Enige Sanral-boete sal onwettig wees, sê VF Plus

Argieffoto

Argieffoto

Dreigemente van organisasies wat Sanral se e-tolgeld moet invorder oor die moontlike vervolging van nie-betalers, kan in Sanral se gesig ontplof, het die VF Plus Donderdag gesê.

“Die VF Plus het reeds bewys dat die meetinstrumente wat in die e-tolstelsel gebruik word, nie gesertifiseer is soos die wet vereis nie,” het Anton Alberts, woordvoerder van die party, gesê.

Alberts het hom aangesluit by OUTA deur daarop te wys dat ʼn enkele mislukte poging tot vervolging in die hof, Sanral se totale kaartehuis in duie kan laat stort aangesien die presedent dan geskep sal wees.

Hy het bygevoeg die VF Plus het Sanral reeds daarop gewys dat hy nie aan die vereistes van die Wetlike Metrologiewet (Wet 9 van 2014) voldoen nie.

Die Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies (NRVS) het aan die VF Plus bevestig dat die e-tol-toerusting nooit gesertifiseer is soos die wet vereis nie. Die NRVS het ook bevestig dat daar nooit aansoek gedoen is om sertifisering nie.

“Dit is daarom duidelik dat enige poging van Sanral om geld in te vorder, bloot op grond hiervan onwettig sal wees,” het hy verduidelik. “Dit is benewens die feit dat die totale stelsel volgens die VF Plus ongrondwetlik is. Die VF Plus het op aanbeveling van die Verbruikerskommissie ʼn afspraak vir 3 Maart vanjaar met Sanral gemaak om die onwettigheid van die meetinstrumente met hulle te bespreek.”

Alberts het gesê indien die party nie bevredigende antwoorde kry nie, sal hy voortgaan met stappe teen Sanral ingevolge die Wet op Verbruikersbesteding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Chris W ·

Ek is trots of julle VF+ !Ek woon nou wel nie naby die e-tol gebied nie maar ondersteun julle heelhartig in julle geveg teen Sanral!Mag Sanral EN e-tol “val”.

GES ·

Dit is nogal ‘n uitdaging om in SA te woon. Selfs as ‘n mens gaan slaap moet die een oog oop wees.

Mick ·

Na vier e-posse aan Sanral is nog niks wyser nie. Hulle ook nie. Ek meld dat ek geen rekeninge ontvang nie en wil by hulle weet of dit is omdat ek met vervalste nommerplate rondry op die snelweg? My nuwe nommerplaat stem ooreen met die van die Burgermeester se ampsmotor. Sover word ek “Professor” of “U Edele” genoem in hulle terugvoer, maar steeds kry ek geen rekening of uitstaande balans nie. Daar is ook ‘n magdom vorms om in te vul, maar ek het nou regtig nie tyd om te mors met die invul daarvan nie. Ek stuur maar e-posse, dit sorg vir goeie vermaak as mens niks ernstig het om te doen nie. Nog ‘n ding, ek bly nie eens in Gauteng nie.

Gideon Roos ·

Jy moet daardie e-posse beskikbaar maak. Ek is seker ‘n draaiboekskrywer sal ‘n wonderlike komedie daaroor kan skryf!

Ahooy ·

Alle mense wat tans wel E tol betaal kan dus nou maar ophou om te betaal.
Na n jaar en n half is daar steeds geen uitklaring oor die kwessie nie.
Sanral moet nou maar n paar mense aanskryf en voor die hof daag om die geldigheid te toets.
Waarvoor wag hulle??? WAT IS FOUT MET ONS REGSTELSEL??? Is daar geen een wat kan uitsluitsel gee nie?? Stap een: Hof toe – beslissing . Stap twee: Hoëgeregshof toe – ander beslissing. Stap drie ; konstitunele hof toe( na ses jaar) Nog n ander beslissing.
BELAGLIK!!!!!!!

antjie ·

Ha ha..ek het nie eers n motor nie, en was n goeie 10 jaar gelede in pta…maar kry n sms wat vir my se ek skuld sanral R687,,, en indien ek R287 betaal sal die res r400 afgeskryf word….ha ha rerig….

AB ·

Wie gaan betaal vir die paaie as die gebruiker van die paaie nie daarvoor betaal nie? Die landswye belastingbetaler? Ook diegene elders in die land, wat nie die paaie gebruik nie? Of deur ‘n petrolheffing op diegene, ook elders in die land, wat nie die paaie gebruik nie? Ek wonder net… Ek bly in die Kaap, gaan ek ook vir Gauteng se paaie betaal?

Juvs ·

Hello amal, asb sien die volgende nie as n aanval op iets of iemand nie, net n paar stats. Die groot ding is, ons as n land het klaar (veronderstel) op petrol heffings betaal vir die paaie. Die ander ding is as die land moet help om Gauteng te paaie moet betaal het ek nie n pyn nie om die eenvoudige rede dat meer as +/-35% van totale landswye belasting kom van Gauteng af waarvan daar omtrent net +/- 15% weer terug in geploeg word van die fiskus af. My gevolgtrekking is dat as Gauteng ander provinsies ondersteun in terme van belasting geld kan die res van die land Gauteng ondersteun in n matige petrol verhoging. As dit die geval was toe die opgraderings gedoen was sou die verhooging sleg by 5-7c per liter gewees het wat R3-R5 op n gemiddelde tenk sou wees. Ek wil ook byvoeg die selfde geld vir die Wes-Kaap, aangesien die Wes-Kaap ongeveer 30% van die ander totale belasting het. Sal ek bereid gewees het om n bietjie meer te betaal vir petrol om julle paaie te opgradeer. Die ou spreek woord werk hier, die een hand was die ander hand.

Koekie ·

Vanoggend op een van ons Vaaldriehoek stasies het hul gesê Sanral is nou besig met hierdie area en daar is ter duisende rekeninge uitstaande. Wonder wie het hul hier wat die invordering moet doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.