Enigste oorlewende vra na pa, sussie ná ongeluk

Die tienjarige Rae Braun (Foto: Facebook)

Dit gaan onder die omstandighede beter met die tienjarige Rae Braun – die enigste oorlewende van ’n motorongeluk wat die afgelope naweek haar pa en ousus geëis het. Dít sowat ’n maand ná haar ma se dood.

Rae het steeds bloeding op die brein, maar dit lyk nie in dié stadium of sy ’n breinoperasie sal moet ondergaan soos daar kort ná die ongeluk verwag is nie.

“Sy is wakker. Sy gesels en sy kan haar tone beweeg. Haar lewensfunksies lyk ook alles baie goed,” vertel Collette Daraujo, ’n familielid, Maandagoggend.

Rae se dokters het egter aanbeveel dat die familie nog nie die nuus van haar pa en sussie se dood met haar deel nie.

“Sy was baie bly om haar ouma te sien. Ek dink wel sy vermoed iets. Sy vra heeltyd na hulle,” vertel Daraujo.

Rae Braun en haar ousus, Alexus. (Foto: Facebook)

Clint Braun (38) en sy dogter Alexus (12) is Vrydag dood toe hulle en Rae in ’n ernstige motorongeluk op pad skool toe in Uvongo aan die KwaZulu-Natalse Suidkus betrokke was.

Maroela Media het vroeër berig Braun was die betrokke oggend op pad om sy twee dogters by die skool te gaan aflaai toe hul gesinsmotor teen ’n boom langs die R620 gebots het. Braun het na bewering weens water in die pad beheer oor die motor verloor. Die motor het die pad verlaat en teen die boom gebots.

Braun en Alexus was by paramedici se aankoms nog in die wrak van die gesinsmotor vasgekeer. Hulle is later uit die wrak bevry maar hul toestand het versleg en albei is op die toneel dood verklaar.

Rae is ná die ongeluk met onder meer lies- en breinbeserings na die Port Shepstone- provinsiale hospitaal gehaas waar sy tans nog behandel word.

Die familie doen intussen alles in hul vermoë om geld in te samel sodat Rae na ’n private hospitaal oorgeplaas kan word.

Klik hier om meer te wete te kom oor Rae se toestand en die geldinsameling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tanya ·

Agh my hartjie breek vir jou my kind…. 3 belangrikste mense in jou lewe sommer net so weggeruk! Baie sterkte aan die familie, om die nuus te breek gaan ongelooflik moeilik wees.

KatjieDeKat ·

Ai nee die arme kind!! Sommige mense word darem maar n bitter hand gedeel in hierdie lewe. Ontsettend hartseer.

Mariaan ·

Ag nee..ek verstaan nie die lewe..meer hartseer en verdriet as plesier! Dis wraggies n uitdaging om positief te bly terwyl SO baie mense soveel hartseer het…die arme kind..en ouma….ai

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.