Enkele gil, toe klap skoot wat lewe eis

Riaan Barnard (52).

ʼn Vrou van Germiston is platgeslaan nadat twee gewapende rowers haar lewensmaat gisteraand in ʼn huisrooftog oënskynlik summier doodgeskiet het.

Riaan Barnard (52), ʼn IT-werker, het Dinsdag omstreeks 21:00 op die stoep gesit en rook toe twee rowers hom daar oorval het, het Christa Jacobs, sy skoonma, gesê. Haar dogter, Esmé Swanepoel (49), was in die huis toe die rowers toegeslaan het.

“Esmé was in die kamer. Ons weet nie wat presies gebeur het nie, maar Esmé het gehoor hoe skreeu hy [Riaan] ‘néé’ en toe hoor sy ʼn skoot.”

Die twee mans is die huis binne waar hulle Swanepoel gedreig en haar selfoon en ʼn televisiestel geëis het. Hulle het met dié toestelle, asook ʼn tablet wat Barnard buite op die stoep by hom gehad het, oor ʼn muur gevlug.

Swanepoel het op ʼn swaar gewonde Barnard buite die huis afgekom. Hy is in die buik getref. Daar is op die toneel met noodhulp begin, waarna Barnard inderhaas na die Unie-hospitaal in Alberton geneem is. Hy is vanoggend kort ná 01:00 dood nadat die koeël enorme inwendige skade aangerig het.

Swanepoel is nie tydens die aanval beseer nie. “Sy is stukkend, ja. Maar ons is oukei,” het Jacobs gesê.

Barnard en Swanepoel, ʼn rekenmeester, was nagenoeg tien jaar saam. Barnard het ook twee volwasse kinders uit ʼn vorige verhouding. Hulle was by hulle pa in die hospitaal kort voor sy dood.

Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum, veiligheidsmaatskappye en die polisie was kort ná die voorval op die toneel, maar daar was geen spoor van die verdagtes nie.

“ʼn Tablet, ʼn selfoon en ʼn televisiestel. En ʼn lewe. Dís wat hulle gevat het.

“My kind is stukkend. Dit is vir my só hartseer dat ʼn lewe so min werd is,” het Jacobs gesê.

Hulle het vanoggend Barnard se liggaam gaan uitken. “Dit was nie ʼn mooi gesig nie. Ons is moeg, ons het heelnag lank nie ʼn oog toegemaak nie,” het Jacobs gesê.

“Hy was ʼn stillerige man, ʼn goeie mens en hy was baie goed vir my kind.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die polisie gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Botterblom

Deel van ons elke dag se nuus… niks nuut nie… As mens net ‘n antwoord kon kry wat om te doen. Ons staan magteloos eenkant, lees hartseer berigte, was self al deel van rowers en ook al vele kere beroof. Jy klim uit jou kar by die huis en probeer om jou kyk. Jy sien iemand verby loop wat loer in jou rigting en probeer die deur vinniger oopsluit en sluit agter jou toe. Mens voel onveilig en bang. Wil nie alleen buite plante natmaak of sit en boek lees nie. Die rowers is gevoelloos en sommer kommer of vrees.… Lees meer »

Thinus

En dan wil hulle ons wapens wegvat sodat hierdie moordenaars geen teenstand kan he nie? Nie ‘n manier nie en aan die mense wat hul wapens ingehandig het moet maar sterk staan, want julle het oorgegee.

Nuus

Waarom haal hierdie tipe nuus wat nou alledaags voorkom nie die sauk nuus nie, maar ‘n persoon iewers oorsee wat sy toon gestamp het wel?

Amnesty

Geagte Mnr Cele, so bly om te sien hierdie makkers het hulle wapens kom inhandig. Myne sal jy nie sien nie.

Magda

It is time that we do the same.