n probleem volgens ‘n bepaalde manier opgelos word, eerder as om die stappe meganies uit jou kop te leer.

“Oefening is baie belangrik in Wiskunde. Hoe meer jy oefen, hoe beter sal jy die werk verstaan,” sê Kleyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Stormrider ·

So trots op jou meisiekind! Jy gaan hoë hoogtes bereik!

Sonja Swart ·

Trots op jou. Jy hou Somerset-Wes en beide jou skole (Laerskool De Hoop s’n ook) se naam hoog.

Elmer Swanepoel ·

Nee Zumie, dit is Parel-vallei. DiePaarl is so ‘n entjie hiervandaan.

Hentie Smit ·

Sy is nie so oulik as wat sy dink nie, sy is baie ouliker. Baie geluk

Henrietta Klaasing ·

Welgedaan!!!! ” … soms 12 uur per dag wiskunde gedoen…” DIT wil gedoen wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.