Enkele stemlokale ure later stééds nie oop

Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte van die OVK, spreek die media toe by die nasionale uitslagsentrum. (Foto: Twitter via @GovernmentZA)

Altesaam 17 stemlokale landwyd was teen 11:30 Woensdagoggend nog nie oop nie terwyl die meerderheid van stemlokale reeds teen 07:00 oop was, het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gesê.

Volgens Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte, is 14 van dié 17 stemlokale in KwaZulu-Natal geleë.

Die leierskap van die OVK het vanmiddag die media by die nasionale uitslagsentrum in Pretoria toegespreek waartydens Mamabolo die gehoor daarvan verseker het dat die oorblywende 17 stemlokale wel deur die loop van die dag sal oopmaak. “Soos ek hier praat is daar sommige van dié lokale wat klaar oopgemaak het,” het hy gesê.

Mamabolo het gesê dit moet egter in gedagte gehou word dat 17 stemlokale maar ’n druppel in die emmer is in vergelyking met die totale aantal stemlokale landwyd. “Ek wil hê ons moet perspektief behou. As 17 stemlokale uit 22 924 stemlokale nie betyds oopgemaak het nie, is dit maar ’n geringe getal in die groter prentjie. Ek sê nié dat die stemlokale nie saak maak nie, maar ʼn mens moet dit in gedagte hou.”

Mamabolo het gesê die feit staan egter soos ’n paal bo water dat kiesers wat by dié stemlokale geregistreer is, wel vandag moet stem. “Ons sal seker maak dat hulle die geleentheid gegun word om te stem.”

Die OVK sal dus op ’n latere stadium besluit of die stemlokale wat nie betyds oopgemaak het nie later as 21:00 gaan oopbly om te verseker dat kiesers in hierdie gebiede kans kry om te stem in die belang van ’n vry en regverdige verkiesing.

Mamabolo het verder gesê die OVK het hartseer nuus ontvang van ’n bejaarde kieser wat vanoggend in die ry by ’n stemlokaal in Elandspoort in Pretoria inmekaargesak het. Dié kieser het by die stemlokaal gesterf. Die oorsaak van die kieser se dood is nie bekend nie.

’n Kiesbeampte is ook deur die loop van Dinsdagaand in die Oos-Kaap oorlede weens siekte. Die OVK het sy medelye met die familie van die twee oorledenes betoon.

Hoewel die stemproses tot dusver relatief vlot verloop het, het die OVK wel klagtes ontvang van sekere kiesers wat daarin kon slaag om die ink van hulle vingers te verwyder wat as voorsorgmaatreël aandui dat ’n kieser reeds gestem het.

(Foto: Maroela Media)

Volgens Mamabolo het dié kiesers die integriteit van die stemproses in gedrang gebring. Hy het kiesers gemaan dat dit onwettig is om dié ink van jou vinger te verwyder en dat dié misdaad strafbaar is. Kiesers kan tot tien jaar tronkstraf opgelê word indien hulle hulself hieraan skuldig maak.

In ander gevalle het kiesers by sekere stemlokale slegs een van twee stembriewe ontvang. Sommige van die stembriewe was ook nie gestempel nie. Die OVK stel ondersoek na hierdie voorvalle in.

Mamabolo het gesê kiespersoneel by stemlokale is reeds verlede jaar opgelei om die stemproses so glad as moontlik te laat verloop en dat aandag aan probleme van die aard gegee sal word.

Hoewel betogings by sekere stemlokale aangemeld is, het dit tot dusver geen invloed op die stemproses nie, het Mamabolo die media verseker.

Ander uitdagings soos waar kiesbeamptes nie betyds opgedaag het nie en stemmateriaal laat by stemlokale aangekom het, was reeds teen 09:00 opgeklaar.

Mamabolo het gesê die meerderheid kiesers het soos verwag deur die loop van die oggend hul stemme uitgebring. Hy het gesê dat ’n totaal van 16 miljoen stembriewe vandag beskikbaar gestel is en geregistreerde kiesers wat nog nie gestem het nie, aangemoedig om hul kruisie voor 21:00 vanaand te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lynette ·

As daar meer as 26 miljoen, amper27 miljoen, geregistreerdes is, hoekom word slegs 16 miljoen stem briewe besikbaar gestel? Is die ander 10 mijoen burgers oorsee of die oud en sieklikes wat spesiale stemme kon uitbring?

jaco ·

klomp stemlokale in die kaapse middestad en direkte omliggende woonbuurte ook laat oop of daars te min stembriewe. dis mos DA wereld daardie. so dis nou seker n poging om te keer dat die DA meer stemme kry.
dit bewys dat die OVK, wie se salaris in elk geval deur die ANC-regering betaal word, die ANC gedienstig is. Maar nes die Zimbabwe Electoral Commission. En ons weet almal hoe kook hulle verkiesingsuitslae.
Ek gee SA 2 jaar en dit gaan nes Zimbabwe lyk.

Sean ·

Onafhanklik se voet man Die anc run die ovk Sal like om hulle slalrisse te sien wat deur anc regering betaal word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.